Net in droomland
Net in droomland
Wanneer die son sy vere duvet oor sy kop trek
en die maan soos ‘n silver lugballon lui-lui
teen asemrowende indigo verby beweeg
Wanneer neonligte verdoof en duisend
spikkels blink in die hemelruim spog
Wanneer die paddakoor lostrek
deur kriek se vlerk viool begelei
raak jou ooglede swaar en jou asemhaling
reëlmatig in salige harmonie
Met alles vredevol verdoof merk jy vaagweg, die verhoog,
die gordyn rol oop, en die kollig val op hóm;
Die man met die swaelstertpak
wat op die verhoog staan.
Wanneer jy glimlag begin hy swierig dans,
Ligvoets, grasieus dan, bonsend jolig
skop hy dowwe stof bolle uit die plankvloer op.
die man op die verhoog streel die gul note, saksofoon solo
Jy raak meegesleur,
jy voel hoe jy uit jou sitplek nader dryf,
Hy sien jou raak en gryp jou hand
hy trek jou tot op die verhoog
Dis hier waar alles soos ‘n mallemeule gebeur,
warrelwind dans, giggellag.
Hy hou sjarmant sy sambreel en haak by jou in
terwyl jul lugvoets van lamplig na lamplig hardloop,
druppels wat opspat en flonker
soos vuurvliegies in die lamplig.
Hy soen jou in die reën.
Hy vou sy swael vere om jou kaal arms,
en jy hoor sy hart bokspring klop.
Saam kyk jul hoe wolke wegskuif en blink liggies verskyn,
hoe die maan-ballon al verder wegdryf.
En stadig sak die gordyn.
Die man op die verhoog, het verdwyn.
Jy is alleen in die teaterstoel, alleen die gehoor
en op jou kussing lê; ‘n blinkswart swael veer.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2022 – Liefde (OOP) projek