Oggendgedig (Marakele* ~ 10 Julie 2016)
Kom sit vir ‘n oomblik hier langs my
dan kyk ons na die veld en gras
wat groei tussen groen doringbome
hul stamme nog in donker gekwas.
Die skemer is aan die verby gaan
dis die sterwensuur van die nag
sy vaarwelsgeskenk, ‘n ontwaking ~
die geboorte van ‘n heel nuwe dag
waarin wild’seringbome se krone
omtower tot goud in die gloed
van die eerste môre-son strale
wat met deernis die aarde kom groet.
Die kwêvoël wis lank reeds dis oggend
‘n vaalveervolstruis soek kos in die sand
en Kransberg se hang skakeer violet
wyl skadu’s verdaag en wyk oor die rant.
*
Kom sit neffens my . . . vir ‘n wyle
waar die daeraad tot teenaan ons vly
en wanneer elke donker verby is
sal daar weer vrede alom ons gedy.
*Marakele ~ a place of sanctuary
© C. Shaw
10 Julie 2016
7 Kommentare
-
Anze
Sjoe Carma ... jy beskryf my Bosveld ongelooflik perfek en mooi!!
-
Toom
O ja, my hart verlang na so 'n toevlug. Mooi, dankie. GvT
-
Ronel Janse van Vuuren
Pragtig. 'n Wonderlike oomblik van ontvlugting :-)
-
Palet
Bosveld bly darm maar mooi...pragtig geskryf
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Pragtige werk soos net Carma kan.