
Oudag se Onthou
Daar is liefde op jou lippe
as jy my sag kom soen
en die kyk in jou oë
is die vuur wat smeul
in die smeltkroes van verlange…
jou asem in my nek
is die wind onder my vleuels
wat my dra oor berge
en die hoogste pieke
tot ons saam in ‘n draaikolk
tuimelval en skaterlag
op die glybaan van ons liefde
as jy dan sag kom nestel
met jou kop teen my bors
en jou arm om my lyf
terwyl jou hare saggies
nesmaak in my nek
en jou geur my bedwelm
dan sluit ek hierdie oomblik
in my skatkis weg
waar elke oomblik saam met jou
die vreugdes word
van my oudag se onthou
© 30/11/2018 Anton Bosch
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.