Jongste aktiwiteit:

Wit tafeldoek en bont servet

een oggend
wyl die duiwe koer
die son
net-net oor die rante loer
berei’k vir ons ‘n feesmaal
onder bome
in my tuin

drapeer ‘n wit doek oor die tafelblad
stryk dit met my palms plat
rangskik blomme in ‘n blompot
en ryg servette deur ‘n ring

(wit tafeldoek en bont servet
kom ons twee hou ‘n tuinbanket)

ek stuur vir jou ‘n sms
hier’s water
om jou dors te les

en ons sal spek en eiers eet
sommer uit die pan
weer tesame koffie drink
ons skink dit uit die kan
sterk en soet sal ons dit maak
of swart en bitter
na jou smaak

dan praat ons oor die lewe
en dan praat ons oor die dood
(ons bréék)
en eet ‘n stukkie brood

ons drink ‘n glasie soetwyn
en vergeet so vir ‘n wyle
van ons weëmoed
en ons pyn

(wit tafeldoek en bont servet
o, ons twee hou ‘n tuinbanket)

ons lag

en spaar die trane maar vir later
môre’s nog ‘n dag

*

een oggend
wyl die duiwe koer
die wind
die blare lig laat roer
hou ek en jy ‘n feesmaal
(sonder weerga)
in my tuin

C. Shaw
01 Desember 2015




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

4 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed