WONDERWERKERS
Maria was nog baie jonk
en van Nasaret daarby –
‘n onbenullige ou dorpie
met niks besonders in te kry.
Maar op ‘n dag
kom daar ‘n engel –
(Gabriel, was sy naam)
met ‘n boodskap van die Here af
wat haar stil, verstom laat staan.
Moenie bang wees nie, Maria
(vertroos die engel haar)
Kyk, die heil’ge gees sal oor jou kom
en ‘n redder vir die mensdom
sal jy baar.
O, hoe groot is U tog, Here
(lofsing Maria tot God’s eer)
dat U deur dié – wat weinig meer
as stof is –
U wonders laat gebeur!
*
Dat daar uit Nasaret iets goed sou kom,
dit bly steeds moeilik om te glo –
deur mense so gering geskat
en tóg
so groot in God se oë.
Ons is weinig meer as spikkels
(klein en nietig in bestaan)
maar deur óns wil Hy sy werke doen
. . . sal ek en jy
dit ooit wáárlik kan verstaan?
© C. Shaw
12 November 2016
*Geskryf as opdrag vir ons gemeente se Kerssangdiens
4 Kommentare
-
-
Koekekranka
Ek persoonlik ervaar hierdie werkie as uiters treffend en geestelik terapeuties. Jy mag maar omdat jy deur talente daartoe toegelaat is deur die seën van die Gees!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
Nog die eerste keer toe ek dit stil lees, vóór ek hardop gelees het, ,sing' dit al. Sou graag wil hoor hoe julle koor dit werklik sing! (Terloops is jou ,totaal-verkeerde' kersfeesprent heeltemal passend.) Dankie! GvT