Totale oorgawe
waar jou asem vlermuis hang soos
‘n snoesig-sag-warm-velkaros
verby die krombuig van my skouer
tas jou vingers soekend in Braille
oor die ronding van my rug
kom gee jy doekvoettreë
oor ounag-spore van maanligtyd
in die helder van ‘n sonskyndag
as dan die soet van jou tong
my kruike boepensvul
met smaak van heuning
en geur van perelpienk jasmyn
bars daar ‘n vreugdestorm los
oor versteekte grense
diep in die kern van my
diepste binnemens
sien ek in die kleur van vergeet-my-niet
hoe dans jou irisse uitbundig (in totale oorgawe)
‘n malse riel – op die vioolsnare van my brose siel
© Anzé Bezuidenhout
3 Kommentare
-

Amaspoke
Liede kan net bestaan in 'n staat van totale oorgawe, of glad nie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels claasen
eerstens dit is n pragfoto en tweedens kan ek nie kommentaar lewer nie want ek het nie woorde om hierdie pragwerk te beskryf nie en kan ek net vir jou n diamant toeken