Jongste aktiwiteit:

Hamlet

Hamlet

Ek stap ongeërg die kerkie binne en beland eensklaps binne-in ʼn sprokie. Die hemelse klanke van Bach se orrelfuga tref my. In die paadjie kom ʼn bruid in ʼn sneeuwit kant-trourok aangesweef, op pad deur toe. Konfetti warrel nog in die ligte windjie rond, op soek na ’n onskuldige skouer of haarlok. Haar hand rus liggies op dié van haar bruidegom, uitgevat in ’n manelpak en duidelik ongemaklik oor al die aandag. Iets aan die prentjie lyk nie vir my reg nie, maar ek kan glad nie my vinger daarop plaas nie.

Ek staar meegesleur na die skoonheid, die innigheid van die gebeure en ek wonder met ʼn tikkie hartseer of daar vir my ook so ʼn dag wag.

Dan voel ek iemand se oë op my. Die bruidegom. Hemelsblou oë vang my bruines vas. ’n Warm gloed styg teen my wange op, my maag maak vreemde draaie. Nee, dit kan nie wees nie! Gaan ek nou hier in die vreemde, na net een oogopslag, verlief raak? En dit op ’n ander vrou se splinternuwe bruidegom? Hoe pateties kan ’n mens wees? Ek draai skaam my kop weg, bestudeer die hoeksteen agter my teen die muur:
The Church of the Holy Trinity, Stratford-upon-Avon, England. Birthplace of William Shakespeare.
Toe ek weer omdraai, is die bruidspaar reeds by die deur uit. Die foto’s gaan seker buite op die grasperk geneem word met die rivier in die agtergrond. Sprokiemooi.

Ek stap doelgerig by die sydeur uit, straat-af, so ver as moontlik weg van die man wat my met sy oë omgekrap het. Ek skaam my vir die vreemde gevoelens wat skielik in my bors kom nesskop het. A nee a, ek is mos nie ’n impulsiewe siel nie! Buitendien, ek staan op die drumpel van ’n hele nuwe lewe; plek vir romanse is daar beslis nie!

Later die middag luier ek in die park op die oewer van die rivier. Ek kan maar nie die skielike leemte in my hart afskud nie. Op die grasperk voor ‘n handgemaakte verhogie sit reeds ’n afwagtende skare, gewapen met piekniekmandjies en kameras. Shakespeare se “Hamlet” is vandag aan die beurt. Ek soek vir my ʼn koeltekol en haal my kamera uit, net betyds vir die openingswoorde van die derde bedryf: “To be or not to be, that is the question”.

Die akteurs stap op die verhoog en die spel begin. Daar, op die oewer van die stilvloeiende Avonrivier, kry Shakespeare lewe. Die akteur wat Hamlet speel, se gesig is na my gedraai. Iets lyk bekend, maar die grimering en pruik maak herkenning moeilik. Wie is hy …?

Met toe oë luister ek na die stemme van die akteurs. Ek ken die stuk so goed dat woorde nou vir my genoeg is. Die dawerende applous is oorweldigende waardering vir die puik spel.

My oog vang ʼn beweging agter die verhogie. “Hamlet” kom tussen die bome uitgestap. Hoe nader hy kom, hoe meer bekend lyk hy. Nee, my oë bedrieg my seker; dit is dan die man by die kerkie, die bruidegom! Hy kom reguit op my afgestap. Daar is nie wegkomkans nie. My bene wil in elk geval nie saamwerk nie. My maag baklei met ‘n hol kol terwyl ek “Hamlet” inwag.

“Hallo, ons ontmoet weer.” Sy diep basstem laat my rubberbene swik. Sy aksent klink bekend op die oor, maar ek is heeltemal te bewerig om taalontledings te maak.
“Hallo, ja, dit lyk so.” Jinne, maar die man is mooi! Maar getroud. Gespierde lyf, donker krulhare en daardie oë: hemelsblou, laggend as hy speels na my kyk. Ek voel hoe my mondhoeke van teleurstelling sak. Wat ’n verlies vir die hele vroulike geslag dat hy reeds aan iemand behoort!
“Koffie?” dring die basstem tot my deur.
“Ee, ja, dankie, dit sal lekker wees,” stotter ek by gebrek aan enige ander sinvolle woorde. Ek sal maar net die een keer saam met hom kuier. ’n Meisie moet mos darem herinneringe hê vir die koue, leë winteraande.

Ons stap verder langs die rivier na ’n klein kafeetjie. Ineens wonder ek waarmee ek besig is. ’n Getroude man, ’n Ingelsman, is besig om my binneste deurmekaar te krap. Asof ek nie weet dat ek hartseer soek nie, gaan drink ek boonop saam met hom koffie!

“Ek is Christo de Villiers, bly te kenne. Jy is duidelik van Suid-Afrika,” slaan hy oor na Afrikaans. Verligting spoel deur my. Dankie tog, ek hoef nie nou al my skool-Engels af te stof nie.
“Sunel du Plessis. Ja, ek is van Kaapstad.”
“Interessant, ek bly in Houtbaai.” My gesig verraai beslis my ongeloof en hy vertel ongestoord verder.
“Ek het vir ’n kort rukkie by die dramagroep in Stratford aangesluit nadat ek een van hulle vertonings hier in die park bygewoon het.”
“O, dit klink lekker.” Vreemd dat ’n mens op jou troudag nog tyd inruim om Hamlet te speel …
“En jou vrou, is sy ook hier?” My vraag klink onskuldig, maar ek wag asemloos op sy antwoord.
Onbegrip spring in sy oë. Hy draai fronsend sy kop skeef. Dan lig die sluier en hy bulder van die lag.
“O, die troue! Nee, dit was ’n vriend van my se troue.”
Die keer is dit ek wat nie begryp nie.
“Maar, jy en die bruid … julle het dan getrou!”
Die man moet nou nie sit en kluitjies vertel nie, ek het ’n bruidspaar gesien wat trou aan mekaar belowe!
Christo lag sy diep lag.
“Laat ek verduidelik. My goeie vriend Kobus en sy meisie, die bruid van vanoggend, het mekaar hier in Stratford se kerkie ontmoet en wou hier trou. Die datum is vasgemaak en Desiré het met die troureëlings begin. Toe word Kobus opgeroep vir diens in Afghanistan. Die reëlings kon nie meer gekanselleer word sonder geweldige finansiële verlies nie, nie net vir hulle nie, maar ook vir die ouers en ander gaste uit Suid-Afrika. Dis waar ek in die prentjie kom. Kobus het my gevra om vir hom in te staan. Hulle is vanoggend met die handskoen getroud.”

My verligting dwing al om my soos ’n skooldogter te laat giggel.
“O,” is al waarmee ek myself kan vertrou. Ek laat sak vinnig my oë, maar nie voordat ek Christo se blou oë vang wat vol lagliggies vonkel nie.

Ek weet hy lag vir my. Enige aap kon sien dat my gesig lyk asof ek ’n daglank in die son was, terwyl ek vir dae reeds onder die bewolkte Engelse hemel is.
“Nou, gaan jy niks verder as ‘O’ vorder nie?” koggel hy my.
Ek maak keel skoon en glimlag verleë.
“Ek verstaan. Wanneer gaan jy weer terug Suid-Afrika toe?”
“Ek vertrek Vrydag. Die laaste paar dae sal ek as Hamlet deurbring voordat ek Heathrow toe gaan vir my vlug.”

My gesig moes seker ‘n paar skakerings witter geword het, want hy kyk my skerp aan.
“Hei, is jy oukei?” Hy lig my ken en gee my ’n diepblou kyk. My bruines breek in stukkies en ’n enkele traan verdof my kyk. Vervlaks! Ek het sowaar in ’n dag se tyd, nee, ’n oggend, op die man gaan staan en verlief raak, net om hom te verloor. Hoe onregverdig kan die lewe dan wees?
“Ek is oukei, dankie.”
“Dan is ek bly, want ek sal graag wil hê dat ons mekaar beter moet leer ken. Ek hou van jou, Avon-meisie.”

Ek glimlag, maar ek kan nie die biggelende traan oor my wang keer nie.

“En nou, die trane?”
Ek besluit om openhartig te wees en my spreekwoordelike sak patats uit te skud. Die ding moet in die kiem gesmoor word. En die beste manier om dit te doen, is om hom die waarheid te vertel.
“Ek gaan nie terug Suid-Afrika toe nie; trouens ek sit met my splinternuwe paspoort in my sak. My ma, ʼn Engelse nooi, het onlangs weer getrou. Sy het haar nuwe man oorgehaal om na Wallis te emigreer. Die logiese stap was vir my om Engeland my nuwe tuiste te maak. Ek kan dus regtig nie sien dat ons mekaar juis beter as vandag gaan leer ken nie. Jy gaan binnekort terug huis toe en ek … my lewe is nou hier.” Ek vee oor my wang. “Ek sou jou baie graag beter wou leer ken,” voeg ek skaam by. Hierdie situasie laat nie plek vir inkennigheid nie, praat ek my voorbarigheid goed.

Christo gee skielik weer sy helder, bulderende bas-lag.
“Avon-meisie, dan is dit jou gelukkige dag. Ek gaan net Suid-Afrika toe om al my sake in orde te kry. ’n Prokureursvriend het my ’n vennootskap hier in Stratford aangebied en ek het aanvaar. Dus, Avon-meisie, gaan Hamlet jou drumpel deurtrap!”
Ek lag so ’n lekkerkry giggellaggie en vee my simpel trane af. Nou toe nou, dat ek nou hier in die vreemde vir my ’n handskoen-Hamlet moes nadersleep!
“To be or not to be, that is the question!” fluister Hamlet in my oor.
“To be!” antwoord ek, vol splinternuwe selfvertroue.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed