DIE SPIEËL LANGS DIE GROEN MUUR
DIE SPIEËL LANGS DIE GROEN MUUR
my gedagtes vat my ‘n dekade terug
skielik staar ek weer vir myself in die groot spieël
afgewerk met ‘n blink breë goud-geel raam
kontras teen die lemmetjie groen muur
ek staar diep binne in my oë, van so soort dat ek tot in my eie siel kyk
ek sien ‘n leemte
misbruik misken mismaaksel
vermorsel vertrap verraai
geknak gebreek gebruik
blou geslaande oog verdoesel onder swart getrekte oogpotlood
hart gebreuk soos iets van glas, die stukke binne hou aan steek
‘n jong dame staar terug na wie ek vandag is
‘n vrou, ‘n mamma, net mens
saggies vrolik fraai toegedraai
afgerond en afgewerk
gered geken en geliefd
ek onthou nog die diep donker seer
in die oë wat vir my terugstaar vanuit die spieël
emosies rof soos die van ‘n stormsee
wie is sy nou, en wat wil sy hê
haar prentjie flits flits deur my kop
wat is sy nou – depressief of onder ‘n tipe invloed
ek sien hoe voel sy vuil in haar binneste
riviere trane woed stormagtig daarin
wil sy my waarsku teen die pyn en smart
wil sy my herinner aan die een wat reeds begrawe is
wil sy my kom roof van ‘n skat wat ek al reeds gevind het
daar is ‘n monster in elke menswees
gebore in sondige natuur
wat agterna vir jou terugkyk
jou aan jou hakskene byt as jy nie vooruit beweeg
dink ek soos ek staan en staar
dit flits flits weer en daar is dit
flitse van dieselfde gevoel en vrae
sal ek ooit wees genoeg geliefd gewaardeer
hoër geag, of eenvoudig net nie misgekyk
wat ‘n vreemde beeld wat hier afspeel
tussen haar en my of ek of ons
deur die vreemde tyd steeds onverwags
vind ek salige vrede aan my Vader se voete
net daar
veiligheid verstaan vertroetel
geliefd genoeg gewaardeer
onafhanklik van mens se denk of doen
in my Vader se skoot veilig groot kindjie-klein
©️TaniaPascheka
02.06.2020
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.