Ek voel nog jou naam
Ek vind jou nog steeds onder bome,
in skadu’s waar jou beeld somtyds rus.
En ek skryf jou naam bo-aan verse;
tussen woorde –
waar daar leë ruimtes is.
Ek hoor nog die voëls se gesange –
‘n mossie, ‘n muisvoël, ‘n duif …
onthou weer die soet van seisoene;
roes was die wingerd
en herfsgoud die druif.
Drome kan vlieg sonder vlerke –
oor dale en heuwels, soheentoe en t’rug.
Jou paaie loop wyd oor die aarde,
maar jou dwaalspoor
kan my droom nie ontvlug.
Wie hunker dan nooit na vervloë;
wonder nóóit oor dae wat sal kom?
Ek prent jou midde my môres –
in tuine waar lelies
en viooltjies weer blom.
Ek soek jou nog steeds net voor skemer
– hoe soel val die son oor my lyf.
En hoe innig vlam die begeerte
om die voel van jou naam
in my vers vas te skryf.
© Carma Shaw
13 Maart 2018
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2018 - Digkuns projek