Jongste aktiwiteit:

Ek voel nog jou naam

Ek vind jou nog steeds onder bome,
in skadu’s waar jou beeld somtyds rus.
En ek skryf jou naam bo-aan verse;
tussen woorde –
waar daar leë ruimtes is.

Ek hoor nog die voëls se gesange –
‘n mossie, ‘n muisvoël, ‘n duif …
onthou weer die soet van seisoene;
roes was die wingerd
en herfsgoud die druif.

Drome kan vlieg sonder vlerke –
oor dale en heuwels, soheentoe en t’rug.
Jou paaie loop wyd oor die aarde,
maar jou dwaalspoor
kan my droom nie ontvlug.

Wie hunker dan nooit na vervloë;
wonder nóóit oor dae wat sal kom?
Ek prent jou midde my môres –
in tuine waar lelies
en viooltjies weer blom.

Ek soek jou nog steeds net voor skemer
– hoe soel val die son oor my lyf.
En hoe innig vlam die begeerte
om die voel van jou naam
in my vers vas te skryf.

© Carma Shaw
13 Maart 2018




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed