Ewig Jonk
Jou donkerbruin oë
kyk laggend vir my
en jou glimlag so wit
soos die winterbergsneeu
en ek soek na die spore
van tyd op jou wange
maar ek vind niks
en wonder hoe vee mens dit uit
of het jy gesystap
toe die jare sy spore
wou vaslê op wange
steeds jeugdig soos destyds
op ‘n plaashuis se dansvloer?
Want die jare se spore
is nie daar waar ek soek nie
of lê dit dalk
diep in jou hart opgesluit
waar die spoor altyd vars bly
soos ‘n bloedspoor se seer?
Is dit die geheim
van jou jonkbly van buite
wat die oudwees in my lyf
soveel duid’liker wys?
Het jy dalk die fontein
van die jeug self gevind
en bewaar dit jaloers
soos ‘n moeder haar kind?
Wil jy nie met my deel nie
dan drink ons tesaam
en dan pas ons uiteindelik
in die een prentjieraam?
©26/12/2010 Anton Bosch
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.