Liefde is vir die voëls
dis die sout op haar lippe
dis die sout oor haar wang
en sewe pelikane
wat bo Saldanhabaai hang
dis die daisies aan die voet van die grys klipkrans
en die witkruisarend wat oor die veld swerfdans
dis die wolke in die hemel
dis die wit teen die blou
en ooievaars wat koers
verby Darling hou
dis Jan se skuit voor die water op die land
dis die meeu in die mis wat sweef oor die sand
dis die wasgoed op die lyn
wat in die weswind wieg
en swaweltjies wat t’rug
vanuit die noorde vlieg
dis by Langebaan waar die wind so waai
oor die meer by die strand vlieg ‘n witborskraai
dis die sout op haar lippe
dis die traan oor haar wang
en nog een pelikaan
wat bo die Postberg hang
C. Shaw
9 September 2015
3 Kommentare
-
Kiekies
dis die sout op haar lippe dis die traan oor haar wang Nog 'n prag-gedig Wat nou aan my verbeelding hang!
-
Amaspoke
Pragtige skrywe, ek stem saam met Kiekies
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Carma dit is n pragwerk