Jongste aktiwiteit:

Negenneegentig eenvogels

Neenenneentig eendvogels

Daar doer in die noorde, toe dit nog Noord Transvaal was het plekke soos Pietersburg en Alldays jou mooi verduidelik waar jy jouself bevind. Daar iewers het ‘n meisie se oom ‘n plaas gehad, en ons het gaan kuier in die bosveld.

Een middag kom daar ‘n oom en ‘n tannie kuier, sommerso sonder aankondiging of afspraak, maar almal was welkom en ons gesels tog te lekker met koffie en beskuit op die voorstoep. Die beskuit was vroegoggend gebak en gedroog en die melk is in ‘n emmer van die stalle af aangedra. Na ons so ‘n ruk gesels het oor Brahman bulle en koeie, die reën en die vleispryse raak die geselsery stil. Skielik, uit die bloute vra die kuiergasoom, Oom Sampie, my “Kan jy darem skiet jong man?”

Ek verstik amper aan my koffie, maar antwoord vinnig, “Ja Oom, ek het darem al laasjaar springbok gejag in Boesmanland en ook eergister hier ‘n baie mooi rooibok ram geskiet”

“Janee” sê my meisie se oom, “Vir ‘n stadsjapie kan die mannetjie sommer mooi skiet” en hy glimlag in my rigting.

“Nee dis mooi” sê Oom Sampie, “My oorle pa kon darem goed skiet hoor. EK het nog nie iemand gesien skiet soos my oole pa nie” verduidelik hy en vra toe, “Ken jy ‘n voorlaaier?” terwyl hy sy pyp uit sy twaksak haal en begin stop.

“Ja Oom, ek ken ‘n voorlaaier, nog nie met een geskiet nie, maar ek ken hom” verduidelik ek.

“Nee dis mooi” sê Oom Sampie en kry so ‘n veraf kyk in sy oë terwyl hy verder praat en amper automaties sy pyp stop. “My oole pa het nog met ‘n voorlaaier geskiet, en hy kon skiet. Ek soek nog die man wat soos my oole pa kan skiet”.

Ek bly stil en almal wag gespanne soos Oom Sampie sy pyp stop, aansteek, suig, duimdruk en weer aansteek en suig. Toe die eerste rook die lug in spiraal vertel hy verder.

“Ja, jy weet, desjare het ons nie die fênsie gewere en teleskope en dinge gehad wat die manne vandag gebruik nie. Nee, voorlaaier met kruitsak en loodballe was hoe ons gejag het.” en weer suig hy die pyp en druk die twak reg met sy duim, toe vertel hy verder.

“Jy weet, ek en my oole pa stap eendag daar verby die gronddam op die plaas en daar sien ons ‘n gesig, jong, jy sal dit nie glo nie. Honderde maar honderde eenvogels wat so rondom die dam op die wal sit. Honderde sê ek jou, en ek weet mos hoe lief my oole pa was vir eendvogel, veral as moeder dit in die koolstoof gebak het. Ai, jy moet weet, my oorle pa was lief vir daai gebakte eendvogel” verduidelik hy en glimlag vir die herinnering.

“Ewenwel, my oorle pa begin toe ook sommer die voorlaaier laai en ek onthou nog sy woorde soos gister. Vandag! het hy gesê, vandag Samuel, eet ons eendvogel soos ryk mense. Ai toggie, en jy weet my oorle pa laai en ek sien hy laai sommer die laaistok ook saam met die skoot. Hy lê toe sommerso uit die skouer aan en skiet so ‘n swaaiskoot met die laaistok!” vertel Oom Sampie en swaai met sy hand en die pyp met ‘n boog om die swaaiskoot se lyn te beduie.

“Ja, my oorle pa kon skiet. Daai dag ryg hy met daai swaaiskoot neenenneentig eendvogel op daai laaistok. Neenenneentig sê ek jou, sommer met so ‘n swaaiskoot op die laaistok ingeryg. Ons het hulle net daar afgehaal en getel” en met die sit Oom Sampie terug in sy stoel en suig, vingerdruk en suig weer aan die pyp. Die res van ons bly so vir ‘n wyle stil terwyl elkeen op sy eie manier Oom Sampie se storie verwerk en inneem. Tannie Hester, my meisie se tannie breek skielik die stilte.

“Nou Sampie” vra sy met ‘n glimlag en ‘n vonkle in haar oë, “Hoekom sê jy nou nie maar ‘n honderd eendvogels nie?”

“Wat wou Hester?” vra Oom Sampie verontwaardig. “Wil jy nou hê ek moet laat een eendvogel my in ‘n leuenaar laat ontaard, my ewige saligheid verloor oor ‘n vogel? Nee wat, neenenneentig eendvogels met so ‘n swaaiskoot op die laaistok ingeryg, dis wat my oorle pa geskiet het.” verdedig hy homself, en las dan by, “Janee, my oorle pa kon baie goed skiet”.

© Grootvissie
Augustus 2017




4 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed