
Oestyd na droogte (goud)
Het ek my verbeel
of het jou kruiphand
my middel omsingel
— jy my lyf lankenlangs
nader getrek tot duskant jou horisongrens
diep verby jou ongetemde binnewand
het ek my verbeel
of het jou woorde te swaar geraak
tussen die veldblomme wat jy
in hierdie ontspoorde oestyd
so gereeld in my vlegsel druk
terwyl ek my nat lippe op jou lyfland plant
het ek my verbeel
of oes ons die jaar
alles wat ons in die droogte
se leë dambodems kon opspoor
in oorvloedige raaisels
en mag ek elke aand droom
dat nog ‘n droogte ons ewig sal vermy.
© Okt 2020 Caren Kearley
Kopiereg voorbehou
2 Kommentare
-
Seirdna
Baie geluk met jou 1 ste plek in Goud vir Oktober, Caren. Pragtige vers.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2020 – OOP-projek