Soos een wat op verlossing wag
êrens waar die sterre tuimel
uit die newels van ‘n melkweg
êrens waar ‘n towermaan
oor ‘n dor en barre aarde skyn
breek ‘n boom ‘n klip
en kremetart sy onder hemele
oneindig wyd en ruim
diklyf, kaal en sonder skaamte
wring sy haar arms tot geraamte
en laat haar vingers teen die silwer nag skelet
sy skreeu ‘n stil gebed
sy dors na reën
en hyg na wasem
sy roep die winde met haar laaste asem
en smeek hul om die wolke
en die storm te gaan haal
sy spits haar ore vir die donderweer
haar oog verlang ‘n weerligstraal
*
êrens waar die sterre val
en tuimel deur die newels van die nag
êrens waar ‘n towermaan nog skyn
breek ‘n boom ‘n klip
en kremetart sy onder hemele
soos een wat op verlossing wag
van ‘n drooggesuipte aarde
. . . wat na water smag
C. Shaw
25 Augustus
3 Kommentare
-
neels
carma jy laat my nou so aan Kroonstad dink. Hierdie dorp staan ook nou so. ons water is klaar, hier is nie meer nie.
-
Evelyn van der Merwe
Goeie personifikasie gebruik. Knap gedaan.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
baie mooi vasgevang