Supermaansiel
Jý het verstaan,
hier waar ek nou staan
traanloos onder nog ‘n supermaan
het jý uit die bloute sommernet verstaan;
sonder oordeel of waan
my angstigheid toegesirkel
in jou eie naakte sekelmaan
gebroke het ek (of ons)
met heelwit vlerke probeer vlug;
sentimenteel wou ek minute aftel
tussen naelstring en skoenlapper
– maar monoklinamies het jy monopsigities
my verse gemumifiseer
sodat ek voor hierdie
spieëlende vensterraam
met dodelike kyke
myself pittig kon persifleer
tot supervrou onder ‘n pleitende maan
want jy het só goed verstaan.
© 2017 Caren Kearley
Kopiereg voorbehou
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.