Augustus
Daar’s melancholie in die Augustuswind, veral hier op die Hoëveld. Dis ‘n sameswering deur die stof van die ou myn-slikdamme, rollende koeldrankblikke, tollende plastieksakke en die histerie van verkeer. Die duikweg is donkerder, die wag by die kruising meer bedroewend in sy lang swart jas en die taxi’s ry stadiger as gewoonlik onwettig oor die rooi lig.
Dis nog skemer. Horde voetgangers loop-hardloop skuins-skuins, oë op skrefies getrek teen die koue wind, hul wolmusse laag getrek oor hulle ore. Groepies mense bondel in en uit taxi’s. Stringe karre kom soos ‘n rooi en wit beligte waterstroom teen die afrit gerol. Johannesburg ontwaak.
Ek is by die kruising van Dennis- en Wemmer straat en wag vir die rooi lig. “My Friend The Wind” was nog altyd een van my gunsteling uitdrukkings. Die ou Demis Roussos lied. Hier in Augustus is hy niemand se vriend nie. Hy verstoot jou. Die helderheid wat so ‘n wind gewoonlik bring is hier afwesig.
Hierdie is ‘n gevaarlike deel van die stad. Elke leeglêer beloer jou met skynheiligheid. Wanneer gaan die nege-millimeter deur my skedel bars sodat my Toyota se onderdele verkoop kan word vir ‘n appel en ‘n ui?
By die kantoor, as die eerste strale van die oggendson verblindend in my oë skyn, wag ‘n swaar gewapende wag my in, deursoek my, vryf die stof uit sy oë en sê: “Enjoy your day meneer”.
Ek slaan my kraag op teen die wind, haal my skootrekenaar uit die kattebak en bekyk die laag stof op my kar voor ek met my vingerafdruk die deur na my kantoor oopsluit.
Die Augustusdag het begin.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.