Bloedmaan en die blues
Had ek maar net die woord’ kon vind
om ‘n vers vir jou te skryf
in daardie koue voordaguur,
dan sou ek oor die maan wou praat
– vroeg die oggend –
minute net na vier.
Ek sou jou kon vertel
hoe roes ‘n maan kan rooi
(langs die môrester wat flikkers gooi)
en dat ‘n donker roof
haar wang bedek.
In taal wat rym sou ek verklaar
dat sy daar eensaam hang –
bo Prins Albert se Karoo-landskap
en oor die Gamkakloof se dam.
(O hoe verruk het sy haar wond laat gloei
– waar yl die gras en bossies groei –
oor die eindelose vlaktes
en oor ‘n wolskaap
met haar lam.)
Maar wyl die eeu en stond bepaal
dat sy in stilte sou moes bloei
kon ek – helaas –
geen woorde vind
om in vers vir jou te vloei.
© C. Shaw
2 Kommentare
-

Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2018 - Liefdes projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Tearlach
Wow! Pragtige gedig Carma