Jongste aktiwiteit:

Die ware boodskap agter Kersfees

“Juffrou … Juffrou!” klein Petro steek opgewonde haar handjie in die lug.
“Ja, Petro-lief?” teer raak Santie aan die blonde krulkoppie wat met soveel vertroulike opgewondenheid na haar opkyk.
“Ons gaan Kersfees ‘n nuwe bababoetie kry!” kondig sy met kinderlike trots aan.
“Hoe weet jy dit?” vra Petrus nuuskierig.
“Gaan julle hom Jesus noem?” vra San-Marie verwonderd, eerbiedig.
“Neee, man!” kreet al die ander kinders saam.
“Toe … toe!” neem Santie weer beheer. “Stil nou eers.” Sy haal ‘n pak gekleurde koeverte uit haar aktiwiteitsak en sien die ogies voor haar opgewonde blink. Almal se aandag nou weer op haar gevestig.
“Dankie, Petro, dat jy hierdie wonderlike nuus met ons deel. Om ‘n bababoetie te kry is ‘n groot geskenk uit God se hand.”
Talle handjies vlieg omhoog, maar tyd is min en sy moet nog “die groot opdrag” aan hulle verduidelik voordat almal uiteenspat vir die Desembervakansie. Vandag is die laaste Sondagskoolklas vir die jaar en sy wil dit op ‘n hoogtepunt afsluit.
“Kom, kies vir julle elkeen ‘n koevert,” nooi sy vriendelik. Soos een man staan hulle op en bondel voor haar saam. Sy hou haar hand so dat elkeen ‘n koevert kan raakvat. Tevrede gaan sit hulle weer op hulle plekkies.
“Moenie dit nou oopmaak nie.” beveel sy. “Daar’s ‘n spesiale boodskap in elke koevert, met ‘n opdrag daarby. Vra asseblief vir Mamma of Pappa om dit saam met julle oop te maak. Dit is ‘n gesinsopdrag. Dit beteken julle moet dit saam doen om suksesvol te kan uitvoer. Met ons eerste Sondagskoolklas in die nuwe jaar, moet julle kom vertel hoe die opdrag uitgevoer is en wat dit vir julle beteken het.”
Verwonderd wissel die ogies van haar na die koeverte en na mekaar.
“Dankie dat julle sulke soet kinders was hierdie jaar. Geniet die vakansie.”
Sy sluit af met ‘n kort gebed en staan op as bewys dat die klassie verby is. Hulle volg haar voorbeeld. Een vir een kom gee hulle haar ‘n drukkie, voordat hulle opgewonde die klas verlaat. Die gekleurde koeverte styf in hulle handjies vasgeklem.
Buite, voor die kerk, sien sy hoe die koeverte opgewonde van hande verwissel. Hoe menige ouer dit nuuskierig bekyk, in die rondte draai en versigtig oopskeur. Verbaas die inhoud lees om dan glimlaggend in haar rigting kyk. As groet knik sy vriendelik terug en stap met ‘n tevrede gemoed na haar motor, wat aan die oorkant van die kerk staan.
Die opdrag geld ook vir haar. Sy gaan alles in haar vermoë doen om dit so getrou moontlik uit te voer. In haar geestesoog sien sy die handgeskrewe sierskrif-opdrag op elke hartvormige kaartjie.
“Gaan soek Jesus”

Opgewonde parkeer Santie voor die kerk. Dit is die eerste Sondagskoolklas vir die nuwe jaar en sy kan nie wag om al die gesiggies weer te sien en die stories te hoor nie. Haar eie storie sal sy vir laaste hou.
Verbaas steek sy in die deur van die klaskamer vas. Dit is nie net kindergesiggies wat haar begroet nie, maar ook dié van hul ouers. Hulle sit die hele vertrek vol.
“Môre, almal?” groet sy vraend. Kyk onseker na die volwassenes.
“Môre, Juffrou,” koor kinderstemmetjies gemeng met die van hul ouers.
Een van die pa’s kom staan voor langs haar.
“Juffrou Santie, ons is hier om ons stories te kom vertel. Ook om dankie te sê vir die moeilike, maar eenvoudige opdrag wat ons lewens ingrypend verander het. Kom, kom sit hier op jou stoel.”
Gehoorsaam neem sy plaas en sluk aan die knop in haar keel.
Asof dit vooraf geoefen is, kom staan een vir een van die kinders, gerugsteun deur hulle ouers, voor langs haar en vertel hul storie.
“Ons het Jesus in die straat gekry,” begin Petrus “tussen straatkinders en boemelaars.” Hy kyk op na sy Pappa en vat sy hand as teken dat hy moet voortgaan.
“Ja, ons as gesin het besluit om in plaas van geskenke vir mekaar te koop, die geld te gebruik om kospakkies op te maak en Kersdag op straat te gaan uitdeel. Dit wat ons gegee het, is ‘n druppel teen dit wat ons ontvang het. Nie net het ons die liefde van Jesus ervaar nie, ons het ook nader aan mekaar gekom en besef hoeveel ons het om voor dankbaar te wees.”
Stil gaan neem hulle weer plaas en klein Petro en haar ouers stap na vore.
“Ons het Jesus in ons nuwe bababoetie gekry,” vertel sy met ‘n ousus-trots in haar stem en glimlag vir haar Mamma wat voortgaan.
“Net om na hom te kyk, sy volmaak geskape liggaampie, die onskuld in sy ogies, sy totale afhanklikheid van ons (aan wie hy gegun is) het ons laat besef hoe lief Jesus ons elkeen het. Hoe volmaak, kosbaar en spesiaal ons vir Hom is. Hoe afhanklik ons van Hom móét wees. Hoe teer sy sorg is. Hy bewaar en beskerm ons daagliks sonder om ooit moeg te word.”
Betekenisvol kyk hulle na mekaar en gaan neem weer hul plek in terwyl San-Marie en haar ouers na vore kom.
“Ons het Jesus by Ouma en al die ander oumas en oupas by die ouetehuis gekry.” Sy kyk op na haar Pappa en gee hom ‘n drukkie toe hy verder vertel.
“As ‘n spanpoging het ons saam koekies gebak en in pakkies opgemaak. Dit Kersdag by die ouetehuis gaan uitdeel en die geleentheid gekry om met elkeen van die oumense te gesels. Wat ‘n bron van kennis en liefde het ons nie daar ervaar en ontdek nie. Die warmte en dankbaarheid wat uit hul straal het ons die hart van Jesus laat ontdek. Dit was die beste Kersdag wat ons as gesin nog ooit deurgebring het.”
Glimlaggend neem hulle weer hul plek in en Stefan en sy Pappa kom na vore.
Santie sien die hartseer in sy ogies raak en wonder vir ‘n oomblik waar sy mamma dan is.
“Ons het Jesus by die hospitaal gekry,” sê hy braaf terwyl ‘n traan oor sy wangetjie rol en hy sy handjie in sy pa se groot hand druk.
“In die hande van dokters en verpleegsters se liefdevolle versorging het ons Jesus se aanraking ontdek. Ook in die laaste woorde vol vrede en berusting wat my vrou, Stefan se Mamma, geuiter het voor sy haar laaste asem uitgeblaas het. Die kanker het haar liggaam uitgeteer, maar haar gees het sterk gebly tot aan die einde. Jesus was daar in die kamer saam met ons. Ons kon Sy teenwoordigheid tasbaar aanvoel. Hy het ons vertroos en versterk, verseker dat sy nou op ‘n veilige plek is sonder enige pyn of ongemak.”
Santie vee onbeskaamd die trane af wat oor haar wange loop.
So kom vertel een vir een van die kinders, saam met hulle ouers, hul stories. Stories van hoop, geloof en liefde. Stories van erkenning en ontdekking van die bron van ware lewe, die hart van Kersfees, Jesus Christus. Toe die laaste gesin weer hul plekke inneem staan Santie op. Skraap haar keel skoon en begin haar eie storie vertel.
“Ek het Jesus in vergifnis ontdek. Ek het lank en ver gesoek, maar Hom toe naby my gekry. Daar was nooit ‘n goeie verhouding tussen my en my ma nie. Destyds toe my ouers geskei is, het ek by my ouma-hulle gaan bly. As kind het ek ervaar dat my ouers my verwerp en nie meer wil hê nie. Dit het ‘n kloof tussen ons gevorm wat met die jare groter geword het. Ek het my ma verwyt vir alles wat in my lewe verkeerd gegaan het. Hierdie Kersfees, in my soeke na Jesus, het Hy dit op my hart kom lê dat ek vrede moet maak met my ma, haar onvoorwaardelik moet vergewe, soos Hy my ook daagliks van my ongeregtighede vergewe.
Dit was nie maklik nie, maar ek was gehoorsaam aan Sy opdrag. Hy het my gehelp om al die bitter en onvergifnis uit my hart en gemoed weg te was. Ek en my ma kon mekaar vergewe en van vooraf ‘n verhouding begin bou. Dit was my beste Kersfees ooit.
Sonder Jesus sou dit nie moontlik kon wees nie. Hy is as ons Verlosser gebore en het aan ‘n kruis moes sterf sodat ons vry kan kom van alles wat ons menswees en vrede kom steel. Sy lewe en voorbeeld op aarde is die riglyn waarvolgens ons moet lewe om voluit en gelukkig te kan wees. Hy is beslis nie daar ver nie, maar hier naby elkeen van ons. Ek glo ons almal het dit hierdie afgelope kerstyd beleef en weer opnuut ontdek.”
‘n Dawerende handeklap klink op. Deur haar trane sien Santie al die glimlaggende gesigte voor haar. Dit is soos warm sonstrale wat deur miswolke breek.
“Dankie aan elkeen wat gehoor gegee het aan die opdrag.”
“Nee, dankie aan jóú, juffrou Santie,” koor al die stemme in eggo terug na haar “vir jóú gehoorsaamheid om hierdie lewensveranderde opdrag te deel. Jy het ons oë weer oopgemaak om die ware boodskap van Kersfees raak te sien.”
© Driekie Grobler
(1498 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed