
Eens was alles lig en vry
Ek loop kaalvoet –
verby koraalboom en granatebos.
Die wit roos skud haar blare los
oor die warm teer.
(Skerp klippies maak my voete seer)
Tot by
koue water, sagte sand,
meeue oor ‘n weskusstrand,
die hete son.
*
En nes skulpgruis wat aan enkels klou
en merkies maak,
só voel ek jou nog aan my lyf –
hiér
waar seeskuim op vlak branders dryf
en patroontjies oor die aarde skryf.
*
Ek loop kaalvoet langs die duine
en by blink rotse verby verby verby
(Eens was alles lig –
eens was als so vry).
© Carma Shaw
22 November 2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.