Jongste aktiwiteit:

Flenter-vlerke van liefde

Flenter-vlerke van liefde

deur die vloedgolf van vele dae
het ons twee saam begin stap
en midde-in die veertigdae storm
het die tortel my vrede
met ‘n botselgroen olyftak aangebring

op die offertafel van jou liefde
het jy my die ram in die doringbos gewys
daar waar jy turend in die Braambos
kaalvoetspore van genade vir my skets

deur die waterskeiding van die Dooiesee
het jou stem die bitter Mara in my gebreek
en my hulpeloosheid droogvoets gedra
tot daar waar ons vas op droeëgrond staan

smagting het hongerig deur my hande geglip
terwyl jy sag die manna in my mond breek
het kwartels van die Skelfsee aangekom
en die vuurkolom het die donker gebreek

onder die rooitou van jou opregte liefde
en die ramshoring se sewedag basuin
het jy my Jerigomuur laat verkrummel
my dorstig water met my tong laat lek

daar waar die lewens-ashoop se riool
my vervaard na potskerwe wou laat gryp
omstandighede en mensdom my wreed verraai
het jy jou liefde in lendedoeke om my kom draai

dit was dan net so skuins na sonsopkoms
toe die Didimus diep-diep binne my
teësinnig (maar opreg) sy hoof buig
en so erkenning aan die flenter-vlerke
van jou (on)sienlike liefde gee

© Anzé Bezuidenhout




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed