God gee om
Mossie mossie, voëltjie kind
met jou skerp gepunte bekkie
waarmee jy alles verslind.
Vaalbruin is jy van kleur
met ‘n titseltjie swart
en dalk ‘n kolletjie wit so tussendeur.
Weet jy, dat jy vir God belangrik is?
Weet jy, dat Hy jou bewaar?
Weet jy, dat Hy jou lewe in Sy hande hou?
Jy wat so niksbeduidend klein
bly in menigte huise se tuin-
jy bring vir ons ‘n boodskap van hoop
die wete, God het ons duurgekoop.
Kan jy mossiekind van God
die mensekind verstaan
wat nie lewe volgens Sy gebod-
Hy wat die mens kroon
van Sy skepping maak
aan Hom alles op aarde gee
om te bewerk en te bewaak
en Sy liefde aan die mens betoon
Sy Seun laat sterf
Sy Gees in die mens laat woon.
Kan jy glo, mossiekind
dat mense steeds somtyds twyfel
aan God se liefde en genade
aan Sy heerskappy
as Hy dit so duidelik sê
dat selfs jy,
so nietig en klein
in mense oë
vir Hom so belangrik is
dat Hy jou lewenslot bepaal?
Jy, kleine mossiekind
in jou het ek vandag gevind
God het my lief nes ek is.
Ek en jy is deur Hom toegerus
vir Sy taak aan ons opgedra
nooit sal Hy meer as dit
van ons vra-
Hy het elke een uniek gemaak
Hy sal oor ons albei waak
Hy is lief vir jou
Hy is ook lief vir my.
Elna Kruger 2017
Kopiereg
“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.
Matt 10: 29 – 30
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.