In die soepelheid van jou krag
soggens as die kartelson
in warboel met klanke van geel
oor die Westerkim ontplof
dartel die tortelkoer van
genadeduiwe soos ‘n heil’ge
siterspel op fladdervlerke na Bo
Tambotieboom in die
bruingloed van henna en
rooiborsduif wat in blare
soos granaatpit in skarlaken blom
en iewers in die agtergrond
die Neushoring wat binnemonds brom
met malse vreugdes-Hossanas
dwarrel die oggendwind
oor tenger grassade wat
knielend buig
voor die trippelgang
van die speelse wind
en so uitbundig
hul vreugde betuig
in die natgeur van dou
bedrupte grond, roep die
natuur dan saggies jou naam
en skryf met die spikkelveer
van ‘n verdwaalde tarentaal
minnebriewe op die
wasem-vensters
van my hart, en
vul my boepens
met die soepelheid
van jou krag
© Anzé Bezuidenhout
6 Kommentare
-
-

neels
Anze jy het my asem weg. Hierdie is een van jou bestes ooit en getuig van n nuwe rypheid in jou digkuns wat na vore kom en ek ditto Carma
-

Evelyn van der Merwe
Ek ditto Viooltjie. Pragtig gepen. Jy toor met die natuur.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Viooltjie
Pragtige natuurskets, Anze. Ek dink elke strofe kan eintlik op sy eie ook as gedig staan :-)