
In nagedagtenis (2)
Ek vind jou telkens
teen die hange van ‘n Overberg,
ek roep jou naam
en hoor hoedat jy antwoord gee.
Jy reënboog oor die vlaktes en valleie –
daar waar jy verbonde
met lig se breking smee.
Jy vloei in riviere af –
strome wat kronkel deur klowe en ‘n poort,
vloed wyd oor dale waarin riete groei
en word vir my die lelies
– wat wit kelk –
langs die oewers van ‘n sloot.
Jy fynbos tussen klippe, oor die velde
en pluim in die sade van lang gras.
Jy loof aan die takkies van mimetes,
kontoer in al die krakies
van haar growwe stam se bas.
Jy vlies ewig in die wolke bo die kranse,
glinster teen die ganse hemeltrans,
pols in die fotone
uit elke ster en son en maan –
om te sweef op die ritme
van ‘n Goddelike dans.
Ek sien jou steeds
in die kleure oor my landskap,
in die vuur van ‘n môrestond se gloed.
Jy edel nog soos amber en robyne
en vlam in elke skemeraand –
só, asof jy my groet.
© Carma Shaw
29 November 2017
3 Kommentare
-
-
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2017 – Oop projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Carla Visser
Pragtig!