Kolmanskop
In die suide van die Namib
waar die son steeds bloedig skyn
net ‘n entjie oos van Lud’ritz
in die heet van ‘n woestyn
pryk vandag net die murasies
(uit tye baie lank gelee’)
van eens swierig herehuise
aan sand en duine oorgegee.
Sonder slot en sonder grendel
staan geboue leeg en kaal
soms dans nog net die spoke
oor die stofvloer van ‘n saal.
Hol geraamtes uit vervloeë
struktuur in hout en steen en staal
hospitaal, fabriek en kroeë
vertel in stilte die verhaal
van die rykdom in die klippies
wat verstrooid was oor die sand
en ‘n myndorp in die Namib
tussen niks en niemandsland.
*
O, Kolmanskop
so vol van weelde
gekoop met skitter diamant
hoe glorieloos was toe jou einde . . .
‘n blote bouval in die sand.
C. Shaw
27 Oktober 2015
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Hierdie is 'n stilstaan gedig.. PUIK