
My kind
My kind,
Voor jou hart sy eerste klop gegee het, het ek jou reeds lief gehad. Ek het jou plekkie vir jou reggemaak en dit net vir jou ingerig.
Hier onder my hart het ek jou gekoester en jy het gegroei totdat jy reg was om jou eerste asemteug te neem. Ek het jou toe eers ontmoet, maar ek het jou lank reeds geken. Ek het geweet wie jy is, want jy is myne.
So hulpeloos en klein, so afhanklik van my. Ek het jou in my liefde gedompel en teen my vasgedruk. Ek het jou versorg en ek het jou gevoed. Ek het jou beskerm teen die koue en jou beskut teen die wind.
Maar my in my arms wou jy nie altyd bly nie. Jy wou sien wat die wêreld vir jou inhou. Jy wou verken, leer, ervaar. Daar was borrelende laggies, uitbundige waggelende draf-stappies. Maar daar was ook nerf-af knieë en seer vingers, blou kolle en trane wat wange wou-wou bevlek.
En daar was jy. Jy wat groei, jy wat in jou leer nuwe kennis opbou. Jy wat hierdie mooi mens raak, vol liefde en kwaad en bly en seer. En met elke jaar gee jy nog ’n bietjie van jouself vir die lewe en moet ek net ’n bietjie meer laat gaan. Maar weet jy, in my hart bly jy steeds altyd myne. In my hart is ons band hegter as ooit. In my hart ken ek steeds elke uithoek van joune, weet ek hoe jy aanmekaar geweef is en verstaan ek wat die lewe van jou maak.
My kind, ek is dankbaar vir die geskenk van jy. Of ek jou afgebid en of jy sommer so sonder vra myne geword het, jy was nog elke oomblik alles wat ek wou hê. Jy was nog elke oomblik genoeg.
My kind, jy moet hierdie dinge weet. Jy moet weet dat ek jou lief het met my hele hart. Jy moet weet dat die wêreld soms ’n koue, wrede plek is, maar dat daar net soveel goed en net soveel liefde is om te vind. Jy moet weet dat ek jou lief het. Dat jy deel is van my. Dat ek saam met jou wil lag en dat ek jou altyd sal bystaan wanneer jy wil huil. Ek sal jou op help as jy val en ek sal breuke vir jou reg dokter. In hierdie lewe — in hierdie wêreld — is daar niks wat ons nie kan oorkom nie. Daar is nooit ’n rede om op te gee nie. Niks is te groot nie. Op my kan jy staat maak, al die dae van jou lewe. My kind, jy moet weet, jy is nooit alleen nie. Selfs wanneer ek eendag terug keer tot stof en een raak met die wind, kan jy bid en kan jy glo en kan jy weet, ék het jou lief.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.