Skarrelkind
Skarrelkind
My oë traan van die snerpende koue, my ore pyn en my tande klap opmekaar. Nog net twee karre het verby gekom, asseblief Here bid ek, ek kan nie meer die koue vat nie.
Dankie tog, die robot slaan oor na rooi. Ek hardloop na die voorste kar maar die vensters is toe. Nou na die tweede een “voetsek” hoor ek, maar ek is al gewoond daaraan. Ek gaan na die derde een dus ‘n vrou wat ry. “Miesie, het miesie nie ‘n rand vir my nie asseblief? vra ek. Sy vroetel in haar sakkie en gee my ‘n twee rand “dankie antie” se ek, baie bly, nou het ek nog net ‘n vyfrand nodig om ‘n brood te koop. Ek staan elke oggend van vyfuur af, hier op die fourway stop by Belhar. Ons bly in Lyden agter in ‘n wendyhuis wat al soos ‘n grot lyk. My pa is twee jaar lank dood en my ma drink elke dag. Ek is nie soos die ander skarrelkinders nie, ek staan aangetrek in my skoolklere. Ek het myself belowe as ek eendag groot is, gaan ek ‘n huis koop. Ek is twaalfjaar oud en in graad ses, my broertjie is vyf en my sussie is drie jaar oud. Dit is my plig om vir hulle te sorg.
Nog karre kom verby, die robot slaan weer oor na rooi, ek hardloop van kar tot kar. Here, wat gaan ek met ‘n twee rand maak? Dus te min en die kleintjies is honger. Hier stop ‘n kar, ‘n ouerige man rol sy venster af “uncle, het uncle nie n rand vir my nie asb “, hy kyk my snaaks aan, “kom ek gee jou somma n tien rand”. Dink hy eks stupid, ek n weet van mense soos hy, hy soek iets anders, as ek inklim dan hoef ekie verder te skarrel nie. “Nee dankie, is oraait uncle ” en ek stap weg. ‘ n Rooi mazda stop en ek vra weer vir n rand. My stem bewe van die koue, die man krap in sy sak en gee my n volle tien rand! “Baie dankie uncle” sè ek verlig, nou kan ek huistoe gaan. Ek stap so vinnig moontlik huistoe want dis nou al ses uur. Ek koop ‘n brood by die klein huiswinkel op die hoek.
Ek maak die deur oop en die muwwe reuk laat my asem wegslaan. My ma is glad nie in die kooi nie. Ai Here dink ek, sy het seker weer wyn gaan soek, want die mense sit al van half sewe op die jaart. Wat het sy nou weer verkoop, nou moet ons kos maak op n gas stofie wat ‘n ander antie vir ons gegee het. Die kinders is honger en ek gee vir hulle brood, daars darem nog peanut butter van gister. “Outjies julle moet nou binne bly tot ma kom hoor. Hulle knik net hul koppe en ek maak ‘n draai by die jaart. Daar sit al ‘n klomp mense. ” Hallo Skarrelkind, het jy nie vir my ‘n rand nie”, vra een van die dronkies. My maag draai van walglikheid. My ma sit kop onderste bo langs ‘n man wat haar ‘n dop skink. Ek kan dit nie meer vat nie, ek raak briesend kwaad. “Ma, as ma klaar gesuip het, onthou net jyt nog twee kinders by die huis” skreeu ek na haar. “Het jy nie respek vir jou ma nie”, vra ‘n dronkie. Vir wat, wie is jy om vir my te kom se. Ek is nou blindkwaad, ek wil net my ma van die jaart af hè. Ek weet sy gaan nie nou opstaan nie, so na skool is dit weer skoonmaak en skarrel vir kos vir die kinders. Ek is gatvol van die lewe, ek wil net hè sy moet ophou suip.
Ek kyk na die tyd en skrik, want nou gaan ek alweer laat wees. “Ma as ma nie nou hier opstaan nie, dan gaan ek my juffrou sè “, skreeu ek. My ma staan op en gee my ‘n helse klap. “Jy hou vir jou groot nè mannetjie!” en sy klap my weer. Ek stoot haar dat sy agtertoe steier. Nou wil die hele jaart se mense my aanpak, ek stoot my pad oop na buite. Ek hardloop na die skool toe, dis al klaar tien voor agt, ek sug, alweer laat.
“Alweer laat meneer Williams”, dus nou die derde keer die week, jy gaan detensie sit vandag. Bloedrooi gaan sit ek op my bank. Hier en daar hoor ek ‘n gegiggel. As hulle maar net moet weet hoe bly ek is dat ek my tuiswerk in stilte vanmiddag kan doen.
Skoolgaan is vir my lekker, ek sien daars alweer ‘n paar kinders afwesig. Dom goed, dink ek, het alweer gaan bank. Dus pouse, ek sit altyd alleen, niemand meng met my nie, want ek dra stukkende klere. Ek het ook nie brood nie, want die kinders moet eet by die huis. Here, ek hoop my ma is nugter vandag asseblief Here.
Ek doen my tuiswerk na skool, en ek voel meteens baie ongemaklik. Ek kyk op en sien dat my juffrou my intens aankyk. “EN NOU JUFFROU, het ek iets verkeerd gedoen?” vra ek. “Bly asseblief na skool Tony, ek wil met jou praat”. Wat nou? Die kinders verlaat almal die klaskamer. Ek wag, dan sien ek sy stoot haar stoel onder die lessenaar in. “Kom”, sy loop en sluit die deur, dan gaan sy na haar kar. “Klim in Tony”, ons ry en stop voor ons huis.
“Juffrou” sukkel ek dit uit, want ek dink hoe dronk my ma gaan wees, hoe vuil die huis is, en hoe besnot die kinders is. Ons gaan binne, my ma skrik toe sy my juffrou sien. “Is die, die social worker Tony”? My juffrou se ek moet die kinders uitvat, sy wil met my ma praat.
Hoe weet my juffrou van ons? Ons staan lank buite byna ‘n uur. Juffrou roep, ons gaan binnetoe, toe begin sy te bid en ‘n onuitspreeklike stilte sak in ons huis toe. Ek sien my ma staan skaam na die gebed, ons was lanklaas in ‘n kerk. Juffrou gee my ma ‘n vyftigrand, my ma se saggies dankie. “Onthou jou belofte”, en daar stap juffrou uit.
Vir die eerste keer daai aand is my ma nugter, en ons met volmae gaan slaap. Tot vandag toe weet ek nie wat my juffrou met my ma gepraat het nie. Maar my ma wou nie hè ek moes gaan skarrel het nie, en ek kon bietjie laat slaap soggens. Syt nie meer ons allpay uitgedrink nie, en het begin halfdae werk by ‘n crèche. Ek is nou weer baie gelukkig, ek kan nou weer lekker leer, en elke keer as ek my juffrou sien, dan wil ek huil van blydskap. Ek voel nie meer skaam nie, en het met trots my diploma die einde van die jaar ontvang. Nogal vir wiskunde!
Baie dankie Here, en baie dankie juffrou vir die veranderinge in ons huis. Sien, ‘n mens moet bo jou omstandighede uitstyg vorentoe, altyd vorentoe.
Geskryf Deur:
Diana Coert
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.