Kook en Geniet
Hubby het effens meer as dertig jaar gelede ’n Kook en Geniet kookboek/handboek/boek met prentjies-en-byskrifte, in my hand gestop. Sy oë was vol sterre en ek kan beslis nie meer onthou of dit voor of na die troue was nie. Die arme man was óf bekommerd dat hy nie gaan eet nie, óf hy het hoopvol lugkastele gebou oor die watertand geregte wat hul weg na ’n keurig gedekte tafel sou vind – silwer eetgerei, blink opgevryfde borde, kristal wynglasies, ’n gestyfde tafeldoek met servette wat perfek daarby pas. Ja, right.
Die reine waarheid is dat nie alle drome waar word nie…
Meeste jong mans bou seker lugkastele oor ’n oulike vrou wat soos sy ma kan kook en met veerligte gebak uit die kombuis getrippel kom. ’n Tipiese prentjie uit die vyftigerjare waar die goeie huisvroutjie se glimlag breër as haar gesig is, terwyl sy trots vir elkeen van haar dosyn-grootte-kroos ’n snytjie van die pragtig versierde sjokoladekoek in ’n Royal Albert bordjie neersit. Geen teken van die warm stoof of voete wat pyn in té styfpassende hoë hakskoentjies nie.
Ag shame. Hubby het RÊRIG die pot heel skeef-mis gesit…
Die feit is, daar is soveel ander lekker dinge om te doen as om groente te skil en ure lank ’n sousie in ’n blink Carrol Boyes-kastrolletjie te roer. Die kastrolletjie is die waarheid – die ure lank roer aan enigiets ’n inflame leuen. (Skoonma het meermale die opmerking gemaak dat sy nie verstaan hoe ek so vinnig kan kook nie, en ek was bang die doenigheid in die kombuis gee dalk ’n vreemde kleur of iets af.) Dit het ook nie lank geneem voordat daardie blink kastrolletjie in Dogter se kombuiskas gepronk het nie. Die silwer vere maak immers nie die voël nie en geen duur geskenk kon my inspireer om ’n uithaler kok te word nie!
Maar iewers in die begin het ek eerlik ’n goeie poging aangewend. Heerlik ge-eksperimenteer al was dit soms tot groot konsternasie en protes van almal se smaakknoppies. Teen die tyd wat die kinders gebore is, kon ek darem al vir Hubby en myself aan die lewe hou sonder ernstige nagevolge. Daar was hoop!
Maar kinders is ook nie die enigste ding wat kan groei nie, en klagtes het nie lank agterweë gebly nie. “Ek eet nie ertjies/rys/kerrie/spinasie nie.” Ano se antwoord was gewoonlik: “Hier woon ons ook nie in ’n hotel nie en jy sal eet wat jy kry, of bly honger.” Nikse “ag siestog, hier is vir jou ’n gourmet toebroodjie en ’n nuwe speelding nie…” G@t lek tel ook nie onder een van my talente nie.
Die lekkerste leuen was om vir Dogter te vertel dat ouma die spinasie met die trein gestuur het, al was dit net om haar sovêr te kry om enige spinasie te eet, want mýne was nie na haar smaak nie! Miskien was baie gebede nie om dankie te sê vir die kos nie, maar eerder ’n uitroep om hulp teen maagpyn of dalk iets ergers. Die kinders is dus op gebede en leuens grootgemaak. ’n Teken van uitmuntende ouerskap?
Ewenwel, Dogter aard baie beslis nie na Ano nie en haar talente in die kombuis laat mý mond water! Dit is tuisgemaakte roomys en geregte waarvan ek die naam moet Google om te sien of dit van die planeet aarde afkomstig is. Phew.
Om die jaar mooi af te skop, kom skoonseun tydelik hier woon terwyl hy ’n kursus bywoon. ’n Laaaanngg kursus. Ano se oë trek al skeel by die gedagte dat sy ’n Wes-Kapenaar op Gautengse spyskaart aan die lewe moet hou. Vis is ’n vreemde ding in die land van rooivleis en mieliepap. Dit is nou nie dat die man kieskeurig is nie, maar daar is wel ’n tikkie bekommernis dat hierdie vrou geweeg en te lig gevind gaan word, al vertel die blik-skaal iets anders.
Ek blaai lusteloos-paniekerig deur die verweerde kookboek en raai, daar is selfs spyskaarte in! Dit help al dat my brein nie dalk by hoender nr.1 en hoender nr.2 vashaak nie. Dit begin al selfs maklik lyk! Ano se selfvertroue styg met een graad. Kook en Geniet, hier kom ons (weer)!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.