Jongste aktiwiteit:

Geite en Feite (Silwer)

Snaaks hoe iemand iets kan kwytraak, ander dit kan opraap, en ‘n geit oornag kan laat verander in ‘n feit!
Kyk nou maar net weer al die berigte en sensasionele stories en boodskappe wat oor ons spoel vandat die “corona” ontwaak het. Voor dit was dit die “sars” en voor dit … So sal ons kan aangaan en aangaan.
Dat dit ‘n ernstige toedoen van sake is, sal niemand oor stry nie, maar lees mens al die bespiegelings, vermanings, selfs grappies daaroor, verwonder mens jou aan die mensdom se ryke verbeelding en vermoë om so maklik iets totaal uit verband te ruk.
Kieme en virusse was daar nog altyd en sal daar altyd wees. Sommige glo kinders moet kieme kleintyd inkry om immuun te raak teen siekword en besmetting. Ander glo weer kinders moet skoon en higiënies gehou word, kiemvry huise, speelterreine, ens. Wat dan is die regte manier van lewe en doen? wonder ons so baie, want daar is soveel uiteenlopende teorieë dat mens soms voel soos ‘n “verkleurmannetjie in ‘n smartieboks”.
Oneindige hoeveelheid boodskappe het al my arme selfoon getref wat so teenstrydig met mekaar is, moet mens maskers dra ja of nee, moet mens handskoene dra ja of nee, kan mens winkels toe gaan ja of nee, ens. ens.
Ja, mens moet luister na die KUNDIGES (nie sommer elke jan rap en sy maat se siening nie) en jouself probeer beskerm sover moontlik, sonder om oorboord te gaan. Ook nog steeds onthou dat jy mens is en elke dag moet lewe en funksioneer.
Met al hierdie goed wat nou so op die voorgrond is, laat dit my dink aan die prentjie van ‘n klein klippie wat in ‘n dam water gegooi word en kring op kring vorm, al groter en al wyer.
Hoeveel keer gooi ons nie self so ‘n klein klippie in die dam nie? Hoeveel keer het ons nie al self kringe veroorsaak en water geskommel nie?
Die nadeel van so ‘n geskommel van water, is dat dit al die vuilgoed wat op die bodem lê weer aan die beweeg kry en na die oppervlak bring. Dit vat dan eers weer geruime tyd voordat alles afsak en die water weer helder kan word.
As ons tog maar net kan besef hoeveel krag daar agter woorde lê! Hoe ‘n enkel woord of sin, ‘n totale omwenteling in iemand se lewe kan veroorsaak.
Ons moet leer om daagliks in wysheid te dink, te praat en op te tree (soos die Skrif ons leer). Daardie lui/gedrosde wag weer terug te roep en staan te maak voor die poort van ons “moeilikheidmaker” (tong/mond).
Ook moet ook vra vir ‘n gees van onderskeiding, sodat ons die feite van die geite kan skei, want om in vrees en onsekerheid te lewe het sy eie nadele en veroorsaak soms erger siektes (fisies en geestelik) as enige kiem of virus.
Die kruks van die saak is dat ons GEEN beheer het oor goed wat gebeur nie, maar dat ons wel kan KIES hoe ons dit wil en gaan hanteer. En die manier HOE jy dit hanteer, maak van jou ‘n oorwinnaar of ‘n sukkelaar.
Daar is ‘n Engelse gesegde wat dit baie raak stel: “If you worry you die, if you don’t worry you also die, so why worry?”
‘n Feit is dat daar slegs EEN is wat wel in beheer van sake is. In hierdie Paastyd herdenk ons SY liefde en grootse opoffering om ons juis vry te maak van kommer en verganklikheid.
As ons fokus reg ingestel is op HOM, kan ons maar rustig (versigtig) voortleef en weet . . . Hy beskerm ons.
Mag jy ‘n geseënde Paastyd hê en weer onder die diep besef kom van SY genade en groot liefde vir jou!
©Driekie Grobler
630 woorde




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed