Litteken
Litteken
Die oorwegings en die hoë standaarde was oorweldigend. Ons was in standerd ag (graad tien van die ou bedeling), ons was veertien jaar oud, ons hormone was al amper op die maan van bokspring en die druk uit vriendekringe was, soos die Kaapse Suidoostewind, onophoudelik intens. Ek het mooi besin en stadig besluit en uiteindelik het ek haar raakgesien.
Dit was ‘n tyd voor selfone en whatsapp, dus was ‘n handgegriffelde briefie, van hand tot hand aangegee in die Afrikaanse klas op ‘n Donderdag die kommunikasienorm. My briefie was kort en saaklik, “Wil jy saam met my gaan fliek Saterdag?” Geen asseblief, geen uitnodiging met goue letters nie, net ‘n vraag met my naam daarby, en dit was al wat nodig was.
Karla (haar naam vir die doel van dié storie) was ‘n ware rabbedoe, ‘n “tomboy” wat enige seun op sy plek sou sit. Sy het die mooiste bruin oë gehad en ‘n skaterlag wat absoluut aansteeklik was. Ek was so verbibbereerd gewees (ja, ek het gebewe en gebibber en was verbouereerd) oor my oomblik van waan. Ek het dadelik die uitnodigingsbriefie se antwoord gelees, “Ja” en in my geesdrif teruggestuur met ‘n vermaning dat sy nie moet voel dit is nodig om ‘n rok te dra nie. Na ‘n paar minute het ek die verfrommelde briefie terug ontvang wat my ten volle voorberei het vir wat kom. “Ek dra net jeans by die huis, nie rokke nie!” (met ‘n uitroepteken) was haar antwoord. Ek het instinktief geweet my keuse was goed.
Karla was die middelste dogter van drie, die donkerkop, die anderste ene. Sy was beslis anders en terselfde tyd ‘n wonderlike mens. Na ‘n paar weke het dit duidelik geword dat ons nou “gekys” was. Ek was nie die held of die “stud” in die skool nie, en sy was nie die trompoppie of die skoonheidskoningin nie, maar ons het bymekaar gepas. Ons belangstellings was dieselfde, ons persoonlikhede het mekaar gekomplimenteer en ons sin vir humor het so oorvleuel dat ons verhouding op ‘n manier baie maklik en gerieflik was. Sy was pragtig in elke opsig, veral in my oë. Haar een voortand, en sy het baie mooi tande gehad, was effens skeef. Met haar uitbundige lag het sy telkemale haar hand voor haar mond gehou. Sy het ook ‘n sny op haar duim gehad wat ‘n duidelike litteken oor die voorkant van haar duim gelaat het. John Legend het die woorde “I love all your curves and all your edges, all your perfect imperfections” nou onlangs bekend gemaak, maar ek het dit in 1977 reeds beleef (miskien moes ek dit toe al geskryf het).
Die eerste Saterdag was amper te veel vir my gemoed. Ek was so opgewonde en het so baie moeite gedoen om seker te maak als goed sou afloop. Sy het ‘n wit bloes met blou jeans gedra, oop sandale en haar hare het los gehang. Die verandering van die skooldogter in die blou rokkie met die vlegsel tot hierdie beeld van ‘n meisie wat ongelooflik pragtig is, het my asem skoon weggeslaan. Ons was op ons senuwees, skugter en opgewonde, maar ons het geweet, op ons kindermanier, dat dit goed was.
DIt het ‘n instelling geword. Saterdag het sy ‘n lang treinrit geneem om te kom tot waar ek in die speelgoedwinkel gewerk het. Dit was dae toe winkels nog teen tweeuur op ‘n Saterdagmiddag toegemaak het. Ek het twaalf rand ‘n Saterdagoggend verdien. Dan het ons hand aan hand na die Spur gestap. Ons het liggies duime gevryf, dit was ons ding. Ek kon die litteken op haar duim teen myne voel. Daar was twee koeldranke met een bordjie slaptjips bestel. Daarna het ons ‘n fliek gaan kyk by een van die twee teaters. Ek het saam met haar trein gery tot by haar stasie, gewag tot haar ouers haar kom oplaai en dan teruggery na die stasie naby my eie ouerhuis. Partymaal het ek die paar kilometer huistoe gestap en die herinneringe van die middag met Karla geniet.
So stap ons toe die laaste jare op skool saam, ek en Karla, ‘n paartjie binne ‘n groep. Ons verhouding was alom bekend by al die onderwysers. Die bibliotekaresse ons uitgenooi vir ‘n kuier by haar huis en ons aan “Flaming Sambuca” voorgestel. Sy het ons op ‘n mooi manier probeer vertel om die verhouding te koester. Sy het ons gemaan dat ons nie moet toelaat dat dit ons matriekjaar en eksamens moet beïnvloed nie. Sy was opreg in haar bedoeling. Ons Engelse onderwyseres het na ons as “a very special couple” verwys en gesorg dat ons saam kon sit, maar heel voor in die klas. Karla was geselserig en ek ‘n dromer.
In 1980 gaan ons toe ook saam universiteit toe, deel dieselfde studierigting, kuier saam en doen alles saam. Daar was oomblikke en kortstondige tye van opbreek en woede wat gewissel het tussen muwwigheid en ‘n drang om klappe uit te deel, maar ons was saam. Deur die jare, dink ek, het ek en sy altwee geleer om lief te hê. Om mekaar se “andersheid” te aanvaar sonder om dit te bevraagteken. Ons het begin om ‘n toekoms saam te beplan, maar ek moes 2 jaar diensplig in die SAW gaan doen en ons het uitmekaar gegly soos botter op ‘n warm plaat.
Vandag, 42 jaar later het ek al baie ander draaie gemaak. EK was getroud, is nou geskei en my lewe loop ‘n wye pad. Karla is ongelukkig kort na my huwelik in ‘n motorongeluk oorlede. Ek dink somtyds aan haar en wat kon gewees het as ons kinderdrome tot werklikheid sou bloem. In sulke oomblikke onthou ek klein dingetjies van haar, haar oë en haar hand voor haar mond as sy lag. Dit is ook dan dat ek weer haar duim onder myne voel, die litteken se merk, en dan besef ek dat sy, Karla, vandag ook ‘n litteken op my hart gelaat het.
© Grootvissie
Februarie 2018
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2018 - Liefdes projek