
Op reis: Dag 1; Boshof
Die eerste aand was lekker.
Whiskey in die voortuin … later skaapboud en rooiwyn met groente en aartappels (behalwe niemand het aartappels geëet nie want my boude raak dik daarvan).
Die kuier was lekker. Gevul met geskiedenis, vandag se gebeure en voorspellings. Tussendeur maak hulle kind groot en ek gee raad.
Ek hoop dit is goeie raad. Dit is maar ‘n mengsel van ervaring en intuïsie … dis aanvoeling, van 16 jaar se ouerskap en 13 jaar se onderwys. Ek hoop dit help. Engele is skaars en hulle moet met handskoene aangepak word.
Die pad was lank … as ek nie mense op Boshof gehad het nie sou ek al nes wou skrop op Hoopstad … miskien dalk vir sentiment afgedraai het Bloemhofdam toe … So asof Boshof nie genoeg van sy eie sentiment het nie.
Oupa se Rooidakskool bestaan nog net in gebou, sy naam en sy leerlinge is lank reeds aangepas so saam met die veranderinge van die tyd. Êrens buite die dorp het Dr. Pellissier sy piekniek gehou en sy Sweedse danse aan die Afrikaner as Volkspele kom skenk. Nog herinneringe uit my verlede wat beelde oproep van familie-byeenkomste, tiekiedraai en ‘n kappie wat nog êrens agter in my kas lê.
Ek het nie Boshof toe gekom om volkspele en Van Vollenhovens te onthou nie. Ek het kom kuier. Ek het my eertydse (klop op die skouer vir die aanwending van hierdie woord) bure kom besoek. Ek het kom rus en my siel en my hart kom laaf.
Ek het kom vergeet.
En ek het vergeet. Ek het vergeet van my hede en gaan terugspring in ‘n verlede lank voor my eie …
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.