Jongste aktiwiteit:

Op reis: Gepak

Op reis: Gepak

My tas is gepak. My kosblik ook. Met ’n paar bottels wyn, crackers en grondboontjiebotter. En ’n paar perkses wat ek perongeluk op die winkel se yskasrak gesien het.
Môre vat ek die pad. Dit is nie die eerste keer dat ek in my kar klim en so ver ry nie. Dit is ook nie die eerste keer dat ek dit alleen doen nie. Maar dit voel so. Die rivier is al leeg en die see is al vol.
Maar ek sien uit. Ek sien uit na draf in die oggend op ’n vreemde pad. Ek sien uit na aande waar net ek en my skryfgoed, stil, met mekaar kan praat.
Iets gaan gebeur op hierdie reis. Ek kan dit aanvoel. Ek weet dit gaan my lewe en my hart onherroeplik verander. Vanaand is ek meer opgewonde, maar rustig, as wat ek bang is.
Stoffie is ook reg. Sy maag is vol en sy tekkies blink. Hy het lanklaas gehardloop. Ek dink hierdie is dalk ons laaste maraton saam … sy klok stap ook al aan. Dit was ook hy wat my op my eerste reis alleen geneem het 5 of 6 jaar gelede. Deur die Vrystaat tot in die Noord-Kaap. Dit was ook ’n reis van verandering. ’n Reis wat my lewe omgedraai het. Ek het my roetine bevraagteken en persektief begin soek waarbinne ek dit kon plaas.
Dalk is hierdie die eindpunt. Die bestemming van daardie reis wat ek op daardie dag begin het. Die soeke wat aan my begin kleef het en nog verbete wil klou. Maar ek is klaar met die soeke. Ek is moeg vir wonder. Ek is moeg vir gedagtes wat aanhou swerf en nooit sy wortel wil skiet nie.
Met my liggaam en siel sal ek altyd reis, maar nie meer soos iemand wat verlore sy huis êrens op verlate paaie wil soek nie. My huis is nie daar nie. My vrede ook nie.
Ek gaan nie om die son te soek of die maan te verstaan nie. Ek gaan want as ek by die huis kom gaan ek voel ek is tuis.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed