STERK STILTES (BRONS AFDELING)
STERK STILTES (BRONS AFDELING)
(persiese kwatryn)
Honderde jare het alreeds verloop;
helde het dikwels hul siele verkoop;
dinge het sedertdien so verander,
tog het die mens nie verleer glo en hoop.
Op die water het sy hom weggesteek
en die farao se spul wette verbreek:
die profetiese koms moes voltooi word –
sý was die een wat geloof kon bly kweek.
Hoe moeilik was die keuse tussen twee:
sy’t diep geweet wie neem die regte weë!
Moes selfs haar blinde Isak ook bedrieg
om die geskiedenis reg te betree.
Desperaat het sy haar seun afgesmeek;
is bespot, beskinder, die draak mee gesteek –
sy’t belofte gehou: hom afgegee.
Hy’t ’n koning gesalf; grense oorsteek!
Rondom jou sien jy oral oor vroue:
sterkes, stilles, die luide, die oue.
Elkeen loop met ’n storie in haar hart:
iets kosbaars en vir altyd behoue.
Jogebeds: steun steeds vir Moses vandag.
Hanna’s: genoegsaam met Samuel se lag.
Niks het dus sedertdien verander nie!
Rebecca’s: immer strateeg – stil en sag.
© Charlene Jordaan Kotzé
(Julie 2022)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2022 Wat skryf ek?