Jongste aktiwiteit:

Duineveldsand

Hoe vind ek jou hart?
Hoe vat ek jou spoor?
Oor die duineveldsand
Het jy my verloor

Toe die skemer kom
Was die spore dof
Deur die wind verwaai
Weggesteek in die stof

Met die nuwe dag
Was ek steeds verdwaal
Want jy roep na my
In ‘n vreemde taal

Wat my hart verstaan
Maar my oor nie hoor.
Oor die duineveldsand
Het ek jou verloor…

©Anton Bosch 25/08/2017




1 Kommentaar

  • See-Jay-El

    Vier kwatryne met gebroke rym wat die verdwaalde soeke na die verwaaide spore eggo. Die stuk begin met twee vrae, wat die verslaenheid, desperaatheid van die verteller verklap. Dan volg die verduideliking, asof hy wil sê: "Dis nie, omdat ek nie wil nie, maar ek kan nie!" Dis belangrik vir die verteller, dat die ander party moet weet, dat hy 'n poging aangewend het om die spoor te volg, want "teen skemer" was die spoor reeds dof en weggesteek, maar teen "nuwe dag" was die verteller steeds "verdwaal." Anders as baie van jou ander liefdes gedigte, is hierdie een van die weiniges, wat 'n teleurstellende slot het. Tog het jy die luisteraar reeds in die eerste strofe voorberei op die slot. Nietemin laat die woorde mens regop sit: "want jy roep na my in 'n vreemde taal wat my hart verstaan, maar my oor nie hoor." Dit kan beide letterlik en figuurlik opgeneem word. Letterlik sou dit wees dat die persoon wat jy volg 'n ander taal as jou moedertaal gebruik, maar dat die woorde tot jou hart spreek, maar vreemd klink op jou oor. Figuurlik kan dit vertolk word dat die liefdes roep/verklaring jou hart aanraak, maar so vreemd tot jou as persoon is, dat jy nie wil glo wat jou ore hoor nie. Persoonlik dink ek die laaste is die geval. Dan kom die finale klimaks waar die verteller verklaar, dat hy die spoor van "liefde" verloor het. Opvallend dat die verteller verkies het om 'n duineveld te gebruik om die amperse onmoontlikheid van 'n suksesvolle spoorsny te beklemtoon. Hoe volg mens 'n spoor in los sand wat deur wind verwaai word, waar daar niks anders is wat iets van die "prooi" kan verklap nie... Weer wil ek klem lê op jou rym wat meesterlik net vloei deur die stuk. So kenmerklik van jou werk, bombardeer jy jou luisteraar met intriges wat jou noodsaak om verder te lees. Hoekom soek jy spoor, waarom het jy dit verloor en hoekom is dit vreemd vir jou oor, maar bekend vir jou hart? Mens wag vir 'n opvolg op die hoofstuk.

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed