Jongste aktiwiteit:

Deel 1 Vind jou voete

Metamorfose; die proses waar steenkool in ‘n pragtige gepoleerde diamant verander. Dit is tydens hierdie proses waar jy jou voete gaan vind en weer die lewe in die oë kyk. Die goeie nuus is dat dit nie die einde van die proses is nie. Met Augustus wat vrouemaand as tema het, lees en hoor jy van baie vroue wat wel die siklus deurstaan het en heel anderkant uitgekom het. Dit beteken nie dat alles perfek is nie. Nee, allermins. Hulle het nog hul eie gevegte en struikblokke wat hulle moet oorkom. Maar hulle het wel hul voete gevind te midde van die warboel wat om hulle heers.
Dit is die hoofoogmerk van my programme: om jou op ‘n plek te kry waar jy ‘n gebalanseerde lewe kan lei al woed die golwe om jou. Nie een van ons word gevrywaar van probleme en worstelinge nie maar die manier wat ons dit hanteer is wat ons laat uitstyg bo die res. Elke vrou kan dit behaal mits sy glo in haarself en die basiese riglyne volg. Ek kan net praat vanuit my eie ondervindinge en daarom benadruk ek dat ek nie ‘n berader is nie. Ek gee net weer wat ek geleer het. Daar is mense meer gekwalifiseerd om jou regtig te help indien jy professionele hulp nodig het. Kontak gerus jou naaste predikant of sielkundige vir advies.
Daarmee wil ek byvoeg, wanneer jy professionele hulp kry maak dit jou nie ‘n swakkeling nie. Dit gee jou die nodige selfvertroue en raad om jou voete te vind te midde van hierdie deurmekaar tyd. Dit maak jou sterker en jy skitter daar waar jy geplant is.
Die beginproses is pynlik, en jy gaan deur baie wroeginge maar as ek jou kan help om jou fokus van die onmiddelike af te haal en te fokus op dit wat jy kan verander dan het ek geslaag in my doel. Op die ou einde is ek die vroedvrou. Die een wat die sweet afvee, jou help met die kraampyne en asemhalingstegnieke leer asook jou hand vashou. Jy is besig om geboorte te gee aan ‘n diamant en het hulp nodig. Nie een van ons kan alleen ‘n “baba” in die wêreld bring nie. Daar is dokters, verpleegsters en paramedici wat hierdie taak professioneel kan doen. In die lewe-gewende proses het ons vriende, lewensgidse, predikante en beraders wat ons ook kan help.
Maar niemand kan die pad vir jou loop nie, dit is iets wat jy alleen sal moet doen. Daar was soveel aanpassings wat jy moes maak tot nou toe dat jy soms wonder of jy dit ooit gaan maak. En jou worstelinge is nog nie verby nie. Finansiële probleme kan lank aanhou nadat ‘n skeisaak verby is. Sommige vroue is jare sonder werk en is afhanklik van mense en instansies net om brood op die tafel te sit. Maar solank jy jou kop kan lig, die wêreld in die oë kan kyk en met selfvertroue dit kan doen is jy al klaar ‘n skitterende diamant in eie reg.
Dit gaan nie help om weg te kruip nie. Jy moet die lewe vierkantig in die oë kyk. Daardeur sê jy vir jou omstandighede, eintlik maak dit nie saak wat jy na my toe gooi nie lewe, ek sal triomfeer! Dit is ‘n kop en hartsbesluit wat jou sal deur dra.
Tydens my pad het ek baie keer gedink aan my voorsate. Vroue wat oor die berg getrek het saam met hul mans en die natuur moes trotseer, als vir ‘n nuwe lewe, weg van die Engelse af. Met net ‘n ossewa as beskerming. Dan dink ek ook aan die vroue wat omgekom het in die konsentrasiekampe, sommige het oorleef en teruggekeer na ‘n afgebrande wêreld, met niks en weer ‘n bestaan gemaak. Sommige, soos Generaal De La Rey se vrou wat haar vyf kinders in die veld grootgemaak het, met geen dak oor hul koppe nie, het geleef van die veld. Wat ‘n merkwaardige vrou moes sy nie gewees het nie. Hoe op aarde het sy dit gedoen? Die Engelse kon haar net nie vang nie. Wat in ‘n vrou laat haar bokant haar omstandighede seëvier en oorleef, ongeag die tekortkominge? Ek het baie daaroor gewonder maar die besef dat as hierdie vroue dit kon maak dan kan ek ook, het my deur gedra. Dieselfde bloed wat in hul are gevloei het vloei ook in myne. Hulle was ‘n voorbeeld en ‘n stille krag waaraan ek vas gehou het.
Baie van hierdie vroue het ook foute gemaak. Het mismoedig en verslae geword weens die lot wat aan hulle uitgemeet was. Hulle moes die dood van hul kinders en mans verwerk. Hulle het soveel hindernisse gehad om te oorkom, met geen idee hoe nie. En, hulle moes tog, anders was ons nie hier nie. Daar is so min van hulle stryd neergepen dat ek voel ons mis eintlik ‘n groot gedeelte van ons geskiedenis. Soveel klem word gelê op die veldslae en die generaals maar min is opgeskryf oor hierdie merkwaardige vroue. Tog is daar ‘n monument by die Voortrekkermonument opgerig ter ere van hul rol in die oorlog. Vroue moes agterbly en ‘n lewe bly maak. Hulle moes nog steeds kos op die tafel sit vir die vele honger mondjies, klere maak uit meelsakke vir die kinders net om ordentelik te lyk terwyl die mans die vyand getrotseer het. Maar ek dwaal af. Dit is ‘n onderwerp op sy eie en miskien eendag maak ek weer so.
Jy gaan foute maak!
Ek kan jou ‘n brief met ‘n rooi seël daarop gee. Dit klink miskien of ek spot maar ek doen nie. Dit kan selfs negatief klink maar dit is feite. Jy gaan foute maak maar in die proses gaan jy jou voete vind.
Transformasie is moeilik. Transformasie kos ‘n prys. Dit is ook ‘n tydsame proses wat net deur deursettingsvermoë en wilskrag realiseer.
Sondagaand kyk ons ‘n fliek “Body Snatchers” met ‘n baie jong Donald Sutherland in die hoofrol. Die storie handel oor Pods wat gegroei word in ‘n kunsmatige kweekhuis. Dit lyk soos groot, plantaardige sade – eintlik baie onnatuurlik. Op een of ander manier verskyn dit naby ‘n slapende persoon en kom ‘n blom te voorskyn. Dan verloor die pod sy blare en ‘n wese, verskans met hare en slym, kom na vore. Dit hele “geboorte” is nogal grillerig. Regte sci-fi goed waarvan baie mense hou. Elke pod gee dan geboorte aan ‘n persoon. En, die oomblik wat iemand wakker word is hy/sy ‘n nuwe mens. Sonder emosies maar mens. Uitdukkinglose mense sonder enige wil van hul eie. Hulle volg die instruksies soos robotte met geen benul dat hulle nuut is nie. Dit is nie transformasie nie maar die steel van menswees. Ons is gemaak met emosies. Om te sien, te voel, te leef en te ervaar. Ons word kwaad, ons het lief. Ons is verdraagsaam, soms buierig met geen rasionele begrip in sommige gevalle nie. Ons huil soms aanhoudend en lag sonder rede. Ons seer soms so oorweldigend dat ons dink dit gaan nooit ophou nie. Ons maak foute en ons leer. Tussendeur gaan die lewe voort en moet ons oorleef en worstel met die dag tot dag verwikkelinge. Dit is dan wanneer die druk te veel word en ons knak.
Soms wens ek ‘n mens kan die fout-maak-proses mis tydens herskepping maar dit is nie so eenvoudig soos om wakker te word en ‘n nuwe mens te wees nie. Nee, dit vat tyd. Die siklus van ‘n eier na ‘n skoenlapper is tussen ‘n maand na ‘n jaar. Afhangende van die soort skoenlapper. Net so is dit met jou. Die metamorphose proses, van jou voete vind in hierdie nuwe wêreld waarin jy jou bevind, verskil van die volgende persoon. Daarom is dit belangrik dat jy nie gefokus sal wees op ander mense nie maar dat jy net op jou alleen gefokus sal bly. Jy kan nie jou groei aan ander vroue meet nie. Slegs jou tyd en deursettingsvermoë gaan bepaal hoe lank jy gaan vat om jou voete te vind.
In hierdie proses van jou-voete-vind gaan jy foute maak, sommiges gaan baie maak, ander minder – dit hang af van jou uitkyk en ondervindings en selfs jou kennis. Maar elke fout is deel van die proses wat jou uiteindelik in ‘n pragtige skoenlapper gaan verander. Jou vermoë om tot hierdie nuwe pad te verander gaan af hang van jou vermoë om in te neem, te verstaan en dan oor te gaan in aksie.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed