
Mag Ek Jou Vra?
Mag ek jou vra hoe lief jy vir my is?
Wanneer die swart verdwyn
en al wat oorbly is die silwer op my hoof
en as my kragte my verlaat
om als vir jou te doen
soos wat ek so graag wil,
en as die dag dalk kom
waar selfs jou lieflike gelaat
vir my ‘n onbekende prentjie vorm,
sal jy my dan steeds liefhê?
Sal jy my hare vir my kam,
my trane droog as ek verlore raak
in my geslote wêreld
vol van vreemde dinge, mense, plekke?
Wanneer herinneringe
uit die gebreekte kruik
van al my mooi onthou
soos water in die dorre aarde wegraak,
en ek jou nie meer ken nie,
sal ek nog vir jou saak maak?
Sal jou onthou genoeg wees vir ons altwee saam?
Sal ek nog pas in ons vergete prentjie raam?
© Anton Bosch 06/08/2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.