Onthou om te huppel (vir Klarissa, met haar 21ste verjaardag)
Huppel over berge en heuwels
volg die kronkelpaadjies
wat oor veld en vlaktes vurk
en hurk langs die spikkeleier van ‘n bloukraanvoël.
Kyk, dit lê op barre aarde
tussen klippertjies en gras.
Skulp die kuiken van ‘n kolgans
in die holte van jou palms vas
voel hoe sag voel veredons
as jou vingers daaroor streel
en selfs die sekretarisvoël
sal haar kinders aan jou toevertrou
aan jou, met die helder oë
en die onskuld aan jou hande.
Dans oor somer koringlande
al staan die stoppels droog en vaal
immer sal die goue son
die amber en die heuning
uit jou gelaat en hare haal.
Wals onder ‘n hemel van blou saffiere
vind die stroompies
volg die riviere
wat water na die dorses bring.
Wandel waar die wolke
teen die horisonne wit
en waar kinders nog in skure
met hul rûe teen mure
van klei en steen kan sit.
Vind jou vrede
daar waar velde nog oor wye vlaktes baan
waar jy die penne van jou tent
diep in die aarde vas kan slaan.
*
Huppel over berge en heuwels
selfs in die donker van die nag
volg die kronkelpaadjies
wat deur gras en klippers vurk
en hurk waar spikkeleiers op die barre aarde vir jou wag.
En onthou
iewers vonkel vonkelsterre
en êrens
edeltin ‘n maan
C. Shaw
26 Desember 2015
*vir Klarissa (noudat jy 21 is)
2 Kommentare
-
neels
Ou juweeltjie wat weer so lekker lees Carma
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Kiekies
Ai man, jy laat my soms woordeloos, maar hiervan hou ek veral: Wals onder ‘n hemel van blou saffiere vind die stroompies volg die riviere wat water na die dorses bring.