Wese van Onrus
Daphne sien hoe die prinses haar gesig trek toe sy haar sien. Sy weet dat die prinses nie van die Beskermer-uitrusting hou nie, maar Daphne het geen keuse oor wat sy dra nie: alle Beskermers dra die gepantserde leer broeke, baadjies, stewels en mantels. En sy moet erken dat sy veilig daarin voel. Dit is iets waaraan sy kan klou in die onsekerheid wat in haar lewe ontstaan het.
‘Die prinses wil hê dat haar wagte beter moet aantrek. Meer modieus. Veral jy,’ het die Kommandant van die Beskermers vir Daphne gesê die dag na die Drake Hof se aanval.
‘Ek wil graag ‘n pos vêr weg van die Oniks Labirint gesellighede as moontlik hê, asseblief.’
Die Kommandant het net gelag. ‘Nee. As een van die min vroulike Beskermers, moet jy die prinses veilig hou. In jou Beskermer uniform.’
Daphne sug swaar. Plig bo alles.
‘Goeiemôre, Prinses,’ groet sy die Hertog se verloofde.
‘Goeiemôre, Daphne. Dit sou nog beter gewees het as jy iets mooi kon aantrek.’
Die Beskermer glimlag soos daar van haar verwag word. Hoekom sy die prinses nie van ‘n afstand kon oppas – of in stilte – nie, maak steeds nie sin nie.
‘Ek wil hê dat jy vandag saam met my deur die Oniks Labirint gaan.’
‘Waar wil jy graag gaan? Die Koningin se Teater, miskien?’
‘Nee. Ek wil nie toeriste dinge doen nie. Ek wil die mense leer ken.’
‘O.’ Daphne is nie verbaas nie. As die verloofde van die leier van die Oniks Labirint is dit heel natuurlik dat sy haar toekomstige onderdane wil ontmoet.
‘Die Labirint sal jou vat waar ook al dit voel jy moet gaan,’ sê Daphne.
‘Regtig?’
‘Ja. Die steen is lewendig. En die enigstes wat kan gaan waar hulle wil is die Elfies.’
‘Die knegte?’ vra die prinses verbaas.
‘Ja.’ Daphne hou haar gesig uitdrukkingloos. Sy weet hoe meeste van die adelstand voel oor Elfies, Beskermers en al die ander wat hulle voel benede hulle is.
‘Dis nogal interessant. Weet jy hoekom hulle mag het oor die Labirint terwyl almal anders magteloos is?’
‘Nee.’
‘Wel, kom saam,’ sê die prinses en gryp Daphne se arm. ‘Dis tyd dat iemand hulle vra.’
Nes hulle die deur bereik, bars dit oop om ‘n besige groep rokmakers met materiaal, patrone, skêre, maatbande en notaboekies in te laat. Agter hulle baklei die bruilofsbeplanners oor vuur-lelies en iets wat vreeslik baie na die pers-blou blomme van wolfswortel lyk.
‘Ek het vergeet…’ fluister die prinses, die opwinding van oomblikke tevore weg.
Daphne tree terug om die rokmakers en bruilofsbeplanners toe te laat om om die prinses te swerm. Sy hou haar gesig uitdrukkingloos selfs wanneer die bruilofsbeplanners die simboliek agter die blomme wat hulle gekies het verduidelik. Sy dink nie daaraan dat die prinses met Brandon gaan trou nie – sy dink eerder hoe die prinses met die Hertog gaan trou vir almal se onthalwe. Dit maak dit ‘n bietjie makliker om na die lawwigheid van die bruilofsbeplanners te kyk. Sy probeer hard om nie na hul nonsens te luister nie. Sy was beïndruk hoe die prinses ferm verduidelik het dat sy nie giftige blomme – hoe mooi ook al – by haar troue gaan hê nie.
Die arme knegte wat die brandende vuur-lelies en die giftige wolfswortels rond dra was maar net te bly toe hulle verdaag word. Daphne sou nie verbaas wees om te hoor dat die blomme by die naaste vullisgeut afgegly het nie.
Die geruis van materiaal maak dat die Beskermer terug draai na die prinses. Die rokmakers het almal weggedruk van die toekomstige bruid en was besig om haar al die verskeie skakerings wit en verskeie materiale te wys wat hulle kon kry. Daar was die gewone: sy gespin deur die blinde wurms in die bedompige tonnels buite die Groene Labirint wat in verskeie materiale geweef word en dan die duur soorte wat van die Howe op die oppervlak kom. Maar daar is een wat Daphne se oog vang. Dit was nie van die oppervlak nie. Dit kom ook nie van die Groene handelaars nie. Dit was anders. Diafane wit gare glim soos die sagte sy van ‘n spinnekopweb.
‘O,’ adem sy soos sy verstaan waar dit vandaan kom.
‘Sien jy een wat jy van hou?’ vra die prinses en bied die Beskermer nader.
Daphne gehoorsaam. Sy kan nie haar oë van die materiaal verberg tussen die oppervlak sy en dit van die Groene Labirint hou nie.
‘Die spinnekopsy. Dit is gemaak deur die Spinagtiges. En vreeslik raar. Hoe het jy dit gekry?’
‘Blaze het dit gestuur,’ sê die prinses.
Daphne knik. Die prinses van die Drake Hof, so vreemd soos sy is, moes seker ‘n ooreenkoms gemaak het met die Spinagtiges op haar reis na waar ook al dit is sy ‘n oplossing kan kry vir die kwale van haar onderdane.
‘Hou die materiaal op teen my Beskermer. Ek wil sien hoe dit lyk,’ beveel die prinses.
Die rokmakers brom ongelukkig, die bruilofsbeplanners trek hul neuse op, maar hulle moet die prinses gehoorsaam, nes Daphne moet.
Die Beskermer staan stil terwyl die materiaal oor haar gedrapeer word en die prinses na haar kyk van alle kante. Een materiaal na die ander word een kant gesit. Daphne probeer baie hard om nie soos ‘n pop te voel wat gemartel word deur die lewendige meisie wat enigiets kan kry wat sy wil hê nie. Die laaste materiaal, die diafane sy, voel lig op haar vel.
‘Blaze het goeie smaak. Die spinnekopsy lyk goed van alle kante. Maar…’
‘Ja, u hoogheid?’ vra die rokmakers.
‘Ek is nie seker of dit by my pas nie. Ek sal daaroor moet dink. Hou asseblief al die materiaal veilig.’
Die rokmakers buig en verlaat die prinses se kamer.
‘Ek wil hê dat almal van die Oniks Labirint en almal van die Eggo Labirint die bruilof moet bywoon. Ek wil ook hê dat ‘n paar hooggeplaastes van die ander Howe daar moet wees.’
‘Verskoon tog, Prinses, maar daar is nie genoeg plek hier om so ‘n groot troue te kan hou nie.’
‘Ek is seker julle kan ‘n plan maak. En die blomme: ek wil wit-en-groen rangskikkings hê. Geen giftige blomme nie.’
‘Sekerlik, Prinses.’
Hulle buig en gaan weg.
Daphne kan nie haar grinnik weg steek nie.
‘Ek weet wat ek wil hê,’ sê die prinses, amper soos vir haarself.
‘Dis nie ‘n slegte ding nie, Prinses. En ek is seker jou gaste sal eerder nie vergiftig of verbrand wil word by jou troue nie.’
Die prinses glimlag. ‘Kom, dan gaan ontmoet ek die Elfies.’
Daphne knik en hulle gaan uit.
#
Die Beskermer is verbaas hoe ywerig die lewende steen is om hulle na die Elfies te vat. Gewoonlik moet sy in sirkels loop om te kom waar sy wil wees. Amper asof die Labirint met haar speel.
Die vertrek wat hulle binnetree is onbekend aan Daphne. En as sy die knegte se uitdrukkings reg lees is hulle nie daaraan gewoond om gaste daar te ontvang nie. Hulle almal staan op toe hulle die prinses herken.
‘Beskermer Daphne, jy moes haar nie hierheen gebring het nie,’ sê ‘n kneg, bekommernis geskryf oor haar gesig.
‘My beskermer het my ingelig dat net julle die steen van die Labirint kan manipuleer. Is dit waar?’ vra die prinses.
‘Dit is, meesteres. Maar donker toorkrag kan dit ook doen,’ antwoord ‘n Elfie.
Daphne onderdruk ‘n rilling. Sy onthou goed hoe die feetjie katte dit reg gekry het om in die Oniks Labirint in te kom.
‘Ek sal later verduidelik,’ sê sy vir die prinses.
‘Weet julle hoekom julle hierdie gawe het?’ vra die prinses.
‘Ons –’
‘n Geskreeu keer die Elfie om te antwoord.
Daphne plaas haarself dadelik tussen die prinses en waar die klank vandaan gekom het.
Die Elfies beweeg vinnig weg van dit wat gemaak het dat een van hul eie kop verloor het.
Iets die groote van ‘n Dwergie, maar oortrek met growwe rooi pels, maak sy weg in die vertrek in. Sy gesig is verrimpeld. Die reuk van vars grond kom van hom. Ten spyte van sy vuilheid, kyk hy na die skoon Elfies met hoop en wonder. Hulle tree terug.
Daphne weet dadelik dat hierdie wese nie ‘n bedreiging in hou nie. Hy is verdwaal, moontlik honger en duidelik op soek na iets beter as wat hy agtergelaat het.
‘Wie is jy, vreemde wese?’ vra sy.
Sy gesig helder op toe hy haar sien en hy val op sy kniëe voor haar.
‘Meesteres! Ek is geëerd!’
Daphne voel absoluut verward. Sy weet dat die fyn prinses nog agter haar versteek is.
‘Ek is Gary. Ek is ‘n vuil-vos-kabouter. Ek het die oppervlakte gevlug – die oorbevolking en verwoesting van die Mens het net té veel vir my geword.’
‘Ek is Daphne, Beskermer van Prinses Calliope,’ stel sy haarself en die prinses wat agter haar uitgetree het voor.
‘Soek jy ‘n nuwe tuiste, Gary?’ vra die prinses op haar gawe manier.
‘Ja, meesteres.’
‘Dan sal ons jou help.’
‘Prinses,’ fluister Daphne, ‘hy gaan nie hier inpas nie. Hy het ‘n tuiste met plante en grond nodig waarin hy kan grou.’
‘Hoe weet jy dit?’ vra die prinses met verwondering.
‘Hy is oortrek met vars grond, sap en takkies. En hy lyk heel gelukkig.’
‘Ons sal jou ons tuiste wys,’ sê die prinses vir die vuil-vos-kabouter.
Daphne gebied ‘n paar Elfies om saam met hulle te gaan al kan sy nie die prinses se plan klein kry nie.
Die Elfies brom ongelukkig, maar nie hard genoeg om die prinses te ontstel nie.
Die Elfie wat haar gehelp het om onstlae te raak van die donker muse lei die weg na die Labirint.
Orals waar hulle gaan met die wese is dit duidelik dat die ander feë nie te gelukkig is met hom daar nie, maar hulle sê niks nie.
‘Ons moet gaan,’ sê Daphne toe hulle die tuin binnetree wat altyd die plek van haar avonture met die Hertog blyk te wees.
‘Hoekom?’ vra die prinses en kyk verward rond.
‘Ek het nodig om jou veilig terug in jou kamer te kry voordat ek die vuil-vos-kabouter na sy nuwe tuiste kan neem.’
‘Jy weet van ‘n plek vir hom?’
‘Ja.’
‘Ek verstaan nie. Hoekom het jy die toer dan toegelaat?’
‘Ek volg bevele,’ antwoord die Beskermer uitdrukkingloos, sy voeg nie by dat sy selfs belaglike bevele volg nie. Maar die prinses se uitdrukking sê duidelik dat sy verstaan wat Daphne nie gesê het nie.
‘Jy’t nie nodig om my na my kamer te vergesel nie. Ek kom saam met jou. Dis ‘n bevel.’
‘Sekerlik.’
‘As julle albei Hoë Feë is, hoekom is daar hierdie meester-kneg verhouding?’ vra Gary die vuil-vos-kabouter terwyl hy hulle dophou met verwarring op sy verrimpelde gesig.
‘Dinge is anders in die Labirint as op die oppervlak,’ antwoord die Elfie wat agtergebly het.
Daphne weet dat die Elfie vir ‘n lang tyd tussen dié op die oppervlak gewoon het voordat sy na die Labirint gekom het. Al weet sy steeds nie hoekom nie.
‘Waar gaan ons heen?’ vra die prinses.
‘Êrens waar die vuil-vos-kabouter gelukkig sal wees,’ antwoord sy en hou die area fyn dop. ‘Daar,’ sy beduie in ‘n rigting. ‘Maak asseblief die gangetjie oop,’ sê sy vir die Elfie.
Die kneg doen wat sy gevra het en ‘n gangetjie gemaak van vasgetrapte grond maak oop. Dit gaan skuins op.
‘Ek sal voor loop, gevolg deur die prinses, die vuil-vos-kabouter en dan die Elfie,’ sê Daphne en loop die donker gangetjie binne.
Dit word nog donkerder toe die opening toe gaan.
‘Ek kan nie sien nie,’ sê die prinses benoud en gryp Daphne se arm.
Sy antwoord nie. Oomblike later begin die stene in die dak saggies glim.
‘Dit kan net in absolute donkerte gebeur,’ verduidelik sy aan die ander.
Sy lei die weg en volg net die gangetjies verlig deur die stene.
‘Hoe weet jy hiervan?’ vra die prinses in ‘n fluisterstem.
‘My ouers was handelaars. Hulle het van veilige roetes soos dié een deur die Labirint geweet. Net Elfies kan die deure aan elke kant oopmaak.’ Sy voel nie om meer te sê nie, al weet sy dat die prinses baie vrae het.
‘Ek ruik vars gedraaide grond,’ sê die vuil-vos-kabouter met verwondering.
‘Ons is besig om die Groene Labirint te betree,’ antwoord Daphne.
‘Hierdie skoene is nie hiervoor gemaak nie,’ sê die prinses toe hulle die laaste steilte na die deur klim.
‘Daai rok ook nie,’ kan Daphne verhelp om te sê nie.
Die prinses lag. ‘My eie skuld om aan te dring om saam te kom.’
‘Ons is hier,’ sê die Beskermer voordat sy iets dom doen soos om met die prinses saam te stem.
Die Elfie druk verby en maak die deur oop. Dadelik vul kunsmatige sonlig die gangetjie. Toe Daphne se oë aanpas sien sy net pragtige groen plantegroei voor haar uitstrek.
‘Wonderbaarlik,’ adem die prinses.
Dadelik verskyn ‘n man in groen leer voor hulle. Die prinses kruip onmiddelik agter Daphne weg.
‘Wat doen julle hier?’ dring hy aan met ‘n dreigende houding.
‘Ontspan, Woud Beskermer.’
Hy kyk haar op en af.
‘Oniks Labirint Beskermers hoort nie in Groene –’ Hy stop toe hy Gary gewaar.
‘’n Vuil-vos-kabouter?’ vra hy verbaas.
‘Ons het gedink dat hy eerder in jou Labirint hoort as in ons s’n,’ sê Daphne.
‘Welkom, vuil-vos-kabouter. Ons is geëerd deur jou teenwoordigheid,’ sê die Beskermer in groen met ‘n buiging na die kabouter.
Gary draai na Daphne en die ander. ‘Dankie dat julle my hierheen gebring het.’
‘Jy is baie welkom, Gary,’ sê Daphne.
‘Ek hoop jy is gelukkig hier,’ sê die prinses.
‘O, hy gaan wees,’ sê die Woud Beskermer.
Hulle sê vaarwel en die Elfie help hulle terug in die gangetjie in.
Dit gaan baie vinniger terug. Om afdraende te gaan is gewoonlik.
‘Ek is jammer dat ek jou in ‘n moeilike situasie geplaas het, Daphne.’
Die Beskermer se houding word stywer, nie seker wat om te verwag nie.
‘Dis moeilik om my plek in jou Labirint te vind. Ek het geen vriende hier nie. En alhoewel ek en jy baie tyd saam spandeer bly jy koud en op ‘n afstand.’
‘Beskermers is nie veronderstel om emosie te wys of te voel nie.’
‘Tog, sonder emosies sou jy nie vir Gary na sy nuwe tuiste kon lei nie.’
‘Opletenheid het my laat weet wat hy nodig het.’
‘En jou reaksie op die spinnekopsy?’ vra die prinses beterweterig.
‘Miskien as ek gelukkig genoeg is om die Kommandant se ouderdom te bereik sal ek nie meer emosies voel nie,’ antwoord sy en vat die laaste draai terug huis toe.
‘Gelukkig?’ vra die prinses met ‘n bewerige stem.
‘Meeste Beskermers en ander Feë in die Labirint gaan dood lank voor hul dertigste verjaarsdag. Jy weet dit, Prinses.’
‘Dis deel van die vloek op alle Feë wat durf om die Labirint hul tuiste te noem,’ sê die prinses hartseer.
‘Wel, ons gaan nie vandag dood nie,’ sê Daphne toe die Elfie die deur oopmaak na die tuin.
‘Tensy iemand my so sien,’ sê die prinses terwyl sy afkyk na haar lila rok se modder-donker soom en die merke op haar arms.
Die Elfie lag saggies en maak ‘n gang oop – die gang buite die prinses se kamer – in die muur langs hulle.
‘Dankie,’ sê die prinses en loop deur.
Daphne knik vir die Elfie wat vir haar oogknip voordat sy die opening agter hulle toe maak.
‘Dit was pret,’ sê die prinses toe hulle veilig terug in haar kamer is.
Daphne is verbaas dat dit waar is. Toe sy eers haar gevoelens een kant gesit het, kon sy hul geheime avontuur geniet. Die prinses is baie maklik om van te hou.
Dis net ‘n jammerte dat sy verloof is aan Daphne se een ware liefde.
Alhoewel Daphne plig oor liefde gekies het, beteken dit nie dat ‘n irrasionele deel van haar nie elke keer gemartel word wanneer sy herinner word dat sy nie saam met Brandon kan wees nie.
Sy haal diep asem om haarself te kalmeer.
Welvoeglikheid sou in die pad gestaan het van die Hertog en ‘n Beskermer om saam te wees al was daar nie klaar ‘n verlowing in die pad nie.
‘Kyk na die goeie kant, Daphne,’ sê sy vir haarself, ‘oor tien jaar of so is ons almal dood en maak dit nie meer saak nie.’
‘Wat was dit?’ vra die prinses van haar slaapkamer.
‘Niks nie, Prinses.’
Sy blaas haar ingehoue asem uit en begin reg asem te haal. Sy kan haar spiere voel styf trek omdat sy haar arms so agter haar rug hou.
‘Die groen leer van daardie ander Beskermer het nogal, a, nommerpas gesit,’ sê die prinses.
‘Vir beter beweging.’
‘Dink jy dit is moontlik dat jy jou swart uitrusting vir iets meer kleurvol kan verruil?’
‘Nee. Enigiets anders sal my net ‘n teiken maak teen die swart steen.’
‘Dis ‘n jammerte.’ Sy tree die hoofvertrek binne en draai in die rondte. Haar pers-blou rok is amper identies aan die lila een wat sy vroëer gedra het. ‘Kan jy raai dat ek êrens anders was?’
‘Nee. Jy lyk perfek.’
‘Dankie. Hoe kry jy dit reg om so te lyk ten spyte van waar ons was?’
‘Beskermer opleiding,’ antwoord Daphne met ‘n klein glimlaggie. Die prinses het nie nodig om te weet van die spesiale self-skoonmaak towerspreuk wat die Elfies op al haar klere gesit het as ‘n dankie vir alles wat sy vir hulle gedoen het nie.
‘Ek was verbaas deur die ander Beskermer se aanvaarding van Gary,’ sê die prinses.
‘Elke Labirint het sy eie standaarde en behoeftes.’
‘Baie waar,’ sê die prinses en kyk na haar weerkaatsing in die groot spiëel. Hartseer speel vlugtig oor haar gesig voordat sy Daphne se oë ontmoet. Sy draai om met ‘n glimlag. ‘Ons het toe nooit Elfies se storie gehoor nie.’
‘Miskien môre. Hulle moet nou aandete voorberei.’
‘Sal jy by ons aansluit vir aandete? Ek is seker Brandon sal nie omgee nie.’
Daphne haal diep asem deur die nuutste steekpyn in haar hart.
‘Welvoeglikheid, Prinses, sê ek kan nie. Ek handig jou nou oor aan jou aand beskermers.’
‘Goed dan. Tot môre.’
Daphne buig en verlaat die vertrek.
Die volgende dag gaan beter wees. En die volgende. Totdat emosie nie meer bestaan nie.
##
Hierdie is die vyfde verhaal in my reeks “Verhale van die Oniks Labirint”. Soos altyd gaan dit oor die Feë en hulle wêreld binne ons eie. Kommentaar is altyd welkom.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.