Jongste aktiwiteit:

Die gawe van gee – ‘n Kersboodskap (Silwer)

Die boodskap van die wêreld is, ‘sorg eers vir jouself en dan vir ander’. ‘Kyk eers goed na jou eie belange voordat jy jou veel steur aan ander se doen en late. Maak besluite waarby jý die beste gaan baat.’
Maar dis nie wat God van ons vra nie. Hy verag selfsug en eersug. Sy voorbeeld op aarde was die van nederigheid en diensbaarheid.
Hy was, as Koning, in die nederigste omstandighede gebore. Het ‘n nederige bestaan gevoer op aarde, om iets waardevols aan ons tuis te bring. Ons te leer wat werklik van belang is in die lewe.
Daarom verwag Hy van ons dat ons sal uitreik na ander. Hulle hoër ag as onsself. Hulle in aanmerking sal neem wanneer ons besluite maak. Hulle sal respekteer en daarvolgens behandel.
Vir ons, as mense, kan hierdie begrip soms ‘n baie moeilike opdrag blyk te wees. Ons wil tog so graag die beste wees, die vernaamste, die hoogste. Mens sien dit daagliks in optredes oral om jou. Mense is baie vinnig om ander te kritiseer en af te kraak, hulle te wil vertel hoe sleg en onbekwaam hulle is. Probeer ook baie hard om hul eie sake te bevorder, al is dit soms ten koste van ander of uit selfsugtige gewin.
Is ook nie bereid om te luister na ander nie, wil net self gehoor word. Wil altyd die laaste sê in elke saak hê. Wil die gewildste wees en tog net asseblief aan die voorpunt. Hulle eie wil laat geld en basta met die res.
Dis dalk hoekom dit tans in die wêreld gaan soos dit gaan. Daar is hopeloos te veel gesag- en bevelhebbers, wat elkeen hul eie idees en reëls wil laat geld, en te min dienaars, versorgers en navolgers.
Om diensbaar te wees vir ander, beteken nie om ‘n swakkeling of vloerlap te wees nie. Dit vat juis ‘n sterk mens om homself ondergeskik aan ander te stel. ‘n Suiwer hart en karakter om tevrede te wees met wie en wat jy is. Bereid te wees om terug te staan, te luister, te dien, ander te verhef.
Dit beteken ook nie om jou eie denke opsy te skuif nie. Om mense aan te hang wat absoluut teenstrydig met jou eie oortuigings is nie. Dit beteken bloot om ander met respek en eerbied te behandel.
Want sulke mense is die vredemakers, die liefdegeërs, die bemoedigers, die aanmoedigers, die ware voortbouers, en dis hulle wat in werklikheid uitstaan tussen ander. Want dié wat hulself verneder sal deur God verhoog word. En dié wat hulself verhoog, sal deur God verneder word. Want wat God tot stand bring, staan vas en sterk, en is nie wankelbaar soos die wêreld se valse standaarde wat telkens tot ‘n val kom nie.
Die diensbares hou alles bymekaar, terwyl die maghebbers als uitmekaar laat val, onmin veroorsaak, haat en wraaksug aanblaas, gierigheid en hebsug voorpraat.
Filippense 2:3-4 “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.”
Ons leef tans in ‘n seisoen van gee, van uitreik en help, maar ook van ontvang.
Die gawe van gee, lê by uitdeel aan dié wat nie het nie. Die inagneem van dié wat misgekyk word. Nie noodwendig geld nie, maar om iets te gee van jouself. ‘n Broodjie vir ‘n honger mens wat staan en bedel by die robot. ‘n Glimlag van erkenning vir die man wat jou motor so getrou oppas terwyl jy inkopies doen. ‘n Kombers vir iemand wat koud slaap op straat. ‘n Kospakkie vir ‘n behoeftige gesin. Inloer met ‘n blommetjie by ‘n sieke. Hulp van nodige takies vir ‘n verswakte. ‘n Troosboodskap vir ‘n hartseer of eensame mens. Daar is soveel meer.
Om van jouself te kan gee, is dit nodig om jou los te maak van kwantiteit. Te konsentreer op kwaliteit en met Jesus-oë na die wêreld en ander om jou te kyk. Was Hy dan nie die beste voorbeeld van omgee nie?
Die Wyse manne het duur geskenke vir Hom gebring, maar Hy het slegs belang gestel in die gee van Homself, tot aan die bitter einde. Nooit het Hy homself vernaam geag en Sy behoeftes eerste gestel nie.
Geen opoffering moet ooit te groot wees om vir ander iets te doen of te gee nie. Omgee en liefde is die grootste geskenk wat ons enige mens kan gee. Jou tyd, jou begrip, jou hulp en ondersteuning, jou respek en waardering, om net daar te wees. Dit is iets wat geen geld kan koop nie, maar veel kosbaarder as enige duur, gekoopte winkelgeskenk.
Kyk maar hoe vining vergaan die glans en opgewondenheid van ‘n duur, gekoopte geskenk. Gou is die nuutheid en waarde daarvan uitgedien en lê dit eenkant in onbruik, of word stukkend op die ashoop gegooi, met geen blywende waarde.
Maar omgee, ondersteuning en liefde, hulp waar werklik nood is, word vir ewig gekoester in die hart van die ontvanger.
Kom ons maak hierdie Kersfees ‘n uitreiktyd. ‘n Tyd van waarlik omgee en liefde bewys, deur hulp te gaan verleen waar die behoefte daarvoor groot in aanvraag is.
Kom ons gee hoop aan die hopeloses, liefde aan die liefdeloses en hulp aan die hulpeloses.
In ruil daarvoor sal ons die ware vreugde van Christus ervaar.

Driekie Grobler




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed