EK VERLOOR
EK VERLOOR
(Brons afdeling)
Wanneer niks wat ek was
meer is wat ek dink nie
en dit wat ek dink
net nooit meer reg klink nie
wanneer frases en woorde
eens melodieë was
maar nou afkolk in spirale
van sin(ne)lose verhale
en ek kop verloor dat die trane rol
en niemand besef ek raak innerlik hol
soos my siel beangs vasklou aan bros gebeente
en my buitekant verhard in stomme gesteente.
Wanneer rou teerheid vermeng raak
en blou seerheid verstreng raak
in vrae wat pal rumineer en ruïneer
en bitteres om my mateloos frustreer.
Stop dan die geraas binne my!
Stil die gekerm wat in my bly.
Help my uit sonder om te preek,
sonder oordeel: ek’s reeds gebreek.
Ek nodig jou. Nou
om my hand te hou
en deur my vensters te kyk.
Jy sal my siel êrens sien wegkruip.
© Charlene Jordaan Kotzé
(Oktober 2022)
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2022 Liriese projek