Pelgrimstog van ons liefde
in die warm
van jou asem
trek ons liefde
skadu’s in rympatrone
wat sag in diftong
deur die vat van jou vingers gly
om vir ewig in my hart te bly
waar ek dorstig –
(soos in die woestyn)
my kruike vul
soos een sonder
‘n eie wil
dan plant ek kosmos sade –
(dalk ‘n palm of twee)
om aan jou ewige rus
in doekvoettree te gee
waar jy my heil’ge
land eerbiedig
betree
vat ek jou dink
op ‘n Pelgrimstog
tot waar emosies oopskeur,
soos ‘n dooie see, en ons verdwaal –
(vir 40 jaar en meer)
‘wyl ons kwartels in ootmoed vang
ook manna uit bakhand eet
om dan totaal van tyd
se uurglassand
te vergeet
© Anzè Bezuidenhout
7 Kommentare
-

neels claasen
Die foto rond hierdie pragwerk volmaak af Anze. hierdie gedig het my n traan laat wegpink so mooi is dit
-

Viooltjie
Besonderse laaste strofe, Anze. Goed gedoen :-)
-

Kiekies
Og dis so mooi, veral: vat ek jou dink op ‘n Pelgrimstog tot waar emosies oopskeur, soos ‘n dooie see, en ons verdwaal – (vir 40 jaar en meer) ‘wyl ons kwartels in ootmoed vang ook manna uit bakhand eet om dan totaal van tyd se uurglassand te vergeet
-

Boetiegoed
Eish! Anze dit is sooo mooi!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Evelyn van der Merwe
Uitsonderlike woordspeling hier toegepas. Pragtig