Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Begin – Hoofstuk 8

Hoofstuk 8 — So Pynlik die Waarheid

Op die plaas staan Matthew op, versorg sy seuns en neem hulle uit om te gaan speel by die kliniek waar hulle onder toesig sal wees. Hy gaan sit weer by die kombuistafel en maak die volgende dokument oop — en hy verlang na Laurie.
Hy vat ʼn vergeelde koevert wat onoopgemaak is en wat geadresseer is aan Gregory Phillips IV, Beckhill Farms, Meanwood, Leeds, West Yorkshire, UK.
Hy draai die koevert om en sien die ‘Return to Sender’ stempel van die Britse Posdiens, en Vader Christopher se naam en die Sendingstasie adres in Qwaqwa en vou die brief oop.
14 Februarie 1987
Liewe Gregory
Ek vertrou die brief vind jou wel en dat julle gesond en veilig is. Teen die tyd weet julle seker dat Matthew nooit terug na Engeland is nie. Dit was ʼn sameloop van verskeie ongelukkige insidente en het tot gevolg dat ek ook nie vir Matthew terug na Nathan en Louis geneem het nie.
Nathan het probeer om Matthew na die missie te bring deur die pas op die vyftiende Desember — volgens Metando en Seshla Musuri. Nathan was onder die invloed en Seshla het geglo dat Nathan Matthew skade wou aandoen aangesien hy ʼn geweer by hom gehad het. Hy het hom met sy knop kierie gegooi, waarna Nathan oor die krans geval het en teen die berg afgestort het.
Hulle het Matthew die nag in die berg weggesteek en eers die sewentiende by die missie aangekom. Matthew was ellendig siek met sy aankoms en ek en Beatrice het onmiddellik met hom hospitaal toe vertrek. Ek het nooit die persoon wat Matthew moes kom haal gesien nie, as hy hier was, was hy reeds weg toe ons na Kersfees terug by die missie gekom het.
Almal weet dat Nathan Matthew nooit skade sou doen nie, maar wat gebeur het, het gebeur omdat die twee mense Matthew wou beskerm. Ek het Matthew hier gehou en wou hom in Januarie na Nathan terug neem, maar van die begin van Januarie het Graham Hill verkeie kere hier opgedaag en wou hy Matthew saam met hom neem. Hy het self sover gegaan om die welsyn beampte saam te bring om te probeer om Matthew weg te neem. Hy het egter geen reg gehad nie, aangesien ek geldige bewys van my familie band met Matthew het.
Dit breek my hart om te sê maar julle sal nooit ontslae wees van Graham nie, dit sal ook nooit veilig wees om Matthew terug na Engeland te neem nie. Graham sal julle en julle families vir ewig jag. Hy sal nooit ophou tot hy julle gevind het nie. Indien Matthew Engeland toe gaan sal Selma haar vryheid moet prysgee om hom te sien en dit kan tragies gevolge hê. Ek sal geen verdere poging aanwend om Matthew na enige plek te neem nie want ek glo hy is die veiligste by my.
In die afwesigheid van jou en Selma het ek besluit om Beatrix te vra om my vrou te word en om Matthew aan te neem as ons seun. Ek het reeds met die hulp van die kerk die aansoek ingehandig en is vol vertroue dit toegestaan sal word.
Met die hulp van die kerk is daar ook verdere planne om ons te beveilig. As gevolg van wat ons beplan sal die ons laaste kommunikasie wees. Weet net ons sal Matthew liefhê en met ons lewens beskerm.
Vader Christopher.

Nou weet Matthew waarom niemand hom tot nou kon opspoor nie. Vader Christopher het hulle van verander en hulle is in dieselfde tyd weg uit Qwaqwa na Lesotho. Matthew voel absoluut oorbluf met alles wat hy nou weet — Waar pas Johan in en wie was Graham Hill — ʼn kennis of kollega van Johan?
Matthew weet nou met sekerheid, Nathan wou hom nooit leed aandoen nie. Nathan en Louis Olivier het hom liefgehad en wou net help. Hy weet dit is die woorde wat hy vir Laurie wil sê na hy haar gesê het dat hy haar liefhet en nie sonder haar kan, of wil leef nie.
Dit vat hom ʼn paar minute om tot verhaal te kom, hy besef, sy ouers het nooit die belangrike brief gesien nie. Hulle het nie geweet wat van hom geword het nie. Nou weet hy, hy wil ten minstens probeer om sy pa of ma op te spoor as een van hulle nog leef. Hy dink hoe graag hy sy ma net nog een keer wil sien, die gesig wat hy vergeet het.
Matthew los die hopies dokumente op die tafel, hy sal later vandag verder lees — nou eers net verwerk wat hy weet. Hy staan op, stap uit en gaan soek sy seuns by die kliniek — Dankie Here vir die genade van die twee seuns.

Wanneer hy met die seuns in die kombuis instap is Metando en Seshla daar, duidelik wagtend op hom. “Metando?”
“Dis oor Laurie wat ons moet praat.”
“Wat is dit Metando.”
“Die polisie man wat hier kom, hy was hier gewees toe jy weg was na die ‘missie’ toe,” en die onrus is in Matthew.
“Wat het hy gesê Metando?”
“Hy wou weet of Laurie ʼn boks vir hom gelos het.”
“Wat?”
Seshla begin met die hartseer wat hy voel, praat — “Matthew ek is jammer, ek het hom toe gesê van die boks wat saam met die kruideniers uit Laurie se kar gekom het en dat ons dit terug in die kar gesit het.” Matthew voel die klopping in sy slape van die spanning.
“Matthew ek dink die polisieman, is dieselfde polisieman wat lank terug, voor jou mamma weg is, op Louis se plaas was — maar hy het ʼn ander naam gehad.”
Matthew voel die skok — “Was dit ʼn Engelse naam Seshla?”
“Ja — ek dink die naam het soos berg in Engelse geklink.”
“Was dit ‘Hill’”
“Ek dink so. Hy het in Laurie se kamer gegaan en die deur toegemaak, ek is jammer Matthew, maar ek was bang vir hom want hy is ʼn polisie man.”
“Dit is nie jou skuld nie Metando, glad nie jou skuld nie. Los dit met my, ek sal na Laurie kyk. Gaan julle twee terug huis toe en gaan rus.”
Nou weet Matthew wat die verbintenis tussen Johan van Graan en Graham Hill is — hulle is een en dieselfde persoon. Matthew weet Laurie is in gevaar, wat hy soek is die kartondoos en dit beteken hy sal Laurie leed aandoen om dit te kry.
Hy weet hy moet dringend ʼn boodskap by Joos kry om Laurie te waarsku en hy haat homself omdat hy haar nie nou dadelik kan skakel nie. Hy vat die radio en vra vir Sersant Des om hom dringend met Joos in verbinding te bring.

Laurie bly by haar pa tot na die middag besoektyd, amper te bang om te gaan terwyl hy weer deurmekaar voorkom. Wanneer sy opstaan om te loop, kom sy woorde sag maar duidelik. “Ek weet nou dat ek Matthew nooit oor die plaas sou moor nie… want ek is Gregor Armsby se seun… en die een plaas het my toegekom.”
Laurie val soos ʼn persoon wat geskiet is terug op die stoel — Wat nou? flits dit deur haar gedagtes. Al wat deur Laurie se gedagtes gaan is dat die waarheid wat Nathan vryspreek, haar lewe wegvat — sy en Matthew is bloed familie… “Wat sê pa?”
“Ek is die seun van Gregor Armsby.” Sy struikel uit die kamer in wanhoop — Dit wat sy die graagste in haar lewe wou hê, is met die bekentenis weggeneem — Here asseblief maak dat pa deurmekaar is en dit verkeerd het.
Sy staan een lang minuut met haar rug teen die muur net buite haar pa se kamer en probeer om op ʼn biologiese manier die bloedverwantskap te verwerk. Sy weet daar is geen uitkoms hieruit nie, die bloedband is te naby en al wat deur haar gedagtes gaan is — Dankie daar was geen seksuele verhouding nie want dit sou sy nie kon regverdig nie.
Sy druk die aktetas teen haar vas, hardloop deur die gang na buite en vas in die sekuriteitswag wat haar haastig vasgryp om haar val te keer.
“Goeie naand — is u die eienaar van die blou Ford viertrek?” en hy gee haar die registrasie van haar voertuig.
“Ja.”
“Jammer om u te ontstel maar daar is so pas in u voertuig ingebreek.” Laurie voel die naarheid oor haar kom en al wat sy kan dink is — nou nog dit ook.
“Het u die persoon gevang?”
“Nee hy was reeds weg teen die tyd wat ons by die voertuig gekom het. Daar was ʼn Polisie Offisier in private drag wat alles gesien het maar hy kon ook nie die persoon vastrek nie.”
Laurie weet skielik wie die ‘Polisie Offisier’ is — Johan van Graan en ook weet sy wie die inbreker is. Hy weet van die kartondoos wat in haar voertuig is en nou is haar agterdog versterk, hoe kon hy ooit weet?
“Het hy sy besonderhede gelaat?”
“Nee — ongelukkig nie.”
“Kan u asseblief kom kyk wat weg is, die Polisie is reeds op die toneel.”

Waar Laurie ʼn paar minute gelede huilend in haar motor wou sit en treur, is daar nou ʼn woede in haar wat alles oorheers, selfs haar verlies aan intiemheid met die enigste mens wat sy ooit liefgehad het.
Die deurgaan van die inhoud van die voertuig en die bevestiging dat niks weg is nie, is maklik, aangesien Laurie weet dat haar voorgevoel oor die kartondoos en die inhoud reg was, dit is waaragter Johan was — gelukkig dit is reeds op pad na Joos. Weer kom die vraag by haar op, hoe het hy geweet dat daar iets in haar voertuig is?
Laurie bly staan langs die voertuig terwyl die Konstabel die voorval se besonderhede aanteken.
“Lyk ook of dit iemand is wat ʼn ekspert is want niks is gebreek nie, so hy het moontlik gebruik gemaak van ʼn instrument om die deur oop te maak. Gelukkig is die alarmstelsels op die voertuie baie goed. Miskien wou die persoon die voertuig steel maar hy is betrap.”
Laurie bly stil, geen nodigheid om enige iets te noem nie. Die is ʼn ding tussen haar en Johan maar nou weet sy ook dat hy vir niks sal stuit nie, en dat sy definitief in gevaar is, want hy weet dat sy iets het.
Die Konstabel is klaar en dui aan dat hy wel wil probeer om vingerafdrukke te neem, aangesien daar wel ʼn handafdruk teen die ruit is waar die deur oopgemaak is. Hy waarsku haar om nie te veel hoop daarop te plaas nie, aangesien dit enige iemand wat verby die voertuig geloop het, se afdruk kan wees.
Laurie is dit eens, hy moet wel die afdruk neem en haar of Joos laat weet of hulle iemand geïdentifiseer het. Sy gee hom haar en Joos se nommers, en voeg by dat sy vir ʼn kort tydjie uit die land sal wees. Sy bly by hom tot hy klaar is met die ondersoek en sonder dat sy dit kan verhelp loop haar gedagtes weg van die voorval en is dit by Matthew — is Matthew hierby betrokke, of is hy ook in gevaar?

Laurie gaan na die kamer waarin sy die week reeds oornag en nou weet sy dat sy die briewe sal lees, dalk, net dalk, is daar iets wat ʼn ramp kan keer.
Drie van die koeverte is oop maar die vierde is geseël met Selma se naam op die voorkant, en sy weet die brief sal sy net lees die dag wat sy seker is dat Selma Townsend dood is. Tot die dag nie aangebreek het nie sal sy dit bewaar.
Sy sit die briewe in datum volgorde. Sy kyk na die handskrif en dit sê iets van Selma Townsend — sy was moontlik so perfek soos haar handskrif. Geen wonder oom Louis het lewenslank aan haar getrou gebly nie.
Sy begin lees.
7 Julie 1986
Louis my lief,
Ek glo jy weet reeds, ek, Gregory, Josua en Laurika is reeds uit Suid Afrika. Ek wil weer bevestig — ons was nooit in Durban nie. Ons het nie eers geweet van die beplande ontploffing nie, ons was in Pietermaritzburg soos jy reeds weet. Ek sal nie verder oor ons ontsnapping praat nie want so baie wonderlike mense kan daardeur in groot moeilikheid beland, aangesien dit as hulp aan terroriste gesien sal word.
Ons is amptelik aan die vlug en kan nie enige aanduiding gee waar ons, ons bevind nie. Liefste kyk asseblief na Matthew vir my en help vir Nate met Laurie as hy hulp nodig het.
Ek sal probeer om jou weer te kontak en hoop om reëlings te tref vir Laurie en Matthew om na ons mense in Engeland geneem te word.
Louis ek is desperaat, doen asseblief enigiets in jou vermoeë om Graham van ons spoor weg te kry, as hy ons vind sal ons vir die res van ons lewens onskuldig in ʼn tronk sit. Wees versigtig want hy sal jou, Nate en die kinders vir sy eie doel gebruik om ons te kry.
Louis ek bemin jou meer as die lewe self.

Laurie weet die brief het die Doodsertifikaat voorafgegaan, dit was die antwoord op — doen asseblief enige iets in jou vermoeë om Graham van ons spoor te kry. Dit is ook die verduideliking waar Johan se verbintenis met haar mense begin het want Laurie is nou oortuig dat Graham Hill en Johan van Graan een en dieselfde persoon is.
Laurie voel ʼn weemoed in haar wat haar hart wil breek — Waardeur is my en Matthew se mense gesit oor moontlik een man se haat?
Daar is ʼn tweede gedagte wat bly kop uitsteek terwyl sy die tweede brief oopmaak — Wat het my ma en die ander Britte besiel in hulle jeug — en waar pas haar pa in alles — waarom was hy nie deel van daardie groep nie?
10 Oktober 1986
Louis my lief,
Ons is veilig — ons kan nie terug na Engeland gaan nie, aangesien ons as terroriste gelys is en oor geen grens wettig kan gaan nie.
Ek weet ek sal nooit ʼn antwoord kry nie maar ek wil vra, hoe gaan dit met my seun — hou die antwoord in jou gedagtes sodat ek dit kan hoor.
Louis ek mis jou en dink aan jou elke oomblik.
Laurika het in ʼn diepe depressie verval oor Laurie en ons kan kwalik voortgaan. Ek bid dat ons wel ʼn reëling kan maak dat Matthew na my ouers in Dorset County en Laurie na Laurika se ouers geneem kan word. Indien ons iewers in die toekoms iets kan reël sal ek jou laat weet.
Ek vra jou om versigtig te wees aangesien Graham die leier van die groep is wat ons nou internasionaal soek. Indien moontlik, hou hom weg van julle en die kinders, want hy haat jou omdat ek jou liefhet. Doen alles in jou vermoë om veilig te bly.
Altyd joune.

Vir Laurie is dit asof sy daar is, daar in negentien ses en tagtig, saam met oom Louis en sy voel die geweldige pyn wat hy moes gevoel het. Sy weet ook dat die moontlikheid bestaan dat Johan se heksejag al die jare gebore is uit ʼn onbeantwoorde liefde vir Selma Townsend.
Die woorde oor haar en haar ma, spring uit die brief in haar gesig en sy weet wat ook al Selma na verwys, dit die rede is vir haar pa se smeek om vergifnis.
Vir die eerste keer kry sy die gevoel dat haar ma haar wou hê en dat haar pa dit nooit wou toelaat nie, en skielik het sy die verklaring vir haar pa se woorde wat Metando haar meegedeel het — Nee! Ek sal nie, sy is myne. Sy weet nou dit verwys na ‘haar — Laurie’ en het niks met enige grond te doen nie. Haar pa het haar liewer as al die geld en die grond in die wêreld gehad en dit kanselleer alles uit, vat alle verwyt weg want sy was so bevoorreg om hom te hê, nog te hê, en niks sal haar liefde verander nie.
Sy vou die laaste brief oop.
12 November 1986
Louis my lief,
Ek lief jou en ek mis jou, my hart breek vir jou en Matthew. Na soveel maande, deur soveel lande, met die hulp van soveel mense het ons dit na veiligheid gemaak. Ons kan op geen plek aanbly nie en sal spoedig weer van hier vertrek.
Dit is tot my grootste verdriet om dit te sê maar ek glo nie ek sal ooit weer vry wees om jou te sien nie, aangesien ek nooit weer na Suid Afrika kan reis nie. Graham het ons as terroriste laat brandmerk om homself te red. Hy sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat ons vier vir die res van ons lewens vlug.
Dit is ongelooflik gevaarlik om enige iemand te vertrou aangesien daar soveel persone is wat na ons soek. Jy en Nate is die enigste mense wat ons ten volle kan vertrou en ons het julle so lief daarvoor — dankie.
Ek wil, ongeag die gevaar my kind na Engeland bring na my familie in Dorset County. Ek sal kan voortgaan as ek weet dat hy veilig by my ouers is, as hy in Europa is kan ek dalk tog iewers in die toekoms hom weer sien. Indien hy in Suid Afrika bly, sal ek hom nooit weer sien nie.
My ouers het met iemand gereël om Matthew uit Suid Afrika te bring, ek het net nodig dat jy en Nate hom moet neem na die plek waar die persoon hom sal kry.
Matthew moet na die Katolieke Sendingstasie geneem word — julle weet waar. Vra asseblief vir Nate om dit vir my te doen. Jy moet nie want ek glo Graham hou jou dop. Met Nate is dit verskillend — Graham het geen belang in hom nie, hy sal kan wegsluip sonder dat enige iemand weet want hy is soos ʼn skaduwee in die berge. Graham sal hom nooit kry nie.
Matthew moet by die missie wees teen sestien Desember — die persoon moet uit die land wees op die sestiende.
Sover dit Laurie aangaan het Laurika vrede gemaak dat sy by Nate die veiligste sal wees, aangesien Nate nooit sal toelaat dat iets met Laurie gebeur nie. Moenie sy weiering om Laurie te laat gaan teen hom hou nie, wees net daar vir hom en Laurie.
Verbrand asseblief die brief want dit kan ons en jou uitlewer as dit in die verkeerde hande val.
Liefste Louis probeer asseblief weer geluk kry, ek wil jou gelukkig sien — nie alleen vir die res van jou lewe nie.
Louis ek sal jou bemin vir ewig, en is vir altyd joune.

Laurie kyk weer na die datum van die brief en herroep die datum van die voorval in die berg en weet dat die brief vertraag was want waarom sou haar pa eers die vyftiende Desember met Matthew Lesotho toe gegaan het.
Skielik weet Laurie waarom Matthew nooit die land uit is nie, hy het te laat by die Sendingstasie aangekom met die nag wat verloop het toe Seshla en Metando in die berg weggekruip het. Die gesant was reeds weg toe Matthew by die Sendingstasie aangekom het.
Die hartseer vir Matthew is in haar, sy weet dat sy om Matthew se onthalwe jammer moet wees oor die omstandighede van die rampspoedige dae. Laurie weet as alles reg geloop het sou sy Matthew nooit weer gesien het nie en sou al die dinge nooit uitgekom het nie. Sy sou nooit eers geweet het van haar ma, Selma Townsend of Matthew nie.
Matthew sou in haar vergete gewees het soos wat hy die afgelope jare was, dit sou ʼn ongelooflike verlies vir haar gewees het. Die briewe maak ʼn heimwee in Laurie wakker, nou wil sy haar ma vind, nou wil sy die persoon leer ken wat haar liefgehad het en al wat sy met geslote oë vra is — Here asseblief moenie dat sy oorlede is nie.

Laurie en Joos praat byna twee uur lank op die foon om al die gebeure te bespreek en te beplan wat hulle volgende stappe is. Albei weet hulle is besig om uit tyd te hardloop teen Johan.
Laurie se hart loop oor van liefde as Joos haar meedeel dat Matthew met hom gepraat het en hom gevra het om Laurie te waarsku teen Johan. Nou weet sy verseker hy is aan haar kant — maar die stemmetjie in haar sê duidelik — Dit help niks Laurie, hy is van jou bloed — en dit huil in haar as sy dink hoe seer hy gaan kry as hy haar regtig liefhet, soos sy vir hom.
Joos het met die prokureurs firma in Londen in aanraking gekom maar die antwoord was duidelik — “Of Laurie kom met die bewyse van haar familie betrekking tot die Rubens — of niks,” en albei weet, dit is dit.
Laurie gaan deur die onderhoud vir haar Visa aansoek en gee die gastehuis se adres waar sy sal vertoef tot sy Engeland toe vertrek vir die aflewer van haar paspoort. Laurie is verseker dat sy in die volgende sewe tot tien dae ʼn Visa sal hê en sy is tevrede.
Met al die bewyse van Selma, haar ma en die prokureur in Dorset County, tesame met haar ma se van wat Ruben is, moet die prokureur haar ma se ouers ken as hy die amnestie aansoek help behartig het. Sy weet, maak nie saak hoeveel jaar verloop het nie, die mense in Dorset County sal nog daar wees en hulle sal onthou.
Laurie vra raad by Joos — “Indien ek nie die prokureur kan oortuig om my te help nie, hoe spoor ek iemand op in Engeland oom Joos?”
Joos dink ʼn oomblik. “James Kernes is ʼn prokureur wat vir ʼn kort tyd saam met my studeer het Laurie, hy praktiseer in Londen en ons het oor die jare kontak behou. Ek sal hom kontak en hoor of hy kan help. Ek sal Selma en jou ma se gegewens solank vir hom deurgee as hy bereid is om te help sodat hy kan kyk of hy ʼn afspraak by Baldwin & Gossard vir jou kan maak.”
“Kan hy ook die ander name in die artikel probeer opspoor oom Joos?”
“Ek sal dit deurgee nooi.” Laurie voel dankbaar.

Nathan word Maandag sewe Desember ontslaan en alles is gereël. Die ambulans sal hom terugneem na Ladysmith en Koot en Joos saam met Joyce en Joseph sal hom vir Laurie versorg terwyl sy in Engeland is.
Nathan stort openlik trane as hy Laurie teen sy hart druk — “Sal jy my vergewe my kind — wat jy ook al uitvind?” Laurie weet nie op die oomblik waarvoor hy verskoning vra nie — maar sy weet, niks sal te groot wees om te vergewe nie.
“Jy is klaar vergewe — jou liefde vir my deur die jare het dit lankal vergewe, wat dit ook al is.” Nathan bly stil want die waarheid van die bietjie wat hy tot nou onthou, maak hom bevrees vir wat nog gaan uitkom sodra hy alles onthou.
Hy weet, hy wil die waarheid onthou vir sy kind se onthalwe want sy het die dag erken sy het Matthew lief — So lief, so gou — en sy hart breek vir sy kind.

Na die ambulans vertrek het ry Laurie na die gaste huis en voel depressief want alhoewel sy weet, sy kan ʼn boodskap na Matthew deurkry deur die polisiestasie, het sy op die oomblik nie die moed om met hom te praat terwyl die seer van hul bloedband nog so rou in haar is nie. Sy weet sy moet haarself tyd gee om vrede te vind.
Wanneer sy die gastehuis instap, oorhandig die dame by ontvangs haar die koevert met haar paspoort wat vroeër die dag afgelewer is. Laurie skakel en bevestig met die reisagentskap haar vlug vir dieselfde aand. Skielik is sy ongelooflik haastig en weet sy, sy moet vandag vlieg.
Laurie skakel haar pa en Joos van die lughawe af en gee hulle die besonderhede van haar vlug. Terwyl sy wag weet sy, sy moet ʼn boodskap na Matthew stuur, nie om hom te sê wat sy weet nie, of wat sy op die punt is om te doen nie — net om hom te laat weet sy verlang na hom en die seuns, net om te sê haar pa is terug Ladysmith toe en om net sy stem te hoor.
Sersant Des is openlik bly om Laurie se stem te hoor. Hy sê haar reguit “Matthew is ʼn wrak — hy verlang na jou” en Laurie se hart breek.
“Ek kan jou met die radio met hom verbind sodat jy self met hom praat.” Laurie weet dit is dalk die verkeerdste ding op die stadium, maar sy weet, sy wil sy stem hoor.
“Asseblief as jy kan.”
In die minuut wat sy wag vir Sersant Des om die oproep te koppel voel sy hoe die benoudheid haar wil versmoor — haar hart klop asof sy myle gehardloop het — en skielik is sy stem daar.
“Hallo, hallo is dit jy Sersant Des?”
Laurie maak haar oë toe — “Matthew, Matthew dit is ek Laurie.”
Die stilte is voelbaar voor die woorde amper onsamehangend oor die lyn kom — “Laurie… waar is jy?… asseblief waar is jy?”
“Nog in Pretoria,” snik sy dit uit.
“Laurie asseblief kom huis toe… gee my ʼn kans… gee ons ʼn kans. Laurie ek moet met jou praat… dringend vir jou verduidelik wat ek weet… ek was so verkeerd… sal jy my kan vergewe?” Gaan hy sonder om asem te haal voort.
Terwyl die emosie haar versmoor kom dit gesmoord — “Ek kan nie nou nie Matthew, daar is te veel dinge wat ek eers moet uitpluis.”
Dit ruk in Matthew — Kan sy nie huis toe kom nie… of kan sy hom nie vergewe nie? Matthew weet, vandag is dalk nie die regte tyd om sy liefde aan Laurie te verklaar nie maar hy weet iewers moet daar ʼn ketting wees wat hulle aan mekaar vashou. “Ek weet ek kan nie op enige iets aanspraak maak nie maar as jy my kan vergewe — doen dit asseblief — ek het jou so nodig — ons het jou so nodig.”
“Matthew en ek vir julle, gee my net tyd asseblief.”
Sy sê hom nie van haar voorneme om Engeland toe te gaan nie, sy weet dat hy nie in sy ouers of hare se geskiedenis belang stel nie, en sy wil hom nie ontstel nie maar vir haar is dit nie nou die regte tyd nie.
Ook Matthew swyg oor sy voorneme om Engeland toe te gaan om na sy ouers te gaan soek, hy weet waarom hy swyg, was sy ma en pa nie die oorsaak van al die ellende nie, en dit kan hy nie vandag vir haar sê nie.
“Ek gaan nou aflui Matthew, weet net ek mis jou en die seuns elke oomblik van my dag.”
Hy sê dit hard en duidelik, met ʼn stem vol deernis — “Ek het jou lief, so verskriklik lief dat dit in my pyn.”
Spontaan, sonder terughouding kom dit — “Ek lief jou ook Matthew.” Laurie druk die knoppie op haar foon en beëindig die oproep voor sy absoluut ineenstort en ontroosbaar huil. Wat gaan ons doen?
Matthew sak op sy knieë neer en smeek — Here bly by haar… bly by ons asseblief.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed