Waar Liefde Begin – Hoofstuk 12
Hoofstuk 12 — Môre en Elke Dag Daarna
Dit is na agt in die aand toe Matthew die ligte teen die berg sien aankom waar hy op die stoep sit. Hy voel hoe sy hart versnel en met die hoop en vertroue dat dit Laurie is, stap hy oor die grasperk die voertuig tegemoet.
Laurie sien hom oor die grasperk aangeloop kom en daar is vreugde in haar wanneer sy die motor tot stilstand bring en uitspring. Hy kom ʼn tree van haar af tot stilstand en staan voor haar met ʼn kwesbaarheid in sy oë en stem. “Jy is terug.”
“Ek het lankal vir jou gesê, ek het ʼn kontrak hier.” Hy verloor sy selfbeheersing en skielik verlaat die vrees wat in hom is vandat hy teruggekom het plaas toe hom— sy is werklik hier.
“Laurie — ek het jou so lief, dit maak my seer.”
Sy wil hom stilmaak maar hy neem haar hand en druk dit teen sy lippe. “Ek weet jy het reeds gesê, jy het my lief en ons samesyn die afgelope tyd op die plaas het my verseker dat jy naby my wil wees.”
Hy stoot haar effens weg van hom af en kyk in haar oë — “Voor ons enigsins vorentoe kan gaan, moet ek nou eers jou vergifnis kry oor die ongelooflike leed wat ek en Johan jou aangedoen het met ons aantuigings wat ook oom Louis se dood verhaas het. Ek het nog nie persoonlik jou vergifnis gevra nie en die verwyt verteer my.”
Laurie sien die pyn en sy weet, ongeag al die vorige gesprekke hieroor moet sy hom nou die vrede gee. Sy neem sy hand en druk dit sag teen haar lippe — “Liefste wat ek nou sê is bedoel dat jy nie net sal hoor wat ek sê nie, maar ook dat jy sal weet jy is die een wat ek bo alles lief het. Glo my ek bedoel elke woord met my hele wese — Johan het sy eie agenda gehad, dit het niks met ons twee te doen gehad nie. Oom Louis se dood op die oomblik was ʼn Godsbesluit — nie jou skuld nie, onthou sy laaste liefdevolle woorde en aanraking. Jy het met die dag se terugkoms, alles vir hom en my pa reggemaak en hy het dit geweet. Hy was met liefde en geluk gevul, anders sou hy nooit die woorde geuiter het nie.”
Dan neem sy Matthew se gesig tussen haar hande en sê sy die presiese woorde wat Joyce vir haar gesê het: “Matthew is dit jy, Selma se Matthew?” en wanneer sy sien dat hy dit inneem vervolg sy met: “Nate alles is reg’.
Weet net liefste, in die woorde lê die vreugde en verligting wat hy daardie oomblikke voor sy heengaan so ontsettend nodig gehad het.”
Sy wag totdat sy sien hoe die spanning uit sy liggaam gaan en sê sag — “Al wat jou skuld is in alles wat gebeur het…” En sy sien die vrees in sy oë — “Is dat jy my so ontsettend lief vir jou en die seuns gemaak het dat ek nie kan asemhaal sonder om aan jou of jou aanraking te dink nie.”
Die wonder van haar woorde vat alle twyfel weg en sy woorde kom net so sag — “Ek het nie die dag besef waaroor Louis se woorde gegaan het nie. Nie besef watse groot geskenk hy ook vir my die oomblik toe hy my aangeraak het, gegee het nie, en ek het nooit gedink dat jy my sal kan liefkry nie, nie na alles wat ek julle aangedoen het nie.”
“Maar ek het, ek is so verskriklik lief vir jou — moontlik was dit reeds van kleintyd af daar want ek het jou gemis terwyl ek jou nie eers onthou het nie.”
Hy staan een oomblik baie stil, neem haar linkerhand en gaan staan langs haar. “En ek vir jou want ek het jou van tyd tot tyd hier aan my hand gesien in my drome, jou daar teen my hart gevoel in my onderbewussyn. Daarom het ek die skildery in jou kamer gehang — ek wou weet of jy sal onthou, ek wou jou dwing om my ook te onthou.”
Laurie kyk op in sy oë. “Ek het Matthew, ek het jou onthou.” Hy trek haar vas teen sy bors en skielik is die verlore leeftyd se liefde terug.
Hy help haar om haar bagasie die huis in te dra, al die dinge wat so eie aan haar is en hy weet, alles rondom haar is die wonderwerk waarvoor hy gebid het — “Wanneer kom jou pa, ek wil nie sonder hom in ons huis woon nie.”
Laurie druk hom teen haar vas — “Die naweek gaan ons hom haal, hy het sake om met oom Joos af te handel, dan is ons ʼn familie.”
Hulle staan stil langs mekaar in die seuns se kamer en daar is vreugde in haar — die is haar kinders, die begin van ons as ʼn gesin saam.
Hulle sit langs die kombuistafel met haar hand in syne, bly daar in die kombuis, nie een wil gaan lê nie en albei weet dat daar nie vir hulle ʼn saam slaap sal wees voordat hulle getroud is nie — en hy vra haar daar in die lamplig.
“Sal jy my vrou word, sal jy my lewe deel sodat dit wat vir my die kosbaarste in die lewe is, altyd by my sal wees?” En sy sê ja — want soos haar pa, het hy en die seuns alles in haar lewe geword.
Die aanmekaar raak bring die ongelooflike opwelling, die ekstase in hul liggame, die erupsie wat slegs hul aanraking bring en beide weet wat in die toekoms vir hulle wag, het nie een van hulle ooit beleef nie.
Hy hou haar vas voor haar kamerdeur en laat haar onwillig gaan maar hy weet die is vir ewig en hy sal dit nie opmors nie.
Die volgende oggend vat Matthew Laurie se hande vas — “Kan ons twee vandag neem en mekaar net eers werklik leer ken? Ek wil alles van jou weet, waar was jy op laerskool, wat was jou geliefde klere, skoene en diere. Wat was jou eerste karretjie, jou koshuis op Univeristeit — en dit is net die begin. Sal jy my help om die kinder-gedagte maatjie wat ek van tyd tot tyd onthou het, net weer te onthou?” En die klank van liefde omvou haar.
Laurie kyk hom stip in die oë — “Het jy my regtig onthou?”
Met die knik van sy kop — “Ja, ek het jou hand in myne onthou, jou gesiggie wanneer ek afkyk gesien, daardie groen oë maar ek kon net nie onthou wie jy was nie.”
Hy vertel haar van sy kinderjare, van waar hy kan onthou en dit is met geluk en liefde gevul. Van hulle almal in die missie wat hom as hulle seun aangeneem het, van die ongelooflike ondersteuning en liefde van sy ouers wat nooit opgehou het nie.
Hy vertel haar van sy tienerjare, sy studente jare wat gevul was met sukses in sy studies en in sy sport loopbaan. Hy deel sy sport prestasies met haar en skielik weet Laurie dat sy hom wil vertel van haar versoek aan Joos om alles oor hom uit te vind.
Sy beken aan hom die teleurstelling toe oom Joos haar meegedeel het dat hy met Judith getroud is en haar ongelooflike verligting toe hy lees dat hulle geskei is.
Hy kyk haar lank in die oë en vra sag — “Hoekom?”
“Omdat jy van die eerste oomblik toe ek in jou oë gekyk het op die werf voor die plaashuis, van my gedagtes besit geneem het en ek kon jou daarna nie vir een oomblik uit my gedagtes kry nie.”
Hy vertel haar oor hom en Judith, sy onkunde oor sy vrou, hoe gevlei hy was omdat die joolkoningin in hom belanggestel het, sy naïwiteit rondom haar attensies en redes vir die huwelik.
“Met tyd het ek besef dat Judith geglo het dat ek baie gou moeg sal wees vir die boerdery en dat ons die wêreld sal rondtoer. Sy was baie gou moeg vir die afsondering en die eensaamheid en het meer en meer, vir kort periodes op haar eie weggegaan.
Ek het aangedring op ʼn gesin en ek weet vandag — dit was teen haar sin dat sy ingestem het omdat ek dink, sy geglo het dat sy my met die kinders sal kan manipuleer.”
Hy wag ʼn paar oomblikke en gaan dan saggies voort — “Ek was verkeerd om haar te vra om te trou en daarna om te probeer om haar hier te hou. Ons was nooit reg vir mekaar nie, ons het nie vir liefde getrou nie Laurie. Ons het elkeen sy eie agenda gehad, sy moontlik vir prestige en geld, ek omdat ek naïef was en net nie kon glo dat so ʼn populêre en mooi vrou in my belang kon stel nie.”
Laurie druk sy hand, sy kan nie glo dat hy minderwaardig kon voel nie, nie die pragtige aantreklike mens nie — en sy sê hom dit.
“Dit is omdat jy my liefhet liefste dat jy dink ek is wonderlik.” En hy lag in haar oë.
“Ek het so gedink selfs voor ek erken het dat ek jou liefhet meneer.” En nou lag sy vir hom.
“Uiteindelik na baie hartseer het Judith na ons vakansie in Mosambiek, doodeenvoudig saam met die man wat saam met haar hier was, weggeloop. Die balju het binne ʼn paar weke daarna met die egskeidingsbevel opgedaag en na ʼn pynvolle paar maande se oor en weer regsaksies het sy die seuns afgeteken vir die betaling van twee miljoen rand.”
Laurie sien die pyn op Matthew se gesig en sy soen hom liggies op die wang. “Ek sou jou eerder miljoene vir die seuns betaal het my skat — dit is haar verlies en ons wins. Een ding gee ek haar definitief ter ere.” En sy lag skalks terwyl sy hom weer op die wang soen. “Sy en jy het darem die mooiste twee kinders in die wêreld vir ons gemaak — hoop die kinders wat ons eendag gaan hê, sal darem amper so mooi wees.”
Matthew kyk vir ʼn oomblik met erns na Laurie, staan op en trek haar teen hom vas. “Dankie vir jou verstaan en die aanvaarding van my verlede en my seuns. Weet net dat ook ek dankbaar is teenoor haar vir my seuns en weet net as ons so geseënd sal wees om kinders saam te hê, hulle die mooiste mensies sal wees wat die wêreld ooit gesien het.”
Skielik is die passie in hulle, is die honger na mekaar oorweldigend en moet hulle vir ʼn baie lang tyd baie stil staan om tot hulself te kom.
Sy vertel hom oor haar kennis oor sy boerdery en hy trek gemaak groot oë vir haar maar in hom is daar ʼn warmte omdat dit hom sê dat sy werklik belangstel in hom, en in sy dinge en dit maak sy beker vol.
Wanneer Matthew met ʼn gemake ‘Fluit, fluit, my storie is uit’ te kenne gee dat dit sy verlede is, is Laurie nie tevrede nie — “Nee, dit kan nie al wees nie — wat van my, waar het ek vir jou belangrik word?” Hy lag en gee haar ʼn soentjie op die voorkop.
“Ja, laat ek dink — waar het jy belangrik geword?” Laurie gee hom gemaak ʼn stamp in die sy.
“Jy my liefste mensie was altyd belangrik. Ek het jou onthou terwyl ek my ma, my pa, my hele kindwees lewe vergeet het. Maar die dag toe jy so kwaai daar van die vloer af opgekyk het en baie kwaai gesê het — “Joseph vergesel asseblief die menere na die studeerkamer, of na buite’, dit is toe ek daardie verergde beslistheid hoor wat ek nou al ʼn paar keer weer gesien het wat my laat onthou het.” En hy lag in haar oë en Laurie is stil voor soveel liefde.
Hy kyk haar ʼn oomblik aan en neem ʼn besluit, hy vertel haar van elke oomblik wat hy op die berg se kruin gesit het. Sy meeleef van haar hartseer met die begrafnis, sy sien van haar waar sy na die begraafplaas gestap het, en die onmeetbare hunkering wat hy na sy verlede op die plase ondervind het, tref haar. Sy smagting na haar elke oomblik vandat hy haar die eerste keer gesien het, sy aanvanklike vrees dat sy nie plaas toe sou kom nie, sy vrees elke keer wat sy weg van die plaas was, die vrees dat Johan haar leed sal aandoen en die onmeetbare vreugde en rus wanneer haar motor die werf inry — en hulle is stil voor soveel liefde.
Hulle stap na die kliniek waar hulle ʼn toebroodjie en koffie saam met die seuns, Duane, die staf en die pasiënte nuttig. Matthew kyk na dit wat die pragmens in sy lewe gebring het en die dankbaarheid en liefde is te veel vir een liggaam om te hou.
Matthew se hart breek later wanneer Laurie vertel van die honderde ure langs haar pa as hy ʼn aanval gekry het, hoe dit haar as kind reeds laat besluit het om ʼn mediese dokter te word. Hy hoor die liefde in haar stem vir al die duisende ure se geluk en liefde wat Nathan en Louis in haar lewe gebring het.
Hy hoor vir die eerste keer Zuluika Zuess se naam en word vasgevang in die tragedie in Laurie se lewe. Hy beleef deur haar vertelling ook die wonderlike ure wat sy saam met Zuluika beleef het na die dertienjarige Zuluika by Louis gaan woon het. Hy voel die vreugde in hom as hy hoor dat sy ook amnestie gekry het en op ʼn kontrak in Amerika werk, en dat sy binne enkele weke terug in die land sal wees. Hy weet die mens is die suster waarna Laurie so smag en hy weet hy wil haar in sy familie hê.
Daar is ʼn ongelooflike vreugde in hom as hy besef dat daar nooit enige man in Laurie se lewe was nie, dat hy haar eerste in alle opsigte sal wees en dit maak hom nederig, en dank hy God vir die wonder in sy lewe.
Hulle leer om hul diepste geheime te deel — geen terughouding — geen skaamte — hulle is skielik net twee mense wat bemin tot daar waar niks dit ooit kan skaad nie en die deel van dit wat hulle die mense gemaak het wat hulle is, bind hulle saam tot die eenheid wat hulle wil wees.
Hulle vat hul tyd die volgende paar dae en pluis hul toekoms uit. Hulle besluit saam, hulle sal eers hier saam met haar pa op Emafweni ʼn lewe saam begin. Kobus en die student moet na The Buttress en Fortress omsien sodat dit ʼn tuiste vir hul families kan word en miskien iewers in die toekoms ook hulle tuiste.
Dokter Duane Malherbe is dankbaar as hulle hom vra om voltyds die groeiende kliniek oor te neem, hy is oorstelp van vreugde en hy sê haar dit — “Jy weet hoe graag ek al die jare in ʼn kliniek soos die wou werk Laurie, en nou hier op vyf en vyftig gee jy my die wonderlike geleentheid, dankie, baie dankie hiervoor.”
Matthew besluit om ʼn boukontrakteur aan te stel om binne enkele maande kwartiere vir die mediese personeel te bou en die kliniek te vergroot. Duane sal aanbly in die plaaswoning en hy, Laurie, Nathan en die seuns sal in die nuwe woning teen die rand intrek sodra dit voltooi is.
Alles is skielik so maklik, so reg en hulle weet dit is te danke aan Nathan en Louis wie beide saamgewerk het om almal se geluk te verseker — en hulle is op hul knieë dankbaar daarvoor.
Laurika en Selma kom vroeg Maart terug om te bly vir ʼn onbepaalde tyd en om die troue te reël vir hulle kinders.
Die troue word aan die einde van April op The Buttress gehou en dit is ʼn reuse byeenkoms met al die Townsends, Parkers, Rubens, Phillips en die hele kontrei by hulle. Almal is daar en almal weet die verbintenis maak amper al die verkeerd van die verlede reg.
Matthew trek haar teen hom vas en sê sag hier in haar hare — “Jy het my die gelukkigste mens op aarde gemaak Laurie Kilber, dankie dat jy ja gesê het om Laurie Kilber St. Nicolas te word vir my en ons seuns.”
Nathan staan daar by sy kinders, saam met Laurika, Joshua, Selma en Gregory, binne die kring wat die familielede en die gemeenskap om hulle onder die bloekombome maak en daar is ʼn band tussen hulle wat oor ʼn leeftyd se jare span wat nooit weer gebreek kan word nie — en hulle omhels mekaar met liefde.
Die saamkuier is sonder die trane en hartseer van die dae toe hulle die verlede beleef het, die verlore jare oopgemaak het — nou kan hulle net vorentoe kyk, net gelukkig wees.
Uiteindelik baie laat-aand na almal reeds gaan lê het, is hulle alleen en die wonder van haar volmaakte sagte lyf bring ʼn opwelling in Matthew wat ʼn oombliklike passie tot gevolg het na Laurie se hand die ferm spiere op sy bekken aanraak en sy bewus raak van die opwelling in haar wat haar van alle realiteit beroof.
Die een word, is een wonderdaad wat nie een van hulle ooit beleef het nie — sy omdat hy haar eerste is en hy omdat sy, sy eerste ware liefde is — sy lewe is. Hulle ondervind ʼn bevrediging in mekaar sy liefkosing wat hulle dwing om mekaar vas te gryp en aanmekaar te klou tot die passie tot rus kom in hul liggame.
Hulle word ʼn gesin met ʼn oupa wat elke oomblik daar is vir ʼn seun en ʼn dogter wat hom bemin en op hul hande dra, en sy twee kleinseuns wat sy lewe vul en verryk — en Nathan kom tot rus en sy beker loop oor.
Die liefde wat daar was vanaf die eerste oomblik wat Nathan sy oë op die kleine Matthew gesit het vul hom, en dit smee Nathan en Matthew saam as pa en seun — as die familie wat hulle van die begin af moes gewees het.
Laurie en Matthew se geluk loop oor wanneer albei se ouers begin Junie hulle intrek neem op The Buttress en Fortress, en die pad tussen Emafweni en die twee plase word ʼn weeklikse rit.
Laurie en Matthew leer hulle ouers ken en waardeer, beleef hulle saam die pyn en eensaamheid wat die vlug en die wegkruip gebring het, leer die waarheid in hulself oor wat jeug en onverantwoordelikheid bring — maar leer ook die intensheid van hul gedeelde passie vir regverdigheid — regverdigheid vir almal, ongeag van kleur.
En “die vier” vind rus, liefde en ongekende geluk daar by Nathan, ter nagedagtes van Louis, en by ʼn seun en dogter met twee kleinseuns wat hulle lewens en harte vul — en hulle dank God vir hul tweede lewe wat so vol van seëninge is — en hulle bly in die sonnige land met geen begeerte om weer weg te gaan nie.
Matthew, Laurie, Duane en al vyf ouers beplan almal saam die aanbouings aan die kliniek en stadig maar seker trek hulle Duane in die gesin in en hy word die geselskap vir Selma wanneer sy op Emafweni kuier.
Die kliniek word amptelik geregistreer en skielik word die droom van Laurie en Duane bewaarheid — die kliniek en opgeleide staf wat hopelik vir altyd daar sal wees vir die mense van die omgewing.
Die saamstap van Laurie, die seuns, Selma en Laurika na Louis Olivier se graf elke dag wanneer Laurie by Selma en haar ma kuier, bring die heling wat sy en Selma so nodig het, die berusting dat hy veilig by sy Vader is. Dit smee ʼn band tussen die vroue wat alles sal kan teenstaan.
Dawid bring met sy vertel van al die staaltjies, Louis terug in Selma se lewe en sy lag en sy huil en sy kry vrede en dit gaan goed met haar in haar herinneringe, en in haar aanvaarding dat die lewe weer aan moet gaan.
Matthew maak ʼn houtbankie vir sy ma en sit dit by Louis se graf onder die bloekombome sodat Selma in stilte kan rus en boeklees daar by die rusplek van hom wat sy bo alles lief gehad het.
Laat in Augustus weet Laurie dat sy swanger is en gaan haar en Matthew se saamwees in ʼn ongelooflike diepte in. Hulle groei vas aan mekaar totdat selfs hulle ouers laggend kla oor die onafskeibaarheid van die twee mense se siele. Die ekstase van die eerste liefdesdaad en alles wat daarmee gepaard gegaan het, bly in hulle — bind hulle vas — maak hulle een.
Dit is vroeg September wanneer Joos bel en Laurie meedeel dat Johan wel vervolg gaan word en dat die hof datum vasgestel is. Laurie, Matthew en die gesin besluit dat dit nie meer in hulle belang is om deel van die heksejag te wees nie — en hulle draai hulle rug op die gebeure met die voorneme om nooit weer aan Johan te dink nie.
Joos laat hulle wel in die najaar weet — “Johan is skuldig bevind aan twaalf aanklagte van onwederregtelik optrede onder die vaandel van die SAPS en die Regering — waarvan die jongste saak wel die inbraak in Laurie se voertuig by die hospitaal is. Sy diens in die SAPS sal beëindig word en SAPS sowel as die Regering het hulle gedistansieer van sy dade en hy sal wel tronkstraf uitdien. Die vonnis datum sal vroeg die volgende jaar wees.
Die familie kom tot rus, ook hulle weet dat hulle skuld dra aan wat die helse jare voorafgegaan het en hulle beloof mekaar dat daar nooit weer so-iets in hulle lewens sal kom nie.
In Desember word daar ʼn amptelike brief van apologie van die Regering van die dag aan elkeen van die “vier” afgelewer — en dit sluit die agt en twintig jaar se heksejag finaal af.
En die liefde beloon hulle met tweeling dogters in die nuwe jaar en as ʼn gesin kniel hulle voor God met hulle kroos en dank Hom vir die volmaakte tweede lewe wat Hy hulle almal gegee het.
Hulle onderneem om die volgende Engelse somer na Engeland te gaan, om nie net hul kinders vir die familie te gaan wys nie maar om ook vir James Kernes, Daniël New en Steven Carter te gaan sien want daar is nog so baie om voor dankie te sê, so baie om te vra, so baie om te deel. En Laurie weet dat ook sy nog ʼn besoek moet bring, die besoek aan Zuluika Zuess wat weer ʼn nuwe lewe begin het en sy sê dit vir Matthew wat met haar saamstem.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.