HAAR BREINGEWAS GAAN GRYS IN MEI – asook in Vrouemaand
HAAR BREINGEWAS GAAN GRYS IN MEI
(Brons)
(Artikel gepubliseer – Maroela Media & Republikein. Vir vrouemaand is sy weereens die perfekte heldin.)
Dit was die begin van die einde van ’n lewe soos sy dit geken het.
Met Sylvia Lewis, née Faber (toe 31jaar oud) se eerste konvulsie het sy nog nie geweet wat die toekoms vir haar sou inhou nie. Haar tweede konvulsie het hulle eers as ʼn epileptiese toeval afgemaak. Maar met ’n CT- en MR-skandering daarna volg die skoknuus: ʼn wit gewas van 6,7 cm groot groei op haar regter frontale breinlob.
Op die vraag oor ʼn persoon se lewe voor ’n tragedie, praat hul maklik oor die positiewe dinge. Sylvia verwys nie net na die positief. Sy praat van haar vorige lewe. Wat haar laat uitstaan, is dat sy erken dat haar tragedie haar innerlik laat groei het.
Haar eerste konvulsie was op 25 November 2017 ná nuus van haar oupa se afsterwe. Op 17 April 2018 het sy ’n tweede konvulsie gekry. Tussen dié twee episodes was daar wel tekens dat iets nie pluis is nie, soos gereelde hoofpyn en hande wat blou geword het. Met haar tweede konvulsie het sy onverwags reg agteroor geval en ʼn kopwond opgedoen. Toe sy later bykom, het sy aan haar broer genoem dat sy gesig bloei, sonder die besef dat dit haar eie bloed was.
Ná die tweede episode moes sy vir skanderings gaan. Onseker hoekom hulle haar in die hospitaal hou vir verskeie skanderings, kom lig ’n neuroloog van Windhoek hulle in van die gewas en besluit om ʼn lumbale punksie te doen om infeksie uit te skakel.
Vyf dae nadat sy ontslaan is, vlieg sy na Suid-Afrika. Eers kon sy nie by haar eerste keuse uitkom. Die tweede spesialis verwys haar wel dadelik na ‘n spesialis vir haar spesifieke soort gewas – Dr. Roger Melvill (ook haar eerste voorkeur). Hy lig hulle in dat die gewas die week daarop verwyder sal moet word weens belemmering van bloedvloei en suurstoftoevoer.
Die gewas, ʼn astrositoom, het ʼn steragtige vorm met tentakels wat binne die brein groei. Die vorm daarvan herinner aan ’n bol watte eerder as ʼn soliede gewas, wat maklik en heeltemal verwyder kan word.
Die operasie was haar eerste, en van narkose en teaters het sy niks geweet nie. Sy was angsbevange. Die risiko van breinchirurgie deur haar skedel kon spraakprobleme, verlamming, bloeding asook breinskade tot gevolg hê.
Sylvia het met vrae vol vrees gesit: Gaan ek wakker word? Gaan ek dieselfde wees? Gaan ek my liggaamlike funksies behou? Uit pure vrees het sy haar neurochirurg gevra of sy nie maar eerder haar breingewas kan hou nie. Gedurende dié tyd van onsekerheid het haar gesin haar probeer bemoedig en sy sal nooit die seer, die rou angs in hul oë so tussen die trane deur vergeet nie.
Voor haar kraniotomie moes sy ook van haar hare ontslae raak oor die verhoogde risiko van infeksie. Dit het sy toe aan Kansa geskenk. Dog, haar hare was deel van haar uiterlike trots – tydskrifvoorbladmooi – maar nou vir altyd verander.
Ná haar operasie het sy gereeld geheueverlies ervaar. Party dinge is tot maande later daarna eenvoudig uit haar geheue gewis. Sy noem dit as een van die baie maniere hoe God se genade haar geseën het.
ʼn Jaar later, ná ’n opvolgskandering, word ʼn nuwe, onopereerbare breingewas in die corpus callosum bevestig. Met haar gesondheidsgeskiedenis het sy gehoop hulle kon opereer, maar moes inplaas daarvan drie-en-dertig bestralingsessies en chemo vir ses maande ontvang – dit nadat sy vir drie maande daarmee geworstel het of sy dit wel moet doen.
Vir die eerste keer in haar lewe was Kaapstad nie vir haar mooi of lekker nie.
Deur dié moeilike stryd is sy wel dankbaar vir die mense wat saam met haar die pad gestap het. Mense wat elkeen, volgens haar, deur die Here se hand vir haar uitgekies is. Mense wat help reëlings tref het, haar hand vasgehou het gedurende die sessies, die Uber moes stop toe sy die eerste keer nie lekker gevoel het ná haar chemo nie, asook haar familie wat so gereeld moontlik by haar probeer wees het.
Een van die moeiliker oomblikke was toe haar geliefde pa nie by haar kon wees nie omdat hy self chemobehandeling in Windhoek moes kry. Sy sou dit nie sonder haar tannie Magdaleen se voorbereiding kon doen nie. Ongelukkig het sy haar op 15 Maart 2020 verloor weens haar eie stryd teen kanker. Magdaleen was haar groot inspirasie met al die boodskappe wat sy opgeneem en aan haar gestuur het – sommer so deur haar suurstofmasker.
Haar ondersteuningsgroep is waar sy haar dryfkrag vandaan kry, dit is ook die mense vir wie sy aanhou veg. Van Dr. Roger Melvill praat sy herhaaldelik goed en vertel hoe ʼn wonderlike mens hy is en hoe na aan haar hart hy lê – ten alle tye beskikbaar en behulpsaam, en geniaal op sy gebied.
In November 2019 het sy haar laaste chemo ontvang. Maande later proe sy steeds die metaalsmaak in haar mond, voel selfs die seer brandgevoel van die chemo op haar vel, en kry steeds ligte stuiptrekkings. Liggaamlik word sy vinnig moeg. Sy het twee jaar gelede motor bestuur en op haar eie gebly. In hierdie tyd het sy vertroud geraak met brein- en onkologieterme. So was daar ook ʼn dag wat sy vry was van hande vol pille sluk. Haar erge hoofpyn is nou die nuwe norm. Die wete dat ʼn stuiptrekking enige oomblik kan volg, is nog ’n nuwe norm waaraan sy gewoond moes raak.
Mei is wêreldwyd bekend as Go Gray In May-maand vir die bewusmaking van breinkanker met die hoop dat daar eendag ’n kuur vir breinkanker (toevallig ook die maand waarin haar kranitomie gedoen is) gevind sal word.
Meimaand is vir haar die maand van tweede kanse. Sy vertel dat sy van gesondheid kan spreek weens haar voorreg om steeds te lewe. Haar dankbaarheid skryf sy toe aan die Here en sy groot genade oor haar en haar lewe, en dit wat sy deur Hom kon leer, asook haar ondersteuningsgroep en haar wonderlike spesialis.
Sylvia getuig daarvan dat dinge, al het jy ʼn goeie lewe, in ʼn oogwink kan verander, en dat mens gesondheid nie kan vervang of terugkoop nie. Sy moedig elke persoon aan om voluit te lewe, asook om elke oomblik van geluk wat daar is, met beide hande aan te gryp en dankbaar te wees daarvoor.
Sy herdenk haar ergste dag ook as die een waarop sy die meeste gebede en liefde ooit ervaar het – gebed so tasbaar, dat sy dit kon aanvoel: Hoe weet jy, jy leef, want waar lewe is, is daar hoop, en waar hoop is, is daar geloof. Met geloof in God is niks onmoontlik nie.
Dinge soos onafhanklikheid, vryheid, gesondheid, alleen bly, swem, bad, normaal wees en selfs bekommernisse oor dinge wat nie noodsaaklik is nie, is maar van die goed wat haar laat voel sy was ʼn ander mens in ʼn ander leeftyd. Hoewel sy vrede het, wil sy nooit weer eendag wakker word en al hierdie dinge as vanselfsprekend ag nie. Sy hoop om ander te inspireer en ondersteun wat deur dieselfde gaan. Ook lewe sy daarvoor om steeds uit te vind wat God se doel vir haar op aarde is, want sy weet sy plan met haar is nog nie voltooi nie.
In ʼn stadium het sy haar neurochirurg uit vrees gevra: “But what if I die?” en hy het geantwoord: “Then you will wake up in heaven”. Niks was vir haar meer gerusstellend as daardie woorde nie.
Tot tyd en wyl veg Sylvia voort en sê dat sy weet die Here het ʼn plan met haar en dat dit nog nie voltooi is nie. Sy haal die bekende gesegde aan: “Every day above ground, is a good day”.
As ondersteuning beveel sy aan om net daar te wees vir iemand met breinkanker, te luister en te help en ook vir hulle te bid. ʼn Goeie ondersteuningsgroep was en is haar motivering. Ook moet mens in gedagte hou dat dit ʼn onsigbare siekte is en dat jy empatie moet toon, want aan die uiterlike kan jy nie die erns daarvan meet nie, en kan jy salig onbewus wees van die konstante pyn en vrees waarmee iemand met breinkanker moet saamleef.
Alhoewel dit is van opvolg skandering tot skandering, stap Sylvia die pad as ʼn meer empatiese, simpatieke en geestelik sterker persoon in vergelyking met haar vorige self.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2020 – OOP projek