My pruttel woorde
Pruttel liefhê-letters
dryfhout uit my hart
nes ‘n hemelse lullaby;
dit versamel nektar
deur skrefiewimpers,
want in jou beelt’nis
het ek my vrede gevind.
In die warm klanke
van jou hartstaal
gekaart soos druppende note
uit ‘n basviool,
wat die melkweg roekeloos
nét vir my inkatrol.
Ek verdwaal in die
lagkreukels om jou oë,
ek dryf in jou muskusreuk
wat soos rivierbane deur my psige
kronkel in mosaiek van dieprooi.
Jou hartklop staan in duet
en ek bid dat die son sy tree maskeer
vir tyd om stil te staan…
D A N
by aanskoue van hierdie geluk,
het ‘n glimlag (van puur genot)
aan God se mondhoek gepluk.
© Anzé Bezuidenhout
5 Kommentare
-
Koekekranka
So...so.... Ag, sommer so onwerklik mooi gepen!
-
Inkmoderator
Anzé, in die eerste strofe, laaste sin, en ek is seker dit is net 'n vingerfout, moet die sin lees 'het ek my vrede [ge]vind'. Die gedig het 'n mooi gestalte en duidelik dat jy elke woord sorgvuldig oorweeg en aangewend het. Jy gebruik die lieflikste metaforiek en jou hart is ontbloot op papier. Die eerlike, amper weerlose erkennings daarin maak jou vers geslaagd. Heerlike vers...soos moskonfyt. IM
-
Palet
Mooi liefhӗ letters
-
Marisa Labuschagne
Shoe, dit is vir my so 'n plesier en voorreg om 'n vers te voel wanneer ek dit lees. My hart is behoorlik op in (genotvolle) knoop en voel vuurwarm. Baie baie dankie vir hier pragtige werk wat jy met ons deel.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Anze van al jou werke wat ek gereeld en getrou lees gaan ek oor hierdie werk baie eerlik wees. vir my is hierdie een van jou bestes ooit en kom jou pragtige talent op sy sterkste na vore in hierdie werk