
Rooihoedjies en Rooikappies
Veronica is besig om dit te verloor. Sy sit in die middel ry in die minibus, nie eens langs ‘n venster nie, omring deur haar sewe Rooihoedjie vriende. En die massiewe pers rugsakke wat elkeen gekoop het vir hul toer. Miskien sou sy kon gewoond raak aan die klein spasie as die grootste treffers van Billy Joel nie die heeltyd gespeel het nie.
Sy hou van Billy Joel. Maar as sy weer “Honesty” moet hoor…
Die eindelose velde van die Engelse landskap word vervang deur die eindelose berge van Skotland en dit hou haar kalm. Die bietjie wat sy inelkgeval kan sien. Met Jade wat ‘n groot hoed dra in plaas van ‘n beret of beanie soos die res van hulle – behalwe vir Tarryn wat bestuur met ‘n groot hoed op wat haar laat lyk soos ‘n rampokker van die 1940s – is meeste van die venster geblok. En sy wil nie deur die ander een kyk nie. Thalia dra ‘n belaglike donserige pers baadjie wat op Veronica se senuwees werk. Asof die leerbroek wat die vrou dra nie belaglik genoeg is op haar ouderdom nie…
Veronica erken dat sy partykeer soos ‘n moeilike ou vrou klink. En sy was okay daarmee. Sy’t ‘n man geskei, sy’t twee seuns groot gemaak: sy’t ‘n leeftyd van alles reg doen en haar trots sluk om nou te sê wat sy bedoel en te voel soos sy voel.
Die mantel wat sy dra, stylvol en in ‘n pragtige skakering pers, is besig om haar te versmoor. Hoekom Marli en Jo daarop aangedring het dat die drie van hulle mantels moet dra gaan haar verstand te bowe. Veral omdat Jo besluit het om hare in rooi te maak. Veronica het gedink dat die punt was dat hulle drie bypassende uitrustings sal dra op hul toer deur die ewige nat eiland.
Sy luister net so half na die ander se geklets. Sy was nog nie gemaklik met hulle nie. Maar hulle is almal deel van die Red Hat Society – of Rooihoedjies – en is dus almal soos susters.
‘Ek’s mal oor hierdie liedjie!’ sê Jade toe “My Life” begin speel.
Jo begin te sing en die res volg haar voorbeeld – selfs Veronica. Toe die liedjie eindig en “Uptown Girl” begin, hou hulle net aan met sing. Dit was pret en ontspannend – met die nostalgie van skool kampe – om so saam te sing.
Teen die tyd wat “Only the Good Die Young” begin, is hulle so gewoond daaraan om alles te sing wat speel, dat Veronica nie seker is of enigiemand nog na die lirieke luister nie. Marli en Tarryn wat voor sit sing die hardste, met geen benul oor hoe die liedjie die ander beïnvloed nie.
Jo huil saggies. Jade huil snot en trane. Net die twee voor in die bussie sing not hul harte uit.
‘Arme ding,’ fluister Thalia. ‘Haar seun is dood in ‘n motorongeluk in sy vroeë twintigs.’
Veronica sluk die knop in haar keel weg. Charlotte en Nicole in hul bypassende truie wat hulle self gebrei het, probeer hul bes om vir Jo en Jade te troos.
Thalia reik uit na Jade oor Veronica se skoot en hou haar hand vas. Sy druk dit styf en kyk vir Jade asof sy absoluut verstaan waar deur die vrou gaan.
Die minibus gly skielik oor die pad en ‘n harde pop geluid kan van agter gehoor word. Veronica se hart klop vinniger as ‘n hoender s’n soos hulle donker lyne oor die teer maak.
Tarryn probeer haar bes om hulle veilig tot stilstand te bring en nie van die pad af te ry nie.
‘Wat was dit?’ vra Marli toe hulle eindelik stop.
‘Ek dink die band het gebars,’ sê Charlotte van agter af.
Hulle klim uit die bussie uit. Die koue lug is verfrissend na die hitte, trane en vrees daar binne.
Die agterste band lyk asof dit ontplof het. Hulle kon almal dood gewees het.
‘Ons moet vir hulp bel,’ sê Charlotte en haal haar selfoon uit haar handsak uit. Sy frons.
‘Wat is fout?’ vra Nicole.
‘Geen opvangs.’
Almal skarrel om hul selfone uit te kry.
Veronica sug mismoedig toe sy sien dat haar selfoon homself afgesit het. Vir een of ander lawwe rede doen die ding dit wanneer daar geen sein is nie.
‘Ons sal maar moet wag totdat iemand hier verby kom,’ sê Thalia hulpeloos.
‘Nonsens!’ Veronica voel sommer woedend. Sy het nie vir dekades in die man-gedomineerde arena van bemarking gewerk om so hulpeloos langs die pad te sit terwyl sy weet hoe om ‘n wiel te ruil nie. ‘Kry julle goed uit die bussie. Ons kan hierdie ding self ruil.’
Die twee in bypassende truie klim in die bussie in en stoot die kattebak van binne af oop terwyl Tarryn die sleutel gedraai hou en Marli die deur oop trek. Veronica het geen vertroue in Tarryn se seun se vermoë om enigiets reg te maak nie – hy het die minibus onder oë gehad en tot dusver het dit meer probleme veroorsaak as wat dit werd is. Maar om net vir petrol te betaal het soos die goedkoopste opsie geklink…
Hulle pak die rugsakke uit ‘n entjie van die bussie af. Veronica dink die versameling rugsakke lyk so laf soos die een in “Hotel Transylvania”. Die fliek wat haar kleinseun haar maak kyk het was ten minste snaaks. Sy kan geen humor in hul huidige situasie sien nie.
Veronica verwyder haar ringe en sit dit in haar handsak. Sy was nie van plan om die lawwe pers en rooi steentjies in die ringe wat sy spesiaal vir Rooihoedjie uitstappies gekry het te krap nie. Sy haal ook haar sonbril af omdat dit te donker begin word met die wolke wat toetrek. Die ander haal ook hul bypassende sonbrille af.
Sy kry vinnig die bussie in die lug, maak die eerste drie skroewe los en voel heel ingenome met haarself. Sy kan kan al klaar sien hoe hulle ‘n drankie klink in die volgende dorpie oor haar asemrowendheid.
Die laaste skroef sit vas.
Sy wikkel die skroefsleutel; sy sit al haar gewig agter dit; sy staan selfs op dit. Maar dit weier om te beweeg.
‘Laat ek probeer,’ bied Nicole aan.
Veronica staan terug en gee die ander vrou ‘n kans. Maar sy kry dit ook nie los nie. Almal probeer, selfs Thalia.
‘Kom ons probeer dit saam,’ stel Charlotte voor.
Net vier kan op ‘n slag saam werk. Hulle trek en hulle druk, maar die skroef weier om te beweeg.
Die kante begin glad te word en die skroefsleutel kan nie meer die skroef behoorlik vasvat nie.
‘Duidelik vasgeroes,’ sê Jade.
‘Wat nou?’
‘Voordat ons alle kans om die skroefsleutel te laat werk verloor, laat ons dit probeer los slaan,’ sê Veronica.
‘Ons kan probeer.’
Veronica vat die skroefsleutel en begin op die geroeste skroef te kap. Die ander klap ‘n ritme met hul hande uit en begin “Uptown Girl” te sing. Veronica kners haar tande; sy was absoluut gatvol vir Billy Joel liedjies. Ten minste het hierdie een ‘n goeie ritme saam met die lirieke. Hopelik is dit genoeg om die geroeste skroef los te kry.
Toe die liedjie eindig, vat sy die skroefsleutel en probeer weer.
Die skroef sit nog vas.
‘Wat van hitte?’ vra Jade.
‘Dit werk vir stram deksels,’ sê Tarryn.
‘Waar gaan ons hitte kry in hierdie koue?’ vra Charlotte.
‘Ons kan dit jump-start,’ stel Jo voor.
‘Dit sal nie genoeg wees nie,’ sê Marli en gluur vir die skroef.
‘Wat van iets om dit aan te help?’ vra Thalia.
‘Petrol?’ vra Nicole ‘n bietjie histeries.
‘Net ‘n paar druppels – dit behoort genoeg te wees om die skroef los te kry,’ sê Jade en hou die skroef deur vernoude oë dop.
‘Tarryn? Dis jou seun se bussie,’ sê Marli.
‘Kom ons doen dit,’ stem Tarryn in met ‘n wilde kyk in haar oë.
Sy karring met haar rugsak en haal ‘n wattebolletjie en flos uit.
Veronica skud haar kop soos sy hulle dophou terwyl hulle die flos om die watte vas maak en dit in die spaar petrol houer indip. Sy het ‘n slegte voorgevoel oor dit als.
‘Gereed?’ vra Marli vir Jo wat die jumper cables beet het.
‘Ja,’ antwoord sy met ‘n bewende stem.
Tarryn het klaar die skroef met petrol gesmeer. Sy vat die jumper cables van Marli af, die punte knetterend met elektrisiteit. Soos sy dit aan die skroef raak, gooi dit haar terug en hulle hoor ‘n zap van waar die elektrisiteit met die skroef in aanraking gekom het.
Almal hardloop om vir Tarryn op te help.
Veronica hoor ‘n klein ontploffing. En die minibus is oortrek met vlamme.
‘A, ons moes dalk nie vonke so naby aan die petrol tank gemaak het nie,’ sê Jade soos hulle hul enigste vervoer dophou soos dit opbrand.
‘Michael gaan my vermoor,’ kreun Tarryn.
‘Hy gaan ‘n aanval kry. Dalk vir die volgende dekade nie met jou praat nie, maar ek dink nie hy gaan jou vermoor nie,’ probeer Marli troos.
Donderweer brul. Dit her donkerder en kouer geword soos hulle probeer het om die onmoontlike wiel te verwyder.
‘Ons moet beskutting vind,’ sê Thalia en hou die lug bekommerd dop.
‘Hoekom? Gaan jy smelt van ‘n bietjie reën?’ vra Veronica.
‘Nee. Maar as daar weerlig is…’
‘Hierdie rotse gaan baie weerlig trek.’
‘In elk geval, op ons ouderdom is dit heel moontlik dat ‘n bietjie reën ons dood kan veroorsaak.’
‘Soos Marianne in “Sense and Sensibility”,’ antwoord Tarryn met wye oë.
‘Dit sal aaklig wees.’
‘Ja. Veral omdat ons nie vir Colonel Brandon het om ons te red nie,’ voeg Marli by.
Almal sug. Behalwe Veronica. Ja, sy het die fliek geniet. En die boek. Maar om dagdrome te hê oor ‘n dromerige Colonel Brandon gaan hulle nie help nie.
‘Wat was dit?’ vra sy en staar in die verte in.
‘Lyk soos ‘n ruïne,’ antwoord Jade.
‘Dit kan dalk beskutting vir ons hê,’ antwoord Thalia onwillig.
‘Ons gaan nogal ‘n ent moet loop,’ sê Marli en kyk na Thalia se knie-hoogte leerstewels wat mooi hakke het – maar nie gemaak is vir loop nie.
‘Ons sal dit maak,’ antwoord Tarryn wie pers enkelstewels aan het wat ook mooi hakke het.
Veronica was dankbaar vir die militêre-tipe stewels wat Jo vir hulle gevind het. Selfs die pers veters pla haar nie meer so baie nie.
Hulle het almal hul rugsakke op. Die donderweer hou aan brul soos hulle loop na die ruïne. Alhoewel die lopery hulle warm hou, is Veronica dankbaar vir die mantel wat die yskoue wind uithou. Meer donderweer en weerlig maak haar ‘n bietjie skrikkerig. Sy trek die gebreide beret oor haar ore en bid om nie dood te gaan nie.
#
Die ruïnes stel teleur. Daar is mure, maar geen dak nie. Rommel keer dat hulle behoorlik kan ingaan. Maar om weg te kom van die slegte weer, moet hulle dit in maak.
Hulle klouter oor die rotse en rommel en vind ‘n droë plek binne die ruïne. Hulle pak hul rugsakke teen die muur. Dit was koud. Jo karring met haar selfoon.
‘They tell you, you can’t sleep alone in a strange place. Then they tell you, you can’t sleep with somebody else…’ sing Nicole en Charlotte.
Hulle lyk in die halflig soos dieselfde persoon vir Veronica. Sy het nog altyd van “My Life” gehou, maar tussen die grillerige plek waar hulle is en die twee in bypassende uitrustings wat dieselfde begin lyk, is sy nie seker of sy ooit weer daardie liedjie kan geniet nie. As hulle dit lewendig deur maak.
Dit voel vir Veronica asof iemand hulle dophou.
Thalia sit op ‘n rots en hou haarself vas. Dit was seker koud in die moulose baadjie wat sy dra. Marli, Tarryn en Jade maak stokke en goed bymekaar om ‘n vuur te begin. Veronica het klaar rotse in ‘n sirkel gesit sodat die vuur nie kan ontsnap nie.
‘Kom,’ sê sy vir die ander. ‘Die heide behoort mooi te brand.’
Hulle gaan uit, die weerlig nog steeds skrikwekkend, om van die fynbos te kry. Veronica hou van die reuk van die blomme en kan haar net indink hoe lekker dit op ‘n sonnige dag ruik.
Die heide brand warm en hou die koue weg toe dit begin reën. Dit gee ook baie lig. Maar Veronica is steeds bang vir dit wat hulle van buite die kring lig kan dophou. Ten minste het Nicole en Charlotte ophou sing.
‘So ons bly hier vannag?’ vra Jo en sit eindelik haar selfoon terug in haar handsak.
‘Ja,’ antwoord Marli.
‘Ten minste het ons slaapsakke,’ sê Tarryn.
‘Asof ons gaan kan slaap,’ sê Veronica bitter.
‘Hier,’ Jo gee ‘n fles aan vir Veronica. ‘’n Paar slukkies hiervan en jy sal gou genoeg ontspanne genoeg kan wees om te kan slaap.’
Al dink sy nie dis ‘n goeie idee nie, vat sy in elk geval ‘n sluk van wat sy dink tequila is. Dit brand soos brandewyn. Die enigste manier wat sy aan die slaap kan raak is as sy die hele fles se inhoud op haar eie gaan drink.
Donderweer brul en rotse val van bo af net buite hul lig kring. Vir Veronica lyk dit asof iemand intensioneel die rotse afgestoot het.
‘Moes seker los gewees het,’ sê Charlotte en gee die fles aan vir Nicole.
#
Miskien is dit die tequila, maar Veronica is seker daarvan dat sy gloeiende oë in die donkerte kan sien wat hulle dophou.
Die pers rugsakke begin te beweeg. En te dans. Veronica skud haar kop. Dis onmoontlik.
‘Nee. Dis nie moontlik nie,’ sê Jade oor en oor en hou haar oë toe.
Dit word donkerder buite hul lig kring. Die rugsakke hou aan dans.
‘Ek begin om vir Billy Joel te mis,’ sê Jo toe weerlig dinge net meer vreesaanjaend maak.
‘Jy is die een wat die meeste gekla het,’ sê Tarryn sonder veel byt.
Hulle ignoreer hul dansende rugsakke.
Die gedruis van rotse wat skuif maak dat Veronica op kyk.
Vreemde, uitgeteerde ou mans omsingel hulle. Hulle het uitgedunde baarde, dra ysterpunt skoene en rooikappies. Hul oë skyn soos katte s’n in die donkerte.
‘Rooikappies,’ adem Jo.
Veronica is nie seker nie, maar dit klink asof haar vriendin weet wat hulle na kyk.
‘Hulle is feë wat ou kastele op die grenslande bewaak,’ verduidelik Jo.
‘Dan moet ons gaan.’
‘Dis bloed,’ sê Jade en staar na die klein mannetjies se kappies. ‘Dis deurdrenk met bloed.’
Veronica voel koue in haar wat niks te doen het met die reën nie.
‘Ons moet nou hier uit!’
‘Maar die reën…’ Thalia bly stil toe die Rooikappies nader kom.
‘Lekker mense,’ sê een van die Rooikappies.
Al agt vrouens met hul rooihoedjies staan nader aan mekaar en kyk vir die Rooikappies wat hulle omring. Selfs van die mure afhang…
‘Ons moet hulle uitoorlê as ons wil ontsnap,’ fluister Jo. ‘Anders is ons dood.’
Nicole piep.
‘Billy Joel,’ sê Veronica.
‘Sal ons hul vel…?’
‘Ek het ‘n raaiself vir julle om op te los,’ val Veronica hom in die rede.
‘’n Raaisel?’ vra hulle heel geïntereseerd.
Sy is bly dat haar kennis oor feë wat van raaisels hou nie net ‘n sprokie is nie.
‘Ja. Julle kry drie kanse. Ons gee julle net twee leidrade,’ sê sy en hou die leier van die bende dop.
‘Klink regverdig,’ antwoord hy.
‘As julle nie ons raaisel kan uitwerk nie, gaan ons ongeskonde van hierdie plek.’
‘As ons nie julle raaisel kan oplos nie, sal ons selfs toelaat dat julle jul vingers hou.’ Die Rooikappies lag.
Veronica maak haar keel skoon en begin te sing. Die ander rooihoedjies val in.
‘The manager gives me a smile. Because he knows that it’s me they’ve been coming to see, to forget about life for a while.’
‘Wie praat ons van?’ vra sy. Sy kan die spanning van haar vriendinne voel.
Die Rooikappies gluur vir hulle. Veronica verstaan: dis nie ‘n welbekende liriek nie.
‘’n Eksotiese danser,’ raai een van die Rooikappies.
‘Dansers sing nie, idioot!’ sê die leier van die Rooikappies en slaan die ander fee met sy vuis. ‘Gee ons die volgende leidraad.’
Veronica knik en sing:
“We’re all in the mood for a melody, and you’ve got us feeling alright.”
‘’n Sanger, natuurlik,’ sê die leier van die Rooikappies.
‘Nee,’ antwoord Veronica, bly dat die antwoord nie so maklik is nie.
Die Rooikappies grom en gluur. Hulle konkel in harde fluisterstemme.
‘Elton John,’ sê hulle triomfant.
Veronica se mond verander in die glimlag wat sy so baie gebruik het in haar jare wat sy in ‘n man-gedomineerde wêreld gewerk het.
‘Ongelukkig, nee. Hy is goed.’
‘Dan wat is die antwoord?’ dring die Rooikappie aan.
‘Piano Man,’ antwoord sy.
‘Argh!’ gil die Rooikappies.
‘Ons het ‘n ooreenkoms.’
‘Gaan. Ek hoop die weerlig brand julle op,’ sê die leier van die Rooikappies.
‘Kom ons gaan. Gou, voordat hulle terug gaan op hul woord,’ sê sy vir haar vriendinne en gryp haar rugsak.
Hulle loop so vinnig soos hulle kan in die donkerte en probeer om nie op die nat pad te gly nie. Ten minste is dit nou net ‘n sproeireën.
Veronica is eintlik bly dat hulle na die grootste treffers van Billy Joel geluister het vandat hulle London verlaat her. Wie sou nou gedink het om na dieselfde liedjies oor en oor te luister sou hul lewens red?
Toe hulle naby die uitgebrande minibus kom, kon hulle sien dat daar twee karre langs dit staan.
‘Hi,’ sê ‘n jong man. ‘Is dit julle voertuig?’
Hulle knik stom.
‘Ons het dit myle weg sien brand,’ sê die ander man. ‘Ons het gekom om te help.’
Veronica is verlig. Sy kan die verligting in die vorm van giggels van haar vriendinne hoor.
‘Kom ons kry julle in die dorp,’ sê die eerste man.
Hul toer deur Brittanje het uitgedraai om net so vol avontuur en opwinding te wees as wat Marli belowe het. Tog is Veronica seker dat die brandende minibus en Rooikappies nie op hul toerplan was nie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2018 - OOP projek