Drieankerbaai (Opdrag 1)
nooit weer die galsmaak van bitter bessies nie
geen leë eggo’s van soetseer liefde nie
ek het gedink ek ken die pyn
van vreesloos, kaalvoet oor dubbeldorings loop
in die spieëlskerwe van jou iris
kon ek ook my hart sien breek
hoe absoluut alleen en finaal was elke tree toe jy vir oulaas die grootpad na Drieankerbaai gestap het?
toe die golwe troostend jou liggaam soos varings omvou het?
en jy in dowwe donker eensaamheid versink het?
ek het gewens dat jy weer sou glimlag soos ʼn oopgebreekte granaat
en dat jy met die nuwe dagbreek sou dans
met ʼn pouveer in jou hoed
dat jou eggo’s met vreugde sou antwoord
en Ingrid,
jou woorde lê nou uitgespoel as lafenis vir elke gebroke hart
ek vind jou voetspore
op al die plekke
waar ek ook al eenmaal was
© Nadia Nagel
17 Kommentare
-
-

Anze
Pragtig, dankie vir jou deelname aan die Pendoring 2 / INK kompetisie
-

Callie Vermeulen
Nadia, dit is pragtig verwoord! Hou daarvan... baie.
-

Barbara
jip, sy het regtig unieke spore getrap
-

Caren Kearley
Ai, dis kosbaar. Hou van jou vergelykings.
-

Loretta Szikra
Pragtige gedig Nadia.
-

Elroux
Lieflike gedig Nadia
-

Viooltjie
Goed geskryf, Nadia 😃
-

Driekie
Baie mooi neergepen.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Ryno Rossouw
So mooi geskryf. ❤️