Jongste aktiwiteit:

KOSMOSVREUGDE (SILWER – 398 WOORDE)

Die mensdom is nie gemaak om alleen deur die lewe te gaan nie, ons het mekaar nodig, dalk meer as wat ons ooit sal besef. Soms gebeur goed tussen vriende, waarvan baie dalk net ‘n misverstand is, wat veroosaak dat ons uit teleurstelling en/of woede ons rug op kosbare vriende of familie draai.
Dan kom daar ‘n tyd van diepe oordenking en introspeksie oor die waarde agter vriendskap en versoening, ‘n kosmostyd!
Die geheim van vriendskap lê daarin dat jy slegs daaruit kry wat jy bereid is om in te sit!
‘n Saadjie van vriendskap word gesaai en dan hang dit van jou af in watter toestand die grond is waarin dit val.
Soms is dit ‘n saadjie wat in brakgrond val, grond wat vir jare onbewerk gelê het en deur die Beskikker bedoel is om weer nuwe krag en lewe daaraan te gee, ‘n vars seisoen daaraan te verleen.
Ander kere val die saadjie dalk in mara-water, wat deur omstandighede mettertyd bitter en ondrinkbaar geword het, om dit weer soet en smaaklik te maak.
Maar wanneer dit val in gesonde, ontvanklike grond, sal die saadjie gou ontkiem, genoeg water en liefde kry, van beide kante, en groei tot ‘n welige, pragtige boom, waarvan die bewerkers daarvan, die vriendskapsvrug ten volle sal kan geniet.
Maar ongelukkig leef ons in ‘n wêreld vol onreg, haat, nyd, seerkry, jaloesie en vergelding, alles elemente wat daarop uit is om enige vorm van vreugde, liefde en goedgesindheid in die kiem te smoor.
Genadiglik lê die keuse by elkeen van ons wat ons met hierdie vriendskapsaadjies (wat deurgaans en soms ongemerk gesaai word) doen. Troetel en versorg ons dit met die nodige aandag en liefde of ignoreer en verwaarloos ons dit om later ‘n verdroogte boom sonder vrugte te vind.
Die samesyn van vriende verleen kleur en geur aan die lewe. ‘n Kosmosveld wat sponstaan blom.
Dink net hoe saai sou die lewe wees as ons elke dag net in ons eie gesig moes vaskyk en ons eie stem in ons ore moes hoor. Daar is nogal ‘n spesiale naam daarvoor – EENSAAM!
Bewerk jou sielsgrond, spit dit gereeld om en gee dit genoeg gesonde kompos, sodat dit ontvanklik is vir elke onverwagte vriendskapsaadjie wat kan groei tot ‘n skaduboom waaronder jy rus en vrede kan vind en waarvan jy die soet geurige vrugte in samesyn kan geniet.
©Driekie Grobler




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak