Formidabele vrou
Diep in die donker nag
met draai van uurglas
hingel my gedagtes
in huiwerende trag
oor grense en gebeure
wat deurskif uit geheue.
Moeders in hierdie tyd
wat verskeie skoene volstaan
met (on)sekerheid in raakvat-hande
wankellose tred
dapper ankerstaan
om in voorste linies te veg
vir selfbehoud en eie reg.
Waarheid lê verskuil in worsteloë –
waar pyn en seerkry stilte golf
magteloosheid wriemel
kommer kromtrek
in daaglikse worstelstryd
wat pêrelstoot in verborgenheid.
Hul omgee-strewe ongekend
hul siel met liefde oordek
klein klippies in ʼn groot dam
wat wyd (tot in oneindigheid) uitkring
ʼn wil vas en sterk
om daagliks te maak hul merk
al is hul tans ingeperk.
Hierdie ode aan elke
moeder, eggenoot, beroepsvrou
voorloopvrou, bymekaarhouvrou –
die wêreld sien slegs die sukses
is onbewus van nagtelike onrus
smeekgebede vir voorspoed en sielerus
in die wete oor wie en wat hul werklik is
wáár hul krag en hulp vandaan kom
dat môre se toekoms en sukses
geborge lê in snags se stilwees en wroeg
om bedags te kan regstaan en presteer
gereed vir elke uitdaging se swoeg.
Kwaliteit in menige vrou
wat daarna streef
om ʼn verskil te maak
nie net stilsit en wag
dat godswater oor godsakker vloei
maar self saai en arbei
vir voorspoed en groei.
Dankie aan elke formidabele vrou!
©Driekie Grobler
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2020 – OOP projek