Môre se pad
As ek my môres kon mooimaak
in nou se hart
sou ek eers wag tot ons dryfsand
stilraak in die uurglas;
sodat ek net een heel korrel
van daardie aand kan verewig
voordat jou halfsirkels my toegroei
en ek vergete in jou verlorenheid val
ek sou tyd nie toelaat
om leeg te loop
oor my moeg geblaaste asem nie –
want hoe langer ek
sonder jou hand in myne
vir gister blaf
hoe meer raak alleenmymer
‘n tong wat rou wonde ooplek.
Ja, as ek maar net ons naak stiltes
in ‘n bottel vol vars soene kon inlê
sou môre miskien ook nóú kon mooiwees.
© 2018 Caren Kearley
Kopiereg Voorbehou
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2019 projek - TYD