Strandgedagtes
Soms sit jý lank op die strand
met jou tone diep in die seesand
waar heel branders breek –
tussen wolke, die son
en ‘n perfekte horison.
Jy haatlief ‘n wêreld
wat mensvolmaak
aan niemandslippe hang,
en vra jouself af:
“Wat het van jóú geword?”
Jy sien hoe die vrees van leegwees
skuimend oor ‘n ander se siel breek
die kleure waarin jy dink
hang rotsvas aan elke brander
wat onder ‘n golf begrawe word
– die lewe is tydrowend
soos hoogwater
wat vir laagwater wag
en jy voel hoe ‘n ewigheid
oor jou dood
soos die eb van die oseaan;
maar jy sit lank op hierdie strand
en wonder of môre anders kan wees.
© 2018 Caren Kearley
Kopiereg voorbehou
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.